|
Die
boek en die hoed van Donkerwoud
MARINDA: (Loop in 'n sirkel met haar vinger wat wys en mompel onderlangs.)
Ek sal daai Kleintoon wys. Daai hoed is hier iewers. Ek is die slimste en die
sterkste towenaar nog. As ek daai boek kry beter hy hol! (Karel
en 'n kaboutermaatjie verskyn tussen die bome. Die maatjie is bang om te beweeg
al wys Karel hy moet kom.) KAREL:
Sy sal niks aan jou doen nie. Sonder haar boek is sy 'n swak towenaar. MAATJIE:
Ek weet nie, Karel. Sy is die kwaaiste towenaar in die woud. Ek bly eerder weg
van haar af. Kyk wat het sy met jou hoed gedoen. (Vat benoud aan hoed.)
Wat van as sy my hoed ook vermorsel? KAREL:
(Fluisterend) Sy het nie my hoed vermorsel nie. Kom ek wys jou. (Maatjie
stap versigtig nader. Marinda sien Karel en skree soos 'n kraai.) MARINDA:
Daar is jy Karel Kleintoon, wat het jy met my boek gedoen? KAREL:
(Frons erg kwaai.) My naam is Karel Kleintoor, nie Kleintoon nie. Toor
soos 'n towenaar. En eendag gaan almal my Karel Groottoor noem. Ek gaan die beste
towenaar in die woud word. (Lag skielik.) Nou, Marinda Hoogag, waar is
my hoed? As jy my nie my hoed gee nie, gee ek nie jou boek nie. Dis wat die boomkoning
gesê het. MARINDA:
Ek sal daardie hoed kry en dan bars jy piepklein Kleintoon. Dan bars jy... KAREL:
(Lag weer en hou sy maag vas.) Is jy seker jy het dit hier gelos Marinda
Hoogag? Jy het seker vergeet waar jy dit gesit het. MARINDA:
(Skree hard terwyl sy op en af spring. ) Ek vergeet nooit, nooit! (Karel
lag vir Marinda. Die kabouters loop weg, maar skielik roep Karel se maatjie uit.
Hy wys na 'n groen hoed wat agter 'n groot rots staan.) MAATJIE:
Daar! KAREL:
(Trek sy maatjie vinnig weg. Marinda het niks agtergekom nie. Sy loop nog
in die rondte.) Sien jy, daar is my hoed. Ek het dit self daar weggesteek.
MAATJIE:
Toemaar, ek sal dit gaan haal. KAREL:
(Gryp sy maatjie se arm.) Nee! As Marinda sien ek het my hoed moet ek die
boek teruggee. Sy dink mos sy is nooit verkeerd nie. Nou gaan sy verewig in 'n
sirkel loop en soek na my hoed. En ek gaan die boek hou. MAATJIE:
(Skud sy kop en begin wegloop.) Ek sal eerder my hoed wil hê as 'n
simpel boek. (Karel
bly agter en kyk verlangend na sy hoed. Hy gee 'n tree in die hoed se rigting,
maar stop dan, skud sy kop en loop vinnig weg. Voor Karel tree 'n boom skielik
in en Karel skrik hom flou. Hy roep uit en hou sy bors vas waar sy hartjie onstuimig
klop. Marinda sien die boomkoning en buig haar lyf en skerm met haar hande asof
sy bang is vir hom.) KAREL:
O, Boomkoning, dit is U boombaarheid. Ek het so groot geskrik. (Loop agteruit
en probeer die hoed met sy lifie wegsteek.) Ek het net kom kyk of Marinda
my hoed gekry het. BOOMKONING:
(Leun dreigend nader terwyl hy diep frons.) Karel, Karel Kleintoor, dink
jy ek is doof? Die houtkappertjie het net gister my ore oopgeboor. Ek het alles
gehoor. Alles. Alles. (Leun nog nader.) KAREL:
(Vou sy armpies astrant en vergeet amper om die hoed weg te steek.) En
wat het u boomagtigheid nogal gehoor? Ek weet van niks nie. BOOMKONING:
Dat jy die hoed weggesteek het Karel Kleintoor. MARINDA:
(Skree hard.) Wat! KAREL:
(Kyk van die boomkoning na Marina en gee nog 'n tree terug. Sy ogies vernou
kwaai.) Ek gaan nie die boek teruggee nie. Dis myne. Ek sal julle wys. Ek
is 'n groot towenaar. (Lig sy handjies op en waai hulle heen en weer. Skielik
ontplof 'n wit stofwolkie by die boomkoning se worters. Die boomkoning lag lekker.)
BOOMKONING:
Is dit die beste wat jy kan doen Kleintoor? Dit skrik my nie af nie. Gee nou Marinda
se boek terug. KAREL:
(Lyk verslae en kyk na die punte van sy vingers.) Maar ek kan toor, ek
kan. Ek het dan die boek. BOOMKONING:
(Draai na Marinda toe en lag.) En jy loop die heeltyd in sirkels en al
die tyd is die hoed twee tree van jou af. MARINDA:
(Draai haar kop trots op en begin weer in die rondte stap) Is nie. Ek stap
in die rondte want ek wil. Niemand kan my keer nie. KAREL:
(Tel sy hoed op en sit die boek op die hoed se plek neer.) Los haar u boombaarheid.
Sy is so trots. Sy sal verewig in sirkels loop. (Karel
en Boomkoning verlaat die stel. Gordyn sak terwyl Marinda nog in sirkels stap.)
SLOT
Kopiereg:
Antionette
Roberts
|