-
Eendag
lank gelede... -
Die
legende van Kristof die reus. Tomie de Paolo. Anansi, 1997. Die
legende van Kristof wat onwetend die Christuskind oor die rivier gedra het. In
die moderne rekenaareeu moet legendes soos dié steeds vir kinders lewend
gehou word veral as dit so keurig vertaal en geïllustreer is. Die
betowerde swane. Callaha MacGill. Anansi, 1997. 'n
Knap veraling van die boeiende Ierse mite oor die vier pragtige koningskinders,
die jaloerse stiefma en... Maar lees liewer self! Die
skone slaapster. Margaret Earl. Anansi, 1996. Die
pragtige illustrasies is gebaseer op die Franse kasteel wat Charles Perrault in
gedagte gehad het toe hy die verhaal in 1696 geskryf het. Die sprokie behoor nog
steeds. Die
goue gans van die broers. Uri Shulevitz. Anansi, 1997. Die
vernuftige illustrasies sal leertjies en luisteraars - net soos die prinses -
onder die betowering van die goue gans laat kom en saam laat lag.
Vir
die kleinste japsnoetjies
Tannie
Du Pisani. Carol Ryrie Brink. Anansi, 1997. Nog
nooit was daar so 'n speserykoek nie! Alles word vertel in die vorm van 'n heerlik
ritmiese gedig en as bonus: heelagter ook die resep - genoeg vir twee broodjies! Woeste
Willem. Ingrid en Dieter Schubert. Human & Rousseau, 1997. Saam
met die storie van Woeste Willem, die seerower, is daar die fyn detail van die
illustrasies om lesertjies te boei. Die
vroutjie, die muis en die koddige huis. Paul O. Zelinsky. Anansi, 1997. 'n
Skraal ou vroutjie en 'n vet muis trek in 'n koddige huisie in. Lees en blaai
om. Wat gebeur? Die huis is besig om te verander... in 'n groot kat! Neusboor
is lekker. Daniela Rulot-Frisch. Human & Rousseau, 1997. Olifant,
Muis en Padda wil uitvind of hul ouers reg is oor die veeslike gevolge as jy dit
waag om in jou neus te boor. Dalk moet hulle hul oupas en oumas gaan vra... Die
rooi rok. Dux van der Walt. Garamond, 1996. Doortjie
se ouma het vir haar 'n mooi nuwe rooi rokkie gemaak. Maar toe trek sy vooraf
skelm die rokkie aan en bemors dit. Ai, die gesukkel om dit self skoon te kry!
'n Eg-Suid-Afrikaanse verhaaltjie en 'n waardige pryswenner. Lila
langs die rietkuil. Nanette van Rooyen. Garamond, 1995. 'n
Ritmiese verhaaltjie oor Lila wat deur haar maats gespot word. Speel-speel kan
'n paar Xhosa-woorde aangeleer word. Jonathan
en sy ma. Irene Smalls-Hector. Anansi, 1997. Jonathan
en sy ma stap deur die strate... Net deur die lees of luister na die ritmiese,
singerige woorde sal jong lesers 'n hele klomp beskrywende woorde aanleer. Ella
is vaak. Angela McAllister. Kennis Onbeperk, 1995. Ella
se fantasieë as sy insluimer, sorg vir 'n vertroostende slaaptydstorie. Mamma
het 'n eier gelê. Babette Cole. Human & Rousseau, 1993. Dis
tyd dat die tweeling leer waar babas vandaan kom. Maar ai, grootmense is darem
dom! Olinosters
op die dak. Marita van der Vyver. Human & Rousseau, 1996. Olinoster,
'n kokoei, 'n boberilla in en op die huis! Gelukkig is Daniël dapper en kan
hy en die beginnerlesertjie uiteindelik rustig aan die slaap raak. En
dit nogal alles in Bosbessiestraat. Dr. Seuss. Anansi, 1991. Die
klassieker verhaal van al die goeters wat Marco dié dag op pad skool toe
in Bosbessiestraat gesien het, is ná vyftig jaar nog net so heerlik ritmies
en vermaaklik. Muise-tel.
Ellen Walsh. Anansi, 1997. Die
dierbare klaaroogmuisies sal die lesertjie speel-speel help tel en lees. Meneer
Beer word babawagter. Debi Gliori. Human & Rousseau, 1996. Die
konsternasie as Meneer Beer die vier klein grysbeertjies moet oppas! Die vrolike
illustrasies sal die heel kleintjies fassineer. Klein
Wolf en die reus. Sue Porter. Human & Rousseau, 1997. 'n
Spannende en tog vermaaklike storie waarin die rolle effens omgeruil is. Boeiend
tot by die laaste bladsy: die slot met nog 'n kinkel.
Lees
self en dink na...
Waar
die wind heen waai. Amelia Kellerman. Human & Rousseau, 1995. O
die opwinding as die onderwyser jou uit die klas stuur en jy kan rondloop! Maar
dan verander dit in 'n nagmerrie as die wind alles deurmekaar waai. Die
blommeveld. Vivienne en Skye Roos. Garamond, 1997. 'n
Bittersoet verhaaltjie oor Ellen en Josef, twee straatkinders. Ellen droom van
die veldblomme om die huis waar sy as klein dogtertjie gewoon het... Die
danser. Nola Turkington en Niki Daly. Human & Rousseau, 1996. 'n
Ryk San-verhaal oor Bau wat die reënvrou wil vind, want die droogte knel...
Pragtig geïllustreer in 'n rotstekeningstyl teen subtiel-gekleurde agtergrond. My
pa. Niki Daly. Anansi, 1997. 'n
Aangrypende verhaal van die verteller se pa wat die Vrydagaand toe wéér
te veel drink. Die verhaal is ook in die buiteland aangeprys vir die uitmuntende,
liefdevolle hantering van die probleem van alkoholisme. |