|
|
| Hulle
volg Goliat se geblaf al die pad tot by die skoolgronde. Rikus gaan staan
uitasem toe hulle by die skool se hek kom. Hy spits sy ore, maar Goliat is nou
skielik stil. Hoendervleis kriewel oor Rikus se nek. Die verlate skoolgronde en
-geboue lyk spookagtig in die bleek lig van die maan. Elke nou en dan dryf daar
sulke swart vlieswolkies voor die maan in en maak alles vir 'n rukkie donker.
"As ek daai
dekselse brak in die hande kry, verwurg ek hom!" sê Rikus uitasem vir
Anja en Marius. Hy begin stadig na die skoolgebou toe stap. Meteens
gaan staan hy botstil. Iets
grom onheilspellend van agter die struike aan sy linkerkant. Rikus
kan Goliat se gromgeluid naby hom herken, maar daar is 'n ander geluid wat beslis
nie aan die hond gehoort nie - 'n dreigende roggelgeluid. Anja
trek skielik haar asem skerp in. Die
wolke trek vir 'n oomblik lank weg voor die maan en Rikus word yskoud. Tande
(Jaco Jacobs) Lapa-Uitgewers 
| | Doktor
Kleynhans hou sy hand uit na die meisies toe hulle die trappe voor die verhoog
uitklim. Toe Hanneke sy hand neem, klink 'n harde kraakgeluid op. "Pasop!"
gil juffrou Engels. Doktor
Kleynhans kyk op, en in daardie breukdeel van 'n sekonde stamp hy vir Hanneke
uit die pad. Sy skuif oor die vloer net toe die kroonkandelaar die verhoog tref
op die presiese plek waar sy net 'n oomblik gelede gestaan het. Glasskerwe vlieg
oor die verhoog. Kinders gil en drom saam teen die mure. Soos
altyd neem juffrou Roos op haar vriendelike, ferm manier die leiding. "Bly
net kalm," roep sy uit. "Pasop vir die glas. Moenie julself sny nie.
Het jy seergekry, Hanneke?" Hanneke
het intussen omgestaan en is besig om aan haar arms en bene te voel. Mevrou
Toetoeka storm nader en slaan 'n uitgeteerde arm om Hanneke se skouers. "Arme
ou dingetjie," sê sy. "Wat 'n nare ongeluk. Jy kon dood gewees
het." Hanneke
wikkel haarself uit mevrou Toetoeka se greep. Sy ruik snaaks - so half suur en
kruierig soos ou asyn. Sy ril. "Ek makeer niks," sê sy beslis,
hoewel sy tog bewerig voel. Carmen
Toetoeka en die vloek van Isis Huis
(Helen Brain) Human & Rousseau Uitgewers 
| | Sedert
verlede Sondag, toe hulle die verseëlde kissie met my ma se as daarin
gebring het, kan ek nie ophou om aan die Orde te dink nie. Die
twee offisiere het met teruggetrekte skouers in hul terrastofuniforms by die blombakke
aan die voet van die stoeptrap gestaan. Pa het met droë oë die kissie
gevat en die Reg-en-Orde-offisier het sy hande weggeruk. Dis
toe dat ek die idee gekry het om die taak van De Villiers ons gegee het te begin
met die woorde: Aan die begin was daar... Maar
wát!? Hel, wat wás daar? Ek
vee oor my ken, voel die stoppelbaard teen my vingerpunte steek. Voor
die Orde was daar dan seker chaos. En voor die chaos? Jarvis sê daar was
'n lig wat in die duisternis skyn, maar die duisternis wou dit nie aanvaar nie.
Snert! Hoe stuit jy 'n ligbaan in die donker? Die
Teken (Jonita
Swart) Tafelberg Uitgewers 
| | Op
Vredefort kon die dorpenaars hul oë nie glo nie - hier kon dan 'n motor
luiters in Oranjestraat afgery met 'n hond agter die wiel! Die Vrystaatse rottweiler
was die ene konsentraise, die voorpote liggies op die stuur. Gelukkig
het dié leerlingbestuurder, baie wetsgehoorsaam, uiters stadig gery. Die
botsing met 'n geparkeerde motor was dus niks meer nie as 'n harde stamp.
Die vies eienaar
het die sleutel saam met sy rottweiler in sy motor gelos. Toe skuif Meneer agter
die wiel in, met die gewoel het die noodrem losgeraak. Dit
was nie die einde nie. Hond se kind het boonop die sluitknoppie van die deur afgeruk.
Met die sleutels veilig binne toegesluit, het dit 'n aardige gesukkel afgegee.
'n
Vriend vir altyd: honderde hondestories
(Hennie van Deventer) Human & Rousseau 
| | Net
toe sy vir Sylvia wil sê dat hulle moet huis toe gaan, sien Anita 'n
groot bordjie bokant die toonbank. VANDAG
SE WINSKOOP! En onder die bordjie lê 'n elektroniese speelding.
Anita herken dit dadelik, want iemand in hulle klas het 'n ruk gelede omtrent
dieselfde soort speelding gehad. TROETELGEDROG,
staan daar bo-op die boksie. Maak jou eie elektroniese troeteldiertjie groot!
Voer hom, bad hom, speel met hom, gee hom hope liefde, anders gaan hy dood!
Anita tel die
boksie op en glimlag stadig. Dit is presies wat sy nodig het! Haar ma kan tog
niks sê as sy 'n elektroniese troeteldier huis toe bring nie. "Jy
is op die regte plek, ons het presies wat jy nodig het!" skree die papegaai
nog harder as die vorige twee kere. Anita ril. Dit voel wraggies asof die voël
gedagtes kan lees! "Ek
het geweet jy sal iets kry waarvan jy hou," fluister meneer Grinaker agter
Anita. Troetelgedrog
(Jaco Jacobs)
Lapa-Uitgewers 
| |
Niemand het gedink dat ek dit sal hoor nie, maar ek hét. Moenie
dink omdat jy maar net tien minute gelede gebore is, omdat jy rooi en opgeskroef
en lelik is, dat jy ook dom is, of nie kan hoor wat gepraat word nie. Jy kán.
Dit wat in daardie
eerste minute van my lewe oor my gesê is, het ek gehoor, en ek het dit met
my saamgevat. "Dit
kan nie wees nie . . ." het my pa gesê toe die stewige verpleegsuster
my vir 'n paar sekondes in sy groot hande sit sodat hy darem kan kyk hoe ek lyk
voordat ek broeikas toe gaan. Hy
het geskrik bly staan, na my gekyk, en toe op die stoel agter hom gaan sit. Groot,
fris man wat hy was, kon hy homself nie vertrou om my vas te hou sonder om te
gaan sit nie. Asof ek te swaar was vir sy sterk, bruingebrande arms. Op die puntjie
van die stoel het hy gaan sit met my in sy hande voor hom uitgehou. Ek het na
my pa gekyk, gesien hoe hy lyk, en toe maar liewerster weer my oë toegeknyp.
Blinde
sambok (Riana
Scheepers) Tafelberg
| |