|
Interkom
Sitkamer van die koshuis. Melissa, 'n mooi meisie met bruin hare en 'n
besonderse kort skoolrompie loop heen en weer oor die vloer. Haar hare is opgedoen
en haar hemp hang oor haar romp. Sy het donker ooggrimering aan en haar das is
losgemaak. Sy lyk angstig en kyk kort-kort verby die verhooggordyn. 'n Blonde
meisie, Wilmien, verskyn op die verhoog. Sy dra 'n prefektebaadjie en lyk netjies
in haar skoolklere. MELISSA:
(gesig helder op en sy klink baie aansitterig) Wilmien, my ou vriendin!
Hoe gaan dit?
WILMIEN:
(rol haar oë en sug) Wat soek jy nou weer, Melissa? Jy weet ek stel
nie belang in jou welsyn nie.' MELISSA:
(lyk ewe skielik opreg, loop na Wilmien, vat haar hand, en lei haar om te sit
op die bank) Wag, nou, Mien. Ek en jy het al ons verskille gehad, en ek was
seker verantwoordelik daarvoor, maar
WILMIEN:
(ruk haar hand weg, trek haar oë op skrefies en staan op) Ons ou verskilletjies!
Noem jy dreigboodskappe en skelname in die openbaar verskilletjies? Jy is 'n slang,
en jy was al een van standerd ses af. En noudat ek 'n prefek is, is jy so bitter
soos koffie sonder suiker. Jy was mos veels te beroemd om nie die leerlingraad
te maak nie
MELISSA:
(kyk weg van wilmien se blik af, en skuif in haar sitplek sodat haar rug na
Wilmien wys) Ek probeer vir jou jammer sê, en dan gooi jy die prefek-ding
in my gesig. Het jy al ooit daaraan gedink dat ek wens ek kon jy wees? Jy het
alles
vir Ben, die prefek-baadjie en jou ouers haat mekaar nie soos myne
nie. WILMIEN:
(praat met die dak) hemel tog! dat jy nou sulke loutere twak sal praat!
Ek ken jou. (Kyk na Melissa en wys met haar vinger) Jy drink veels te lekker
om ooit 'n prefek te wou wees, daar is vrek baie waar Ben vandaan kom en jou ouers
gee vir jou alles wat jou hartjie begeer! Wat probeer jy bereik met hierdie gesprek? MELISSA:
(spring ook nou op, gryp vir Wilmien aan haar skouers en draai haar sodat hulle
mekaar aangluur) Ben was my ou. Jy het hom afgevry en ek dink jy is die slang. WILMIEN:
(ruk haarself los en lyk spyt. loop na die voorkant van die verhoog) Ek
dag ons is nou al mooi groot. Dat twee sewentienjariges baklei oor 'n ou, is 'n
helse grap. MELISSA:
Ek weet dit. En ek probeer met jou vrede maak. Ben is dit nie alles werd nie. (Daar
is 'n paar oomblikke van stilte.) WILMIEN:
(Haar stem raak sagter en sy lyk skaam terwyl sy na die vloer kyk en met haar
voet daarteen vee.) Ek en Ben het eers saamgekom nadat julle twee uit is.
Jy weet ek het nie alles beplan nie, né Mel? MELISSA:
(sug en gaan sit weer) Ek het dit seker die hele tyd geweet. WILMIEN:
(gaan sit ook en leun terug in die bank) Kom ons begin oor. Ek mis die
ou dae toe ons nog hier gesit en skinder het. MELISSA:
(kyk na die luidspreker van die interkom en glimlag skelmpies. Kyk weer terug
en die glimlag verdwyn) Okay. Waaroor wil jy skinder? WILMIEN:
O genade, sommer oor hierdie hele koshuis. Die mullet-meisies daar op die tweede
vloer, ou juffrou Griesel se nuwe spanner van 'n mannetjie wat gereeld hier oorslaap
. MELISSA:
(skuif na die voorpunt van die bank, haar oë groot en opgewonde) Het
jy ook gehoor van Ryan wat gevang is met dagga? WILMIEN:
Ja, ek het so-iets gehoor. Hy het voor my eenkeer gerook... hy sal sy plek in
die rugbyspan kwyt wees as ek vir iemand belangrik sê.... MELISSA:
Toemaar, ou Griesel kan jou nie hoor nie. Dit sal 'n sonde wees teen die vroulike
geslag as hy geskors moet word. WILMIEN:
Hmmmm! Wat 'n mooi man is hy nie
. maar 'n stouter ook! Hy vry heeltemal
te letterlik in die bondel. Sy laaste prooi was mos Gerrida Lourens, jy weet mos
daardie vettetjie op ons gang? En hy en Gerrida se kamermaat is mos veronderstel
om 'n paartjie te wees
MELISSA:
O
so Gerrida knyp haar kamermaat se kat in die donker? WILMIEN:
Glo my, van die stories wat Gerrida my al vertel het, knyp sy ook maar 'n paar
ander katte. Ek weet nie hoe sy dit regkry nie- met daai lyf het sy seker ander
talente
. MELISSA:
So niemand weet van Gerrida en Ryan nie? Wat sou gebeur as die kamermaat moes
uitvind? WILMIEN:
Die hel sal losbars in daardie kamer. En ek sal kniediep in die kookwater wees
as die storie uitlek
Dit herinner my, moenie vir iemand sê nie.. MELISSA:
(klink heeltemal oordrewe) Wie, ek? WILMIEN:
Jy weet mos stories versprei hier soos 'n veldbrand in die Karoo. MELISSA:
(Lyk baie selfvoldaan. staan op en loop stadig agter die bank verby tot agter
wilmien terwyl sy praat) Ek stem saam. Jy moet mos maar versigtig watter geheime
jy aan 'n slang verklap... WILMIEN:
(haar oë vernou. sy staan op en tree stadigaan agteruit) Jy't dan
gesê jy gaan niks sê nie. MELISSA:
(loop stadig, maar doelgerig na Wilmien en tik haar teen haar skouer) Ek
sal niks sê nie, my ou vriendin.Dis net jammer vir jou dat die koshuisinterkom
nog die hele tyd aan was... (sy wys na die interkom) WILMIEN:
(oë rek, slaan haar hande na haar hare en raak histeries) Wat!? Wat?
Jy lieg! Ek weet jy lieg... MELISSA:
(lag kliphard) Jy wens, mevrou prefek! Kyk wie's nou beroemd, of sou ek
sê berug? WILMIEN:
(haal 'n paar keer diep asem en hou haar kop hoog) Ek hoop jy weet dat
jou lae houe nie vir Ben gaan terugbring nie. Of jou ouers gaan terugbring bymekaar
nie. En hier is die beste een: Jy bly 'n slang, al vang jy 'n arend! (storm
uit) (Melissa
bly staan in geskokte stilte. Gordyn sak.)
Kopiereg: Carine du Preez
|