Eendag
lank gelede... sprokies wat almal moet ken
Eendag
was daar. Leoni Hofmeyr (smst.) Human & Rousseau, 1993. Van
die bekendste en mees geliefde sprokies uit die verhaleskat van die wêreld,
vernuftige berymings en ander plesierige stories in 'n mooi versorgde, maklik
hanteerbare boek. Goue
lint, my storie begint. Linda Rode (smst.) Tafelberg, 1985. Goed
versorg en pragtig geïllustreer is hierdie versameling oorvertellings van
bekende sprokies en van Suid-Afrikaanse fantasie- en volksverhale. Husse
met ore. Tafelberg, 1993. Verhale van oor die hele
wêreld, puik vertaal. Die stories is kort en die druk redelik groot - geskik
vir voorlees en selflees. Die
mooiste Afrikaanse sprokies. Human & Rousseau, 1993. Van
die bekendste en mooiste Afrikaanse sprokies, in lewendige trant vertel. Elke
verhaal word aangevul met verbeeldingryke illustrasies. Towertyd.
Tafelberg, 1992. 'n Aantreklik versorgde boek met vyf
sprokies deur meesterskrywers soos De Maupassant, De Cervantes, Poesjkin en Andersen.
Puik vertaal met pragtige volkeur-illustrasies. Bibber-bibber-bang
Altwee
asvaal geskrik. Oxford University Press, 1991. 'n
Dogtertjie en 'n muisie kry op dieselfde oomblik lus vir 'n slaaptydhappie en
loop mekaar in die kombuis raak - en skrik hulle altwee asvaal! Die ideale voorleesstorie
voor slaaptyd. En
toe word mamma 'n monster. Joanna Harrison, Human & Rousseau, 1996.
Die twee stoute kleuters wat die huis so bemors, merk nie
op dat aaklige groen groeisels aan hul ma begin groei nie . . . 'n Uiters vermaaklike
verhaal met kostelike illustrasies.
Daar's 'n
spook in my kas!
Martie Preller, Human & Rousseau. Bertus se goed verdwyn
en hy probeer sy ma oortuig dat dit 'n spook is. Dalk moet hy die spook tromp-op
loop. Die genotvolle verhaaltjie word in prettige rymvorm vertel.
Gee
my 'n drukkie - stories oor myself en mense
om my So
graag. Trish Cooke, Tafelberg, 1995. Elkeen wat kom
kuier, wil die baba so graag druk en soen en opeet en karnuffel. Pragtige uitbundige
illustrasies help om 'n gevoel van teerheid en warme geborgenheid oor te dra.
Mamma
het 'n eier gelê. Babette Cole, Human & Rousseau, 1993.
Die tweeling se ma en pa besluit dis tyd om hulle te leer waar
babas vandaan kom. Maar, ai, toe weet die tweeling meer as ma en pa! Heerlik vermaaklik
met skreeusnaakse illustrasies - die ideale boek vir mammas en pappas wat nog
die gevreesde vraag moet antwoord. Die
seun op die strand. Niki Daly, Human & Rousseau, 1998. 'n
Hartverwarmende boek oor 'n seuntjie se dag op die groot, wye strand. 'n Boek
om voor te lees op 'n snikheet somerdag as julle nie by die strand kan uitkom
nie, of op 'n koue, kletsnat winterdag as julle nie by die strand wil uitkom
nie. Nie
so vinnig nie, Songololo! Niki Daly, Human & Rousseau, 1985.
Malusi en sy ouma loop deur die stad se strate. "Kyk, Gogo,"
sê Malusi, "rooi tekkies!" En toe hy hulle uiteindelik aantrek,
moet sy ouma net keer, want die nuwe rooi tekkies loop nou alte vinnig. 'n Eenvoudige
verhaaltjie oor die mooi verhouding van 'n seuntjie en sy Gogo. Net
perfek. Rachelle Greeff. Human & Rousseau, 1999. Oupa
se ou skilpad, Goliat, gaan dood en skielik besef Bella dat Oupa ook nie vir ewig
gaan lewe nie. 'n Sensitiewe onderwerp word met deernis benader. Die prettige
illustrasies vertel self 'n eie storie. My
dik boek. Maretha Maartens, Tafelberg, 1982. Wie wil
dan nou nie sélf 'n lekker diiik boek kan deurlees nie! Die agt kort stories
oor alledaagse ervarings in 'n seuntjie se lewe bly die ideale, immerbroen selfleesboek
vir beginners. |