|
| | Nog
kindertyd se leesstof... Wie onthou wat? |  |
My vyf gunsteling boeke as jong leser? Dis nogal moeilik, want mens moet mooi
dink. Jou gunsteling skrywers en gunsteling boeke kan soms oorvleuel, en mens
wil darem vir almal kans gee. En daar is so baie goeie boeke! Ek was baie bevoorreg
dat daar baie boeke gepubliseer is toe ek grootgeword het. Dit was altyd die lekkerste
tyd om biblioteek toe te gaan en nuwe boeke uit te soek! Ek het in 1992 toe ek
9 was ernstig begin lees. Of "professioneel" soos ek dit genoem het,
want dit was vir my so lekker om te lees, dat ek BAIE tyd daaraan spandeer het.
Die vyf boeke wat ek
toe op besluit het is: Die
geur van Jasmyn deur Mary Ann van Rensburg. Ek
kan nie my vinger plaas waarom ek so baie van hierdie boek hou nie, maar dit is
my gunsteling boek. Ek dink dis omdat die boek realisties is, maar daar is ook
'n element van misterie. En dan natuurlik haar musiek. As ek jasmyn ruik dink
ek altyd aan die boek. Die
vyf letter woord deur Marietjie van Rooyen. Hierdie boek is vol wyshede
en waarhede. Ek het van hierdie boek, meer op 11 van anoreksie geleer as later
op Universiteit! Die skryfster het 'n realistiese siening oor tieners en hul wêreld,
en sy het goeie navorsing gedoen. Dankie vir 'n baie goeie boek. Anderkantland
deur Martie Preller. Wat 'n verskriklike oulike boek was dit nie! Ek sal altyd
die wolf onthou met die mooi blou oë met die pruik op! Ek het hierdie boek
gelees toe ek omtrent 12 was. My ouer broer het selfs die boek gelees en daarvan
gehou. Ons het ons pap gelag oor die oulike beskrywings en snaakshede! Dis die
mees verbeeldingrykste boek. Ek
sal moet leer dans, Shaleen deur Rena Schúler. Hierdie
is 'n storie wat MOES vertel word!! Ek is bly dat die skryfster hierdie temas
behandel het. Ek hou van boeke met baie vleis aan, en hierdie een is definitief
een van hulle. Dit was geensins neerdrukkend nie. Dis die waarheid. Ek sal nooit
weer dieselfde oor 'n woonwapark dink nie. UITSTEKEND!! Wanneer
die musiek ophou deur Petrie Jacobs. Hierdie is ongetwyfeld die boek
wat ek al die meeste gelees het. Dit is net eenvoudig so goed. Elke keer dat ek
dit lees, kom ek iets nuuts agter. Dit is bevrydend om te sien dat 'n Afrikaanse
skryfster nie gehuiwer het om dié temas aan te spreek nie. Ek dink dit
is wat die boek so verfrissend maak. Bravo! Soos
ek reeds gesê het, daar is BAIE ander goeie boeke. As ek 100 goeie boeke
moet noem, sal dit maklik wees. Ek dink Afrikaanse skrywers lewer 'n uitstekende
standaard. Rozelle
Bantjes Honneursstudent,
Maatskaplike werk |  |
Hier is 5 van my gunsteling boekreekse as kind: Pippie
Langkous, Die Uile, Kuifie, Trompie, Karelsen op die dak. Fanie
Viljoen Kinderboekskrywer 
|
Carina Diedericks-Hugo se lysies! Gunsteling
dinge op aarde: My man,
Daniel, Lees, Sjokolade, Die see, Katte Gunsteling
boeke (Op die oomblik! Anders sal die lys uit 5000 boeke moet bestaan!) Die
Maasdorp-reeks - Stella Blakemore, Stargirl - Jerri Spinelli, His Dark Materials-trilogie
- Philip Pullman, Holes - Louis Sacher, Silverfin - Charlie Higson Gunsteling
Afrikaanse skrywers Jaco Jacobs, Fanie Viljoen, Francois Bloemhof, Piet
Grobler, Stella Blakemore Gunsteling
karakters Breggie Landsberg, Pippie Langkous, Karelsen, Obelix, Mia Thermopolis
(Princess Dairies) Carina
Diedericks-Hugo Jeugboekskrywer
en uitgewer |  |
Ek dink
kinders van vandag is oor die algemeen baie "armer" vanweë die
feit dat leestyd met TV-kyk vervang is. In die laerskool destyds het almal van
ons vreeslik uitgesien na die boek(e) voorlesing op 'n Vrydagmiddag wat gewoonlik
die laaste drie periodes voor huistoegaan was. Ons onderwyser was A.B. Burger
en hy kon ons waarlik terugeneem het in tyd na die "ou Kaap" met sy
voorlesing uit die Elmar Steyn boeke. Wie
onthou nog? Ollie
Jouert Jeugboekskrywer
en kinderboekredakteur |  |
Ek was
in Gr. 2 (1950 ) toe ek die beste geskenk van my lewe gekry het! 'n Niggie van
my ma, haar naam kan ek nie meer onthou nie, ek dink sy was cousin Frensis, het
teenaan Johannesburgstasie in 'n woonstel gebly. Sy het by die A.P.B gewerk en
was 'n oujongnooi. Eendag
laat weet sy per boodskap vir my ma dat sy vir my 'n presentjie het, ons moet
dit kom haal, maar my pa sal moet moet saamkom. Ons
het lekker gekuier en winkelbeskuitjies en koffie gehad en toe ons moet huistoe,
kom sy uit die kamer met 'n GROOT doos toegedraai in bruinpapier en vasgebind
met sterk sisal tou. Ek sien nou nog hoe my pa die swaar pak op die bagasierakkie
in die trein swaai. Die
vyf stasies terug huistoe was 'n ewigheid. Ek het visioene gehad van poppe en
popklere, maar my ma het gedink die pakkie is te swaar daarvoor. Dan kan dit net
'n pophuis wees! Stel
julle voor my teleurstelling toe ons die doos oop het en dis net 'n spul boeke
... sonder prentjies. Die enigste boek met sketse was die Vriendinne
Jaarboek Deel 2! Die teleurstelling was onder in my hangkas gepak.
So van tyd tot tyd op 'n Sondagmiddag as ek moes slaap het ek van die boeke uitgepak
en na die mooi kleure gekyk. Was die buiteblaaie van linne? Een
so 'n Sondag het ek uit verveling die dunste boekie geneem en begin lees. Dit
was Lentepret. En daar het my leesavontuur
begin. My
st. 3- juffrou was ook die biblioteekjuffrou en ek haar regterhand! Wat 'n bonus
ek kon die nuwe boeke eerste lees. Ons biblioteek was 'n reisende biblioteek van
die Johannesburgse Munisipaliteit. Hoekom was die biblioteektannies altyd sulke
lang maer tannies met bollas en geen grimering nie? Waarom het hulle altyd oor
hulle bril na 'n mens geloer. Hulle kon lees darem 'n slegte naam gegee het.
Almal
het my wysgemaak dat leeskinders slim kinders is, maar my toetspunte het die teendeel
bewys. Ek was een van daardie wat 'n boek MOES klaar lees, kom wat wil. Tryna
du Toit het ek snags onder die kombers met 'n flitslig gelees. En dr. Serfontein
van Keurboslaan bly nog steeds my ideale man. Stil, sterk, aantreklik en net ek
weet van sy passie. Ek
lees wyd, maar die moderner literatuur staan my nie baie aan nie en daar moet
'n sterk storie wees. LEES is LEKKER
Katryn van Wyngaarden |  |
Wêreldboekedag
2004. Wat was jou gunstelingboek as kind? My
gunstelingboek as kind was Abdoltjie van Alba
Bouwer. Ek het saam met hom teen Seinheuwel opgeklim en vir Bella Bok opgepas,
saam met hom 'n kofia op my kop gedra, saam met hom en sy ouma konsert toe gegaan
en presies geweet hoe hierdie kleurlingmaatjie, wat opwindend anders en vreemd
was, gelyk het: Hy het oë soos "twee bruin danepitjies" gehad...(dennepitte!).
Ek het die boek oor en oor gelees! en nooit moeg geword nie, ek sal dit weer lees,
al is ek nou al verby 50! (dit was so 40 jaar gelede). Elizabeth Kendall. My
ma was so lief vir letterkunde en het elke aand vir my gelees, selfs toe ek al
"te groot" daarvoor was. Een boek wat my hart op 'n besondere wyse aangeraak het
was Mikro se Toiings. Dit het by my die hele
spektrum van moontlike menslike emosies laat ervaar. Die krag van die liefde,
die diepte van leed en borrelende vreugde. Dis iets wat ek ook met my kindersal
deel en ek hoop hulle met hulle s'n. Dit is 'n kosbare erflating wat "Ouma Mony"
vir ons gee. Groete Marié Botha. Toe
ek klein was, was daar glad nie sulke mooi kinderboeke soos nou nie - nie eers
toe my eie kinders klein was nie. Dit was egter nie 'n verskoning om nie stories
te hoor nie - my gunsteling was Brolloks en Bittergal,
want ek kon my so lekker inleef in daardie ongelooflike prentjies wat geskep is.
Ek kan nou nog onthou hoe die karakters gelyk het en die gevoelens wat in mens
ontaard het! Groete, Annette van den Berg. Ek
was mal oor die Saartjie boeke en het hulle
almal verslind. Ons het baie beskermend groot geword en het nie baie van die wêreld
geweet nie. Die snip Saartjie het my op avonture gevat wat ek self nooit kon beleef
nie, sy het vir baie kans gesien. Saartjie was vir my braaf en slim en in haar
verhale het die goeie ouens altyd bo uitgekom. Saartjie boeke is "goed voel" boeke
en het 'n mens positief laat voel oor die lewe. Vriendelike groete, Alida van
Aarde. Ek was
seker so in st. 3 rond, hier teen 1950, toe ek 'n dik, ligbruin hardebandboek
in my ma-hulle se boekrak raakloop: Daar ver oor die
see deur Tannie. Dié skryfster genaamd Tannie het haar oorsese
reis beskryf op 'n meesleurende wyse wat my laat besef het dat daar verre lande
is met spesiale besienswaardighede, kenmerkende mense, vreemde vervoermiddels,
interessante gidse, vreemde geld en onvergeetlike ervarings eie net aan daardie
lande. Die
boek was baie klein gedruk en glad nie aantreklik nie. Daar was darem 'n klompie
foto's. Dis seker Tannie se eie betowering met die ver plekke wat sy deur haar
boeiende skryfstyl op my oorgedra het. Dit het maande gekos voor ek die dik boek
deurgelees het maar dit was 'n boek om te onthou. Vir
my as plaasseun het Tannie met haar boek egter horisonne geopen waarvan ek net
kon droom, want daar was nie sprake van seevakansies vir ons op die plaas nie,
wat nog te sê lande ver oor die see besoek. (Ek het die see die eerste keer
gesien toe ek 18 jaar oud was.) En
vandag sit hierdie oupa se enigste twee kleinkinders (twee kleindogters van 8
en 4) self daar ver oor die see in Australië. Ná 2½ maande
op 'n skip het 'n presentjie hulle darem eergister bereik - vier Afrikaanse kinderboeke,
sodat hulle nie ons taal vergeet nie! Stoffel Cilliers. Toe
ek sien dat julle graag wil weet watter storieboek as kind vir ons die mooitste
was, het ek darem baie ver teruggedink! Ek het as kind 'n boek met die titel van
Oupa Landman se Viool gelees. Ek kan vandag
nie meer die naam van die skrywer onthou nie, maar wat ek wel onthou was die heerlike
neus-in-die-boek tye wat ek veral met hierdie boek as kind beleef het! Dit was
vir my een van die die wonderlikste ervarings om die boek te lees want ek kon
al my kinderemosies (soos snot en trane huil!) daarin uitleef! Hoe graag sou ek
nie vandag die boek wou gehad het nie sodat my meisiekind dit ook kon lees! Teresa
Botha. My gunsteling
storieboek kan ek goed onthou. Ek was in Sterkstroom in Sub A. in 1965. Omtrent
'n uur voordat die huistoegaan-klok lui, het ons almal op die mat agter in die
klas gaan sit en ons juffrou het vir ons uit hierdie DIK boek gelees. Die storie
was van Brolloks en Bittergal. Ek wou nog
altyd die boek in die hande kry om vir my kinders te laat lees. En dan het ekself
in die Laerskool al Saartjie en Trompie boeke gelees. Dit was my gunsteling. Beste
wense, Ansa Klopper. Oooee
ek het 'n klomp gunstelinge, maar as ek een of twee kan uitsonder dan is dit die
Uile reeks en Tessa-reeks. Die Uile reeks
was vol avontuur en die Tessa reeks se boeke het opmekaar gevolg en 'n goeie storie
gehad. Thea Engelbrecht. Die
Tarzanreeks staan verseker bo-aan my lys
van gunstelingboeke uit my kindertyd. Die fantasie-element daarin het my as kind
geboei - soveel avonture met 'n bietjie toorkuns (magic) daarby. Dis dalk die
rede waarom ek steeds bykans slegs fantasieverhale lees. Dit is 'n reeks wat elke
hededaagse kind steeds sal geniet en dit sal verwelkom word indien 'n uitgewer
daaraan dink om dit te heerdruk soos met vele ouer reekse uit toeka se dae gedoen
is. Groete, Lienette. Ek
dink ons het as kinders baie meer gelees en gespeel, want daar was nie TV's nie.
Ons verbeelding het wye draaie en kringe gemaak. Die buitelewe was ons kos.
Saartjie boeke, was baie gewild - Topsy
Smith - Carolyn Keene - (Nancy Drew)
heelwat later - om 'n paar name te noem. Ek dink dit was al die kattekwaad, avontuur
en ontvlugting wat dit so interessant gemaak het. Later op hoërskool, was
dit net romanse en het Mills & Boon groot
voorkeur geniet, om nie te praat van die Angelique reeks nie.
Ena Murray boeke was ook baie gewild onder die meisies. Ek kan onthou
ek het een van haar reisboeke gebruik vir 'n opstel en het 'n onderskeiding gekry
in Engels. Daar het ek die nut van boeke geleer!
Die Lord of the Rings en Harry Potter reeks in Engels was die eerste boeke wat
my seun van 17 jaar ooit gelees het! Om hom aan die lees te kry was 'n groot probleem
tot die reeks verskyn het. Hy het elke boek self aangeskaf en dit verslind.
All who love that kind of children's book that can be read and re-read by adults
should take note that a new star has appeared in this constellation. To the trained
eye some of the characters will seem almost mythopoeic. C. S. Lewis (18981963),
Irish-born British novelist. Referring to J. R. R. Tolkien. The Times (October
7, 1937). Cecilia Strauss |  |
Ek is
'n Kalahari-kind gebore maar het in die ou Wes-Transvaal grootgeword; Potchefstroom,
om presies te wees. My kindertyd was ook vol van boeke, boeke, boeke. Ek wens
ek kan van daardie kleintyd se boeke weer kry vir my dogtertjie, Celmarè, wat
nou 'n jaar oud is. Hapoor en Slurpie, Nonna se Geheim en 'n boekie oor
'n seuntjie wat in 'n mierkolonie beland; die naam kan ek nie onthou nie. Ek het
natuurlik ook die Saartjie-, Uile-, Kobie-, Keurboslaan-reekse en vele ander verslind.
Vandag help ek my oudste seun in matriek en tweede in standerd ses met al hulle
dinge en ek poog om ook my leesliefde aan hulle oor te dra, so tussen die akademie
en sportbedrywighede. Celmarè het al 'n rak vol boeke wat wag om gelees te word.
En ek - so tussen werk en kinders knyp ek elke oomblik wat ek kan af om gou 'n
bladsy of twee verder te lees; my laaste boek was 'n Andre P. Brink wat my met
meer deernis laat dink het aan my medemens, ontwortel, verneder, ontmens. Magriet
Maritz
|  |
|