jongklomp

lusmakers

 

Nog lusmakerbrokkies uit nuwe boeke

Eers toe hulle die lang bulte uit is, kom hulle agter Henk is weg.
Uitgeput klim hulle van hulle fietse af. Stephan sit syne sommerso op die pad se skouer neer. Anton en Gerhard maak hulle s'n teen 'n boom staan. Die swaar rugsakke gly van hulle skouers af en plof in die gras neer.

"Ons moes hom nie saamgebring het nie," hyg Anton en keer sy waterbottel oor sy kop om. Hy grawe in sy sak vir sy selfoon. "Ek gaan Henk nou bel en hoor waar hy is."
Gerhard dop wankelrig in die gras om. 'n Geelvink neul in 'n peperboom oorkant die pad.
"Kry nie 'n sien nie..." Anton stop sy selfoon in sy rugsak. "Henk is te sag vir dié tipe ding. Kan nie bybly nie." Hy pluk sy natgeswete T-hemp van sy lyf af.
"Jy het hom saamgesleep," brom Stephan en vee oor sy gesig met sy voorarm. "Dis nou te laat om te moan."
'n Stoompie water glip oor Anton se ken toe hy sy waterbottel voor sy mond hou. "Hoe ver trap ons nog vandag?"

Terugkeer
(Rudi Venter)
Human & Rousseau

Klop-klop.
"Wie's daar?"

"Harold, die movie producer."
Ek ruk die deur oop en voordat ek kan agterkom wie dit is, sien ek sy boepmaag wat ritmies dril.
"Dis seker die vrotse knock-knock joke wat ek in my lewe gehoor het," sê ek vir die vreemde man in die deur. "Wat is die punchline?"
"Dis omdat dit nie 'n grap is nie," hoes hy en stap by my ouers se voordeur in sonder dat ek hom nooi. "Want ék is die punchline, Pop. Ek vervaardig flieks en ek kan jou help dat ons jou movie op die silwerdoek kry. Gee jy om as ek rook?"
Ek wil vir hom sê: "Ek is nie jou Pop nie - gaan weg!"
Maar hy lyk ernstig oor die movie-ding; ek voel opeens half onseker hy hy net 'n fiment of my imagination is. Hy dra 'n oop-geknoopte katoenhemp (een met sulke verbleikte paisley-patrone) en ek sien die goue kruis tussen sy borshare blink. Miskien sal hy hom vererg en loop as ek vir hom sê hy lyk soos 'n country singer met 'n mid-life crises. En, om eerlik te wees, ek wil nie regtig hê hy moet loop nie. Nie as hy real is nie. Moet nou nie dink ek is so heeltemal desperaat vir manlike aandag dat ek vir hierdie suger-daddy sal val nie. Die enigste rede hoekom ek wil hê dat hy moet bly , is om te hoor hoe hy geweet het ek wil movies maak. En terwyl ek die deur agter hom toemaak, vra ek hom sommer ook daary. "Um... Harold ... hoe het jy anyway geweet waar in die wêreld om my op te spoor? Ek woon eintlik op twee plekke deesdae. In twee lánde."

Ruik jy die filmster?
(Naomi Meyer)
Tafelberg

Die klippertjies steek vandag dwarsdeur haar dunsoolplakkies. Sy is haastig om by die huis te kom. Drie maande is 'n lang tyd. Drie maande kan vinnig omgaan as mens baie gelukkig is, maar hierdie drie maande was nie maklik nie. Dit was vreemde mense, vreemde blyplek en vreemde skoolwerk. Vreemde sport, vreemde kos en 'n klomp wit koshuiskinders wat op hul joligste so rustig is soos 'n Sondagmiddag voor sokker in die lokasie. Soms het selfs die bekende vreemd gelyk. Nou is dit vakansie en sy is haastig om net weer tussen haar eie mense te kom. Sy wil praat sonder om te dink en met haar hande eet sonder om te moet verduidelik en sy wil sommer op haar rug in haar draklere aan die slaap raak op die klapperhaarmatras op die agterstoep. Van g'n mens kan verwag word om so baie te verander net om "iewers in'ie lewe" te kom nie! Haar hele selwers kom in opstand elke keer as sy so moet dink voor sy praat. En dan sukkel sy nog steeds om die boere alles te laat verstaan wat sy hulle probeer wysmaak.
"Zita! Zita, jou ou koei!" Die groep laat haar gesig in 'n breë glimlag plooi. Rupert: neef, tjommie, praat-maat en sommer net Rupert.
Sy stop sommer net daarso, maar die son maak dat sy hom nie lekker kan sien nie. "Jy moet nou 'n slag ophou om aanmekaar vir my te loop 'n "koei"!" Sy lig 'n heuningbruin hand om die son uit haar gesig te keer.
"Het die boere jou nie geleer so 'n mooi bekkie skel nie so nie?" Hy gryp haar en tol met haar in die rondte.
"Nee, gelukkig weet hulle niks van hoe ek rêrig kan praat as ek lus nie." Sy steier effe toe hy haar neersit. Lank kyk hulle na mekaar en begin dan lag.

Zita
(Anzil Kulsen)
LAPA


Diep in die woud, in die skaduwee van berg Kenia, staan 'n altaar.
Dit is stil hier by die altaar van Aberdare. Nie 'n blaartjie roer nie en die veldmuise kruip saggies deur die kort gras.
'n Oeroue kremetartboom met takke soos krom arms hou wag. Die stam van die boom is so dik dat twaalf man wat hande vashou, dit nie kan omarm nie. In die stam is 'n opening uitgekap, en in die holte daaragter is tekens dat dit die blyplek van 'n mens is.
'n Luiperd kom geruisloos uit die digte bos. Stadig loop hy na die altaar, maar steek van skielik vas. Hy spits sy ore. Die spiere onder die gladde goud van sy vel span styf, en die groen-geel oë kyk behoedsaam rond. Hy voel ongerus. Die stilte word verbreek deur die gekraak van 'n tak, en vinnig sluip die luiperd weer die bos in.
Die geluid van 'n swaar voorwerp wat oor die ongelyk grond gesleep word klink deur die bos en wldra kom 'n man met die bospaadjie uitgestp. Agter hom sleep hy die karkas van 'n boerbok. Met 'n laaste ruk los hy sy vrag voor die altaar, vee met 'n bewerige hand die sweetdruppels van sy gesig af, en as hy nog 'n keer sy kop in die hitte skud, fluister sy halssnoer van leeunaels 'n boodskap van die dood.

Die altaar van Aberdare
(Chrystal Pichard)
Human & Rousseau


"Mense wat waiters word, is mal."
Zanelle plak haar op 'n stoel in die kombuis neer en vee haar donker krulhare agter haar ore in. "As ek geweet het waarvoor ons ons inlaat, het ek voorgestel dat ons liewer die hele vakansie babas oppas of toilette skrop of..."
Ek kan nie hlep om te lag nie. Zanelle lyk vrek snaaks. Daar is 'n pienk melkskommelstreep op haar kelnerinvoorskoot en 'n diep frons op haar voorkop.
"Wat lag jy, Ana de Wet?"
"Ek ken niemand aan hierdie kant van die ewenaar wat so kan oordryf soos jy nie.
Sy snork. "G'mf! Jy kan maklik praat Jy's nie die een wat tafel twee moes bedien nie. Daai tafel is vervloek. Eers was daar vanoggend so 'n moeilike ou oom en tannie wat met mooi niks tevrede was nie. En toe die gesinnetjie met die drie seuns." Sy trek haar neus op 'n plooi. "Eers het boetie nommer een van sy koeldrank laat omval en 'n keel opgesit. En toe raak boetie nommer twee naar - bo-op boetie nommer drie. G'n wonder nie. Sy ma sê hy weier al die hele vakansie om enigiets anders as milkshake te drink."
Ek sê liewer niks oor wie se idee dit was dat ons vir die vakansie hier by Zip werk nie.

Ouens is nie pizzas nie
(Tania Brink)
LAPA Uitgewers


Ek en Cobus maak al vir twee weke lank spinnekoppe bymekaar.
Grotes, kleintjies, hariges, gladdes - enige spinnekop wat dit met sy agt pote waag in die veld agter ons huis. Ons sit al met 'n hele boks vol. Ten minste een van die spinnekoppe is 'n dodelike soort. Dit moet wees, want ons kry nou die dag een met al agt pote in die lug. Ek is seker hy is gebyt deur die giftige spinnekop. Hy kon nie gevrek het van honger nie. Ons gooi genoeg goggas in die boks waaraan hulle kan smul terwyl hulle wag vir die GROOT DAG.
O ja, jy weet natuurlik nog nie van die GROOT DAG nie. (Moenie bekommerd wees nie - die spinnekoppe weet ook nie daarvan nie.)
Vandag is die GROOT DAG waarvoor ons al so lank wag. Dit is Maandag. Ons is by die skool. Die klok gaan nou enige oomblik lui vir pouse. Ek kyk na die boks langs Cobus se tas. Niemand weet wat daarin is nie. Net ek en hy, want ons is mos beste pêlle.

Geraamte in die klas
(Fanie Viljoen)
Human & Rousseau


In week een kry sy haar eerste tand
In week twee kruip sy al rond

Willemien is 'n kind van hierdie land
sy eet gróót bakke heerlike grond.

***

Van slaap wil Willemien niks weet
van rus en stilte nog veel minder
buite rondklouter in die bome - ja!
En kerjakker met 'n vlinder.

'n Skewebek trek sy
vir babapap en groente
maar tjops en wors, dié slaan sy weg
eet kerrie sonder 'n gedoente.

***

Voor Willemien die dag begin
moet sy eers haar oefeninge doen
dit maak haar sommer sterk en dapper
sy sal selfs 'n draak gaan soen!

Ons meisie tuimel halsoorkop
maak bolmakiesies oor die bed
sy swaai aan die lamp, klim oor die kas
en duik grond toe vir die pret

Die avonture van Wilde Willemientjie
(Riana Scheepers)
Tafelberg Uitgewers

Lank, lank gelede was daar 'n prinses. Haar naam was Katie, maar almal het haar Mooi Katie genoem. Toe sy klein was, het haar ma gesterf, maar haar pa het weer getrou. Die nuwe koningin het ook 'n dogter gehad - met presies dieselfde naam!
Die twee Katie's was van die begin af baie lief vir mekaar, maar die nuwe koningin was groen van jaloesie omdat haar dogter nie so mooi soos Mooi Katie was nie. Party het haar agter haar rug Katie Kiewieteier genoem omdat sy so vol sproete was.
Op 'n dag besluit die koningin om vir haar beste vriendin, die heks-met-twaalf-henne, wat in 'n bos daar naby woon, te gaan kuier. Miskien kan sy haar help om Mooi Katie lelik te kry.
"In 'n japtrap maak ek haar skreeulelik! Dis mos my werk," kekkel die ou heks van lekkerte. "Stuur haar net môre-oggend na my toe, maar maak seker dat sy niks geëet het nie."
Die volgende oggend stop die koningin 'n mandjie in Mooi Katie se hand en sê sy moet vir ontbyt eiers gaan koop by die heks-met-twaalf-henne. Mooi Katie se maag grom van hongerte en toe sy deur die kombuis loop, gaps sy 'n stomende hawermoutkoekie van die tafel af en begin daaraan knibbel.

Kaatjie Kraakneut - uit Sneeuwitjie en ander prinsesstories
(Gretel Wybenga)
LAPA-Uitgewers

Elke aand teen skemer klim die trop bobbejane tot bo in die groot maroelaboom. Dit is hulle gunstelingslaapboom. Almal klim en klouter op soek na die gemaklikste slaapplek. Die klein bobbejaantjies wil eers gou nog gryp-en-knyp speel, maar die groot bobbejane raas kwaai. Dit duur 'n rukkie voor almal tot ruste kom, maar uiteindelik het selfs tant Skurwestert die regte mik vir haar moeë lyf. Dit is doodstil. Die bobbejane wag vir die aandster se koms. Wie gaan die ster vanaand eerste sien?
"Daar is hy!" roep een van die jonges.
Skaars het die ster verskyn of 'n stemmetjie pleit: "Vertel vir ons 'n storie, asseblief!"
"Ja, 'n storie, 'n storie!" weerklink dit van tak tot tak.
Soos elke ander aand, kreun en steun die ou bobbejane asof storievertel groot moeite is. Maar hulle maak verniet of hulle nie regtig wil vertel nie. Eintlik kan hulle self ook nie wag vir die stories nie. Maar wie sal eerste vertel? Die heel oudste natuurlik - oompie Langasem.
"Wat sal ek vertel? vra oompie Langasem.
"Van die olifantneste!" roep Kneukeltjie. Die storie van die oliefantneste is haar gunstelingstorie.
"Nou goed," sê oompie Langasem. Hy knyp ingedagtte 'n lastige vlooi dood, versit vir oulaas sy stert en begin vertel.

Maroelaboomstories
(Leon de Villiers)
LAPA-Uitgewers

"Eers 'n goeie strek," sê tannie Trisa en lig haar arms hoog bo haar kop. Ek kyk weg, al lyk dit of sy nie traak hoe styf die groen kaftan met sy goue drake wat vir mekaar vlamme blaas oor haar borste span nie. Daar is min goed waaroor sy traak. Sy moet weet die ding span, dis swaar borste.
Sy asem in en ek doen dieselfde. Stadig, beheers blaas ons uit terwyl ons ons arms laat sak, soos voëls wat inkom vir 'n landing. Weer stadig op met die arms terwyl ons asem intrek. Haar oë is toe, so ek kan kyk.
"Sjjjuuuut," blaas tannie Trisa uit. Haar lippe is getuit asof sy koeldrank deur 'n strooitjie drink. Koper stringetjies in haar so-rooi-dis-amper-blou hare vang die lig.
Ek trek my borskas vol, blaas stadig my asem uit ... tot ek niks meer het nie ... en haal dan deur by bors asem. Blaas weer uit. Herhaal.
Dan is dit tyd om te oe en a. Sy druk note op die klavier en ek volg.
Ek wil nooit wys hoe mal ek is oor ons oefeninge nie, maar ek dink sy weet. Ek sal dit nog die een of ander tyd sê, ek is net nie so goed met sulke dinge nie.

Nie vir kinders nie
(Francois Bloemhof)
Tafelberg

"Reg, Loeki." Fritz Deelman strek sy hand in die lug, en die meisie in die skroefsnelboot kyk weer vorentoe, buk oor die stuurstang en laat die vaartuig se koppelaar stadig uit. Die groot lugskroef bo die agterstewe begin draai; die boot versnel stadig totdat die glad deur die water skiet.
Die sleeptou waaraan Fritz vashou, span binne sekondes styf, en dan beweeg hy op sy waterski's agterna, eers onseker deur die vlak water dan ál egaliger namate die ski's vinnig genoeg beweeg. Hy voel nogal trots op sy vriendin Loeki de Klerk, wat maar onlangs die snelboot leer bestuur het.
Die ligte branding in die baatjie hinder Fritz nie; hy het al deur onstuimiger water geski. Terwyl hy aan die sleeptou tussen hom en die snelboot vashou, het hy selfs tyd om die blou lug en uitgestrekte kuskranse van die strandoord Bultvlei te bewonder.
Regs van hom het 'n tweede snelboot weggetrek, ook met 'n skiër. Ek hoop die generaal bly bo, dink Fritz by homself, want die man wat teen hom wil resies jaag, is niemand anders as generaal Pierre Heyns nie, Fritz se bevelvoerder in die Suid-Afrikaanse Afdeling van die Internasionale Veiligheidspolisie. Generaal Heyns het 'n inwoner van Bultvlei, 'n ervare skipper en visser, gehuur om sy boot te bestuur.

Fritz Deelman en die Suidpoolbende
(Leon Rousseau)
Human & Rousseau

Liewe Dagboek
Wiskunde suck! Ek wens Pythagoras of wie ook al het nooit geleef nie. Al wat wiskunde orraait maak, is om met 'n calculator te werk. Ek het vanaand 'n klomp amazing goed uitgewerk. Van graad een tot matriek sit jy omtrent 2 400 dae op skoolbanke - dis 16 800 ure!! Eek! Jy doen omtrent een en 'n half jaar huiswerk (as jy dit altyd doen, ha-ha!). Jy wissel 19 dae lank klasse en hou 75 dae lank pouse (jippie!). Jy woon 17 dae lank saalopeninge by (en luister na die hoof se genag). O ja, jy stap 650 kilometer om klasse te wissel!! Hulle behoort regtig daaraan te dink om vir ons roltrappe te kry. Van graad agt tot graad twaalf sing jy die skoollied omtrent 130 keer!

Staan vas, staan vas
en wees nie bevrees
Jy kan 'n wenner wees


I ask you! Wie dink so 'n stupid skoollied uit? Dis omdat dit so 'n flippen boring lied en so 'n vertraagte wysie is dat ons dit sing asof ons maagpyn het. Usher of Outkast of Shania Twain sou 'n great skoollied vir Hoërskool Reënboogrant kon skryf.

Hunks en Hamburgers - Reënboogrant Tieners
(Louise van Niekerk)
LAPA-Uitgewers

In sy kop werk Senke mooi uit hoe hy die mageu tot by die skool sal dra. Buti het dit in 'n plastiekbottel gegooi. Dis 'n ou tweeliterbottel wat Buti in die lang gras langs die voetpad opgetel en goed skoongemaak het.
Die eerste ent dra Senke die bottel in die mik van sy linkerarm, met sy duim stewig deur die vatplek gehaak. Maar dan onthou hy dat sy lyf die mageau kan warm maak en die bottel opblaas dat die mageu begin uitlek. Buti het gesê: "Onthou om die prop bietjie te release as jy by die skool kom, Senke. Jy weet mageu is 'n lewendige ding wat altyd traai uitklim."
Senke besluit om die bottel liewer in sy regterhand te dra, wyd genoeg dat dit nie teen sy knie kap nie, en stil genoeg dat dit nie skommel nie. Die checkers met skoolboeke vat hy in sy linkerhand.
Dis vandag Entrepreneur's Day by die skool. Dit beteken elke pupil kan iets bring om te verkoop. Dis 'n nuwe scheme waarmee die Teacher begin het. Dit sal hulle leer van business en economy. "In a practical and profitable way, people."

Vuvuzela
(Engela van Rooyen)
Tafelberg

Dis Vrydagaand. Ek SMS vir Kerbs:

2night, 12 bells. bring jou tools. ek maak die hel oop.

 

 

"Watse hel wil jy oopmaak?" grinnik Kerbs toe hy later by die hek inglip. Die reën sif neer en blink op sy baadjie.
"Hel?"
"Op die SMS, man."
"Die hék, Kerbs!"
"Jy moet fokken leer spel, Burns."
"As jy 'n job kry."
Kerbs is nou al 'n jaar uit die skool en sit nog sonder werk. Die ou wat hom werk gee, sal in elk geval heeltemal van sy rocker af moet wees.
"Ja, right," sê Kerbs.
Back to business: alles is georganize. Vroeër vanaand het ek drie van my ma se slaappille gesteel. Een vir die hond. (Hy het lekker aan die vienna gechow en is currently in doggy-droomland.) Een vir my pa. Hy het lekker aan sy whiskey gesuip en hang nou rond in alcoholic heaven.) En die laaste een vir my ma - in haar koffie. Ek dink sy het een op haar eie ook gesluk, maar ek kon nie 'n kans vat nie. (Sy is seker nou op 'n lekker trip. Ons sien haar eers weer môremiddag.) My sussie, Kelly, spring die pille-party vry. (Sy is al weer by haar boyfriend.)
"Come on, ek reën nat," sê ek vir Kerbs.
Hy stap na my ma se BMW in die driveway. "Is die alarm af?"

BreinBliksem
(Fanie Viljoen)
Tafelberg

nog lusmakers
Terug na Lusmakers

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2009