|
|
| Lusmakerbrokkies
uit nuwe boeke |  |
|

|
 |
Virus
Jaco Jacobs
LAPA
|
|
Jake
skrik met 'n ligte rukbeweging wakker - elke spier dadelik
snaarstyf gespan, sy hande op die pistool. 'n Oomblik
lank lê hy net so in die stikdonkerte. Het iets hom
wakker gemaak? Dis doodstil. Die enigste geluid is sy sagte
asemhaling teen die koel materiaal van die slapsak. Stadig
ontpan hy.
Dis
verstommend hoe vinnig 'n mens aanpas. 'n Week gelede het
hy nog soggens maklik dwarsdeur die skril, deurdringende geluid
van die wekker geslaap. Nou voel dit of elke senupunt 'n fyn
sneller is wat sy lyf op die geringste geluid laat reageer.
Jake blaas sy asem uit en maak sy oë weer toe.
Dis
vandag Sondag, besef hy. Presies 'n week na die uitbreking.
Nie dat die dae se name meer sak maak nie. Dit voel nie of
daar net 'n week verby gegaan het nie.
As
dit alles in een van my gunsteling-comics gebeur het, sou
jy net 'n paar raampies nodig gehad het om die afgelope week
op te som. Hy kan dit in sy verbeelding sien...
|

|
 |
Pandora
se boks
Nelia Engelbrecht
Tafelberg
|
|
"Dit
gaan 'n wonderlike jaar wees," sê my pa met sy
skoolhoofseun.
Sure.
Ek meen, wat kan nou beter wees om jou matriekjaar weg van
al jou vriende af begin in 'n one horse town aan die anderkant
van die aarde?
Maar
nou ja, ek is aanpasbaar. Adapt or die; dit het ek verlede
jaar agtergekom.
Ek
kyk na my pa langs my in die kar. Al sal dit nou nie hardop
sê nie, lyk hy nie bad vir 'n middeljarige man nie.
Hy het darem nie 'n bierboep soos die res van die manlike
bevolking bo veertig nie.
"Hoërskool
Boskloof is een van die voorste plattelandse skole in in die
land," sing hy sy lofsang verder. Ek vryf my nek. My
skoolhemp se kraag krap my. Nuwe skoolhemp, romp, kouse, skoene,
alles. Ek kyk na my voete. Ek hoop my pa het gesien hoe blink
my skoene. Dit is verseker die laaste dag wat hy sulke blink
skoene langs hom in die kar gaan sien."
Hy
het 'n issue oor skoolskoene. Verlede jaar toe hy adjunkhoof
in die stad was, was die kinders gereeld in die moeilikheid
oor vuil skoene. Totally ridiculous.
|

|
 |
Spore
in die Arep
Marie Reyneke
Human & Rousseau
|
|
"Nee
flippit, man! Jy gaan ons verongeluk!"
Wessel
skop met albei sy nommer tiens onder die paneelbord vas en
gryp wild na vashouplek, terwyl dit voel of die jeep vir die
soveelste keer gaan gat omgooi teen die opdraande. Klippe
kraak onder die beurende bande en spat knersend onder die
wiele uit toe Jurgen die petrolpedaal dieper intrap en die
voertuig met 'n onverwagte swaai weer lyfgee vir wat veronderstel
is om 'n pad te wees. Die spul agterop die bak protesteer
gilled.
Jurgen
Pieterse grynslag, maar sy bruingebrande arms wat by sy kakiehemp
uitsteek, stoei steeds met die stuurwiel. "Dis die Klein
Karasberge die, ou. Wat het jy verwag? Teerstrate?" Hy
stoot sy vingers vinnig deur sy kuif voordat hy die stuurwiel
weer met mening pak.
Wessel
verwerdig hom nie om te antwoord nie, en probeer homself klein
maak in die beknopte kajuit van die jeep. Dit was so hittete
of sy kop was teen die dak. hy loer deur die agterruit en
sien hoe die ander vier half bo-op mekaar beland het, en nou
sukkel om weer balans te kry. "Hou aan die tralies vas!"
roep hy deur die oop ruit.
|

|
 |
Lien
se lankstaanskoene
Derick van der Walt
Tafelberg
|
|
Hy
krap ongeduldig in die laai rond. Hy soek die kasset met die
blou plakkertjie. Sy gunsteling. Glimlag toe hy dit raakvat.
Hy druk dit in die videospeler en raap die koffiebeker
van die vloer af op sonder om sy oë van die televisieskerm
te haal. Hy druk die speelknoppie en lê
agteroor in die stoel. Hy vat 'n slukkie koffie.
Glimlag.
Die dogtertjie trap water in die middel van die swembad.
Met een arm klou sy aan 'n geel opblaaseendjie, met die ander
beduie sy wild. Sy praat met iemand buite die beeld. Haar
nat hare klou aan haar voorkop. Die video het geen klank nie.
Die kameraman is duidelik 'n amateur Die beeld kantel na links,
dan regs, zoem rukkerig in op die dogtertjie se gesig. Die
dogtertjie se mond beweeg aanmekaar. Dit lyk asof
sy opgewonde iets vir iemand buite die veld vertel. Sy is
haasbek.
Die kamera beweeg na links waar 'n seuntjie op die rand van
die swembad agter twee hondjies aan hardloop. Hy het 'n rooi
swembroekie aan. Sy swart krulhare is deurmekaar en met sy
twee stewige beentjies stamp hy kwaai op die grasperk.
Dis 'n swart hondjie en 'n wit hondjie, albei so twee bakstene
hoog. Hulle hardloop voor die seuntjie uit, maar gaan kort-kort
staan en draai om. Hulle stertjies waai en hulle blaf opgewonde
maar geluidloos.
Die
seuntjie verloor belangstelling in die hondjies. Hy stap tot
op die rand van die swembad. Die kamera volg hom rukkerig.
|

|
|

|
|

|
 |
Miserella
Fanie Viljoen
Human & Rousseau
|
|
Miserella sak grond toe, die donker
deur teen haar rug, met die wind wat haar hare stringerig
verby haar gesig waai. Wat haar trane droogmaak so gou
as wat sy hulle kan huil.
Buite
die kamer hoor sy nog Juvenis, Violenta en Laniolet se stemme.
Maar sy kan nou nie meer uitmaak wat hulle sê nie. Dit
smelt weg saam met die geluide in die vertrek. Die klap, skuur
en kraak van meubels, die suisende wind, die grommende onheil.
En
in haar kop kom daar nóg geluide, diep, swaar orrelklanke,
dreunend. Die note van die Lamentum-serenade van Volaticus,
Juvenis se gunsteling wat sy soms vir hom speel. Die musiek
wat Volaticus vir sy vrou gekomponeer het ná haar wrede
dood aan die kake van 'n weerwolf, so word vertel.
Miserella
probeer die snikke wat uit haar bors wil bars, in toom hou.
Haar oë is vasgenael op die vaas met die as.
Dit
word stil. Skielik. Die windjie draal net vir 'n oomblik langer
en raak dan ook weg.
Is
dit verby? kom die vraag in Miserella op. Soos gister? Gaan
daar niks gebeur nie? Het Mortallus dit weer nie reggekry
om uit die as op te staan nie?
Vrae
wat oor en oor deur haar spoel.
Maar
toe! 'n Weerligstraal. Blitsend! Van die dak af, vloer toe.
Die tafel spat in stukke, splinters hout klief deur die lug.
Die kerse ontplof. Hulle vlamme gaan dood, maar die kamer
is nou gehul in 'n helder wit lig, wat dring tot in elke donker
skeur en vergete hoek. 'n Geluid soos botsende treine, skeurende
metaal en hartverskeurende gille.
|

|
|