|
Romeo
en Juliet 2: Die Hiernamaals
(Die ligte kom aan. In die middel is daar 'n park-bankie. JULIET
kom op.Sy is alleen, bang. Sy het 'n mes wat by haar maag uitsteek. Sy is op soek
na ROMEO.) JULIET:
Romeo! Romeo? Waar is jy tog my Romeo? ROMEO:
(af) Juliet? (ROMEO
verskyn uit 'n donker vleuel uit. Hy is so wit soos 'n laken.) ROMEO:
Juliet! (Hulle
hardloop na mekaar en wil mekaar omhels, maar die mes in Juliet se maag keer hulle.) ROMEO:
En dit? (wys na die mes) Is dit 'n fashion statement of iets? JULIET:
(kyk af) O, ja. Hou jy daarvan? Ek het dit vir jou gedoen. ROMEO:
Dit is so cool! En dit pas so mooi in hierdie plek se modes in. JULIET:
Ek het so opgelet. Die mense hier is so gevrek. Waar is ons? ROMEO:
Ek
ek is nie seker nie. (Hulle
gaan sit op die bankie.) ROMEO:
Kom ons sien. Toe ek laas by was, was jy dood. Toe drink ek 'n botteltjie gif
JULIET:
Nee, jou idioot. Ek was nie dood nie! Blêddie tipies mansmens. Ek kan nie
my oë vir 'n minuut rus nie dan dink jy daar is fout. ROMEO:
Wil jy vir my sê ek het verniet daardie aaklige Rattex gedrink? JULIET:
Ja, jy het. En nou moet ek ook met die nagevolge saamleef. (Sug) Ai, die
dinge wat 'n mens nie vir liefde sal doen nie. ROMEO:
Kom weer? Wat presies het jy vir liefde gedoen? JULIET:
O, ja. Jy weet mos nie! Toe ek jou so leweloos daar sien lê het ek myself
doodgesteek. (Sy wys af na die mes.) ROMEO:
Regtig? Dit is so sweet van jou! As dit nie vir daai mes was nie het ek
jou nou gedruk. JULIET:
Daar is ook nog 'n ander probleempie: ons weet nog steeds nie waar ons is nie.
(Sy sien iemand verbyloop.) Daar
gaan Macbeth nou. Gaan vra hom. ROMEO:
Juliet, asseblief. Ek kan dit self uitfigure. (Stilte.
Romeo sit en dink waar hulle is. Juliet lyk ongeduldig.) JULIET:
Weet jy al? ROMEO:
Nee. (Nog
'n stilte.) JULIET:
En nou? ROMEO:
Nee. (Juliet
vererg haar.) JULIET:
Aag, as ons op jou manlike instinkte moet staatmaak gaan ons vir ewig hier sit.
Gaan vra die man nou! ROMEO:
Vergeet dit! Net swakkelinge vra vir aanwysings. (Juliet
vererg haar self weer.) JULIET:
(spring verwoed op) My ma het altyd gesê as jy iets gedoen wil hê,
moet jy dit self doen. (Sy
loop na die denkbeeldige Macbeth.) Meneer,
kan jy my asseblief sê waar ons is? (Sy
kom doodstil, geskok terug na Romeo. Hy kan sy nuuskierigheid nie meer hou nie.) ROMEO:
Wat's fout? Wat sê hy? JULIET:
Ons is
ROMEO:
Wat? Waar is ons? JULIET:
Ons is in die
die Hiernamaals. ROMEO:
Nee! Dit kan nie wees nie! Ek het my hele lewe nog voor my gehad! Ek is te jonk
vir die plek! Dit is als jou skuld! JULIET:
My skuld? Hoe verwag jy dat jy gaan bly lewe na jy 'n hele bottel gif gedrink
het? Dis als jou skuld dat ons nou hier sit!
ROMEO: Stop playing the victim! As dit nie vir jou lewelose lyfie was nie sou
ek nie my mond aan die goed gesit het nie. JULIET:
Ek het dit gedoen vir jou! Vir ons! ROMEO:
Ja, en kyk wat het gebeur. Nou is ons altwee so dood soos mossies. Pushing up
daisies JULIET:
Die emmer geskop. Die lepel in die dak gesteek. ROMEO:
Oukei
JULIET:
As tot as. Wurmkos! ROMEO:
Oukei! Ek kry die prentjie! (Hulle
sit weer op die bankie.) JULIET:
Darem is ons saam. ROMEO:
Vir altyd
JULIET:
En ewig
ROMEO:
Tot in lengte van dae
JULIET:
Sonder 'n amen! (Hulle
is glad nie so entoesiasties as wat jy sou verwag nie. Hulle skuif al verder van
mekaar af weg met elke 'vir ewig' en 'vir altyd' ens. Dan is daar 'n lang stilte
soos die ligte uitdoof.) JULIET:
Wel, daar is tog een ligstraaltjie. ROMEO:
Wat is dit? JULIET:
Ons hoef nie meer in rympies te praat nie. (Ligte
doof totaal uit.)
Kopiereg: Paul
Raath en Zandi Nothnagel
|