bygewerk 2005-04-01
 

grootmense

nostalgie

 

Nog kindertyd se leesstof... Wie onthou wat?

My eerste biblioteek was my ma. Sy was 'n opgeleide kindertuin-onderwyseres en het haar vier kinders klein-klein met die klankmetode leer lees. Ek is skool toe met 'n voorsprong: ek was die enigste sub A'tjie wat somme kon doen en vlot kon lees en het gevoel ek is die slimste kind in die skool.
Elke klas het 'n klein klasbiblioteek gehad en ek moes dikwels vir die klas voorlees terwyl die juffrou iets anders sit en doen. Ek onthou ek het eenkeer uit pure dwarsgeit 'n ABC-boek begin lees. Die klas het 'n keel opgesit en die onderwyseres het gesteurd opgekyk. Ek moes iets anders kies. Maar die kwaad was gedoen. My gewildheid as voorleser was onherroeplik geknou. Hierna het 'n ander dogtertjie, Gerda, ook soms voorgelees. Ek het vir Gerda met inspanning verdra.
In daardie tyd het Swellendam se openbare biblioteek 'n beleid gehad (of dalk het ons kinders dit net vir die een of ander rede geglo) dat kinders een Afrikaanse en een Engelse boek moet uitneem. Ek het uit die staanspoor lywige Afrikaanse boeke gelees, soos "Ciske" en J.H.H. de Waal se "Johannes van Wyk" en was skaam om met klein Engelse kinderboekies in die hand gesien te word. Ek het dus groot, dik, imposante Engelse boeke uitgeneem wat ek tot my skande nooit gelees het nie.
My ma se keuse van Afrikaanse voorleesmateriaal was beperk. Ek onthou hoe sy die eerste Afrikaanse vertaling van "Winnie-the-Pooh" met smaak vir ons voorgelees het. Sy't soms so gelag dat ek en my boetie niks kon hoor nie. Terloops, ek dink nou nog "Ottie" is 'n briljante vertaling vir "Piglet". Baie ander Engelse kinderboeke het my ma sommer uit die vuis vertaal terwyl sy vir ons lees. Ek reken dis waar my liefde vir die Engelse letterkunde begin het.
Ek kan nie genoeg klem lê op die waarde van voorlees vir kinders nie. Alle ouers en kinders móét net 'n spesiale tydjie voor slaaptyd hieraan afstaan. Dit bring almal tot bedaring, maak die wêreld oop en bou wonderlike herinnerings. En vandag is daar soveel om uit te kies.

Janie Oosthuysen
Jeugboekskrywer

Ek was al van kleins af 'n biblioteekslaaf - so erg dat die bibliotekaresse my in graad twee verbied het om twee keer op een dag boeke te kom uitneem! Ek het in graad drie my eerste Stephen King-riller (Christine) gelees met 'n woordeboek byderhand. Nugter weet hoe lank dit geneem het. Sedertdien het ek al byna elke boek van King en Dean Koontz gelees.
Douglas Hill se kinderboeke (bv. Die jagter) was vir my ongelooflik, maar ek het ook meer 'tradisionele' kinderboeke soos Trompie, Jasper en Die Uile verslind. Ek het Saartjie en Nancy Drew net so gretig gelees, maar in 'n meer 'geheimsinnige hoedanigheid' - ek sou immers nie dood gevang wou word met 'n 'meisiesboek' nie! Die Choose Your Own Adventure-reeks was 'n nuutjie in my laerskooljare, en ek het elke nuwe boek kafgedraf.
Ironies genoeg lees ek deesdae meer kinderboeke as wat ek ooit in my skooldae gelees het. Wanneer my letterkundeprofessore nie kyk nie, is ek 'n ongeneeslike Goosebumps-slaaf. Ek lees ook voor die voet enigiets nuuts van Janie Oosthuysen en François Bloemhof. En natuurlik Harry Potter. (Wanneer kom die volgende een uit!!!!????) Onlangs het ek Holes van Louis Sachar gelees, wat 'n ongelooflike indruk op my gelaat het. En Artemis Fowl is die mees verbeeldingryke boek sedert J.K. Rowling besluit het om 'n storie oor 'n bebrilde towenaarseuntjie te skryf.

Jaco Jacobs
Jeugboekskrywer

Ek is 'n Kalahari-kind gebore maar het in die ou Wes-Transvaal grootgeword; Potchefstroom, om presies te wees. My kindertyd was ook vol van boeke, boeke, boeke. Ek wens ek kan van daardie kleintyd se boeke weer kry vir my dogtertjie, Celmarè, wat nou 'n jaar oud is. Hapoor en Slurpie, Nonna se Geheim en 'n boekie oor 'n seuntjie wat in 'n mierkolonie beland; die naam kan ek nie onthou nie. Ek het natuurlik ook die Saartjie-, Uile-, Kobie-, Keurboslaan-reekse en vele ander verslind. Vandag help ek my oudste seun in matriek en tweede in standerd ses met al hulle dinge en ek poog om ook my leesliefde aan hulle oor te dra, so tussen die akademie en sportbedrywighede. Celmarè het al 'n rak vol boeke wat wag om gelees te word. En ek - so tussen werk en kinders knyp ek elke oomblik wat ek kan af om gou 'n bladsy of twee verder te lees; my laaste boek was 'n Andre P. Brink wat my met meer deernis laat dink het aan my medemens, ontwortel, verneder, ontmens.

Magriet Maritz

In 'n gesprek met ons kinders oor wat hulle lees, het ons hulle bietjie vertel van boeke wat vir ons so mooi was. Dadelik is ons na die boekrakke en daar kry ek vir Jaffie (Eitemal) - in 1975 het dit 'n volle R1.25 gekos! Ongelukkig moet my dogter nou wag - ma is net besig om gou te lees. Ons hou een van die dae Kerssangdiens en op die voorblad is die woorde: "Hy was die ene lig, sag en warm, en ligrooi, omtrent soos 'n stukkie dagbreek wat hier op die aarde geval het om almal bly te maak".

Ursula du Plooy
Onderwyseres

Nooit sal ek vergeet hoe ek vasgevang was in die vreugdes en hartseer van die mossies in Twee vir 'n Stuiwer nie. Ons standerd 5 onderwyser, mnr van Reenen het dit vir ons voorgelees. In die hoërskool is ek deur die Maasdorp- en Keurboslaanreekse, en met die Langenhovenjaar het ek my ontrent uitgehuil met die lees van Mof en sy Mense. Toe is dit weer die FA Venter's en P H Nortje's. Omdat ek familie gehad het wat op Wellington gebly het, het ek die stories so geniet. Die liefdesverhale het die agterweë gebly nie en Tryna du Toit is tot laat in die nag gelees. As jong volwassene was dit Audrey Blignaut en Herman Charles Bosman wat my leeslamp laat brand het. Ek het later jare begin om die boeke te versamel en weer te lees en hulle is nou almal ou vriende. Wat vir my die lekkerste is, is dat my kinders soms een van ma se "ou" boeke lees!

Ursula du Plooy
Onderwyseres

Ek het in 'n pioniersamelewing grootgeword en leesstof was skaars, beide in ons huis en die plaasskooltjie. Een van die eerste boeke wat ek uitgeneem het toe ek in die hoërskool aankom, was Heidi. Dit was in Afrikaans vertaal, maar ek het nie geweet of omgegee nie, ek was so meegevoer. In die week het ek altyd by my ouma tuisgegaan, maar naweke het Pa my kom haal. Op hierdie Vrydagmiddag het hy by bekendes aangegaan, maar ek wou nie uit die voertuig klim nie, het soos 'n besetene aangehou met lees en omblaai. Hierdie sprokiesagtige verhaal uit die Switserse Alpe was vir 'n dertienjarige dogter die hoogste vorm van betowering.
Sedertdien het ek baie boeke gelees, en self geskryf ook. Nie een van hulle kan egter aan my doen wat Heidi reggekry het nie: om my heeltemal weg te voer uit my bekende lewe op die rand van die Kalahariwoestyn langs die Oranjerivier.
Weg, na 'n oord waar spierwit sneeu bankvas lê, waar bokklokke dof teen die steil hellings lui, waar 'n vrolike dogtertjie op 'n strooibed in die solderkamer slaap.
Nooit, o nooit, sou my eie bed so sag kon wees, my eie lewe so betowerend vreemd nie.
Heidi, hoe kan ek jou ooit vergeet?

Engela (Linde) van Rooyen
Skrywer van romans vir jeug en volwassenes

As kind het ek in die Noord Transvaal op 'n plekkie met die naam van Alma groot geword. Die "dorpsbiblioteek" was 'n kamer aan die kant van ons huis gewees. Ek het gevolglik enige tyd van die dag of nag vrylik toegang gehad tot die vier vaal kaste vol boeke. Een maal 'n maand het die provinsiale boekebus al die pad van Nylstroom af gekom om boeke om te ruil. Dit was elke keer vir my 'n hoogtepunt gewees, om met die trappie in die bus in te klim en al die nuwe boeke te ruik. Om 'n lang gesprek met Mevrou Veldsman, die reisende bibliotekaresse, te voer, wat duidelik die selfde gevoel vir boeke as ek gehad het. En om as die bus weg is, iewers onder 'n boom te gaan sit en lees en lees en lees.
In die laerskool was ek dol op Elsabe Steenberg se boeke. Later op universiteit het ek haar somtyds op die kampus gesien, maar was altyd te bang/skaam om 'n gesprek te begin. Blou is 'n Bokkie en Boom, bomer boomste sal altyd gunstelinge bly! Ek was ook gek oor Helena Lochner, Hester Heese en C.S. Badenhorst se boeke, onthou jy nog die bloeddorstige Assie? Danda op die oudeur het my aangegryp soos min ander boeke en ek wens Chris Barnard wil meer/weer vir die jeug skryf. Ag, daar was so baie wat ek oor en oor gelees het, Jeanetta, die Tessa- en Groenheuwelreekse, Fritz Deelman, die Buiter en natuurlik Die Uile. Keurboslaan en Maasdorp lees ek nou nog gereeld en verlustig my steeds aan die wonderlike Doktor Serfontein. O ja, en dan was daar die (seker nou, polities uiters onkorrekte) Offerland en Gelofteland.
As volwassene probeer ek hard om by te bly met dit wat met jeugboeke gebeur. Maar helaas, grootmens leesstof maak dit moeilik om elke nuwe Afrikaanse jeugroman wat verskyn, te lees. Ek het egter steeds my gunstelinge, Barrie Hough (veral My Kat word herfs), Janie Oosthuysen (Klara en die blafdemper), Phillip de Vos (Vincent van Gogga), George Weideman (Optog van die Aftjoppers), Franci Greyling (Die meisie van Melrosehuis) en De Waal Venter se verhaal, In die klein Woud, om maar net enkeles te noem. Op die oomblik spandeer ek elke vry sekonde aan Harry Potter. Oe, ek geniet die boeke iets aller verskrikliks!

Solet Scheeres
Jeugboekskrywer

Boeke het van kleintyd af vir my wêrelde oopgemaak! In ons dorpsbiblioteek - die reuk van boeke, houtrakke en ink steeds bekend - het ek armsvol boeke uitgeneem. As ek soms 'n "te moeilike boek vir my" uitgeneem het, het my ma hardop daaruit voorgelees en dan met opset op 'n spanningsvolle plek opgehou... uit nuuskierigheid het ek dan aangegaan en só die boek klaargelees!
In standerd drie het my klasjuffrou, Mara Opperman, vir ons voorgelees uit Boela van Blouwater van Chris Barnard. Ek moes soms op my arms lê sodat my klasmaats nie sien my oë blink so van die trane nie. Nodeloos om te sê: noudat ek skoolhou, is dié juweeltjie uit die Afrikaanse letterkunde my gunsteling voorgeskrewe prosa vir die Graad 8-leerlinge.
Die boeke wat ek graag gelees het was: Saartjie, Patrys-hulle, Trompie en Konsalik. Ook verhale uit Kinders van die wêreld en Skatkis met al sy fabels, mites, feëverhale en hul pragtige illustrasies wat my steeds bybly.
Vandag dink ek met heimweë terug na daardie sorgvrye dae in my kinderjare waar die fondament vir my liefde vir lees in die algemeen, en Afrikaans in die besonder gelê is.

Hannetjie Smith
Afrikaans Onderwyseres

As kind het ek die hele Tarzan-reeks van Edgar Rice Burroughs verslind. Enige boeke en stokiesprente oor Tarzan was my kos. Die oerwoudman wat met olifante kon praat en 'n apie as troeteldier gehad het, was my held. Ek was mal oor avontuurverhale soos Die Vistermannereeks. Die Jasper- en Trompiereekse was vir my ook baie interessanter as die Saartjiereeks, om van Huppelkind nie eers te praat nie.
Ek het ook baie van rympies en kinderverse gehou. Die Grimmbroers se sprokies van hekse en reuse en monsters en prinse en prinsesse was my daaglikse kos. Hans Christian Anderson se stories het my ook oor en oor geboei. Ek het ook gehou van mitiese verhale en stories oor die Griekse gode en godinne.

Soms het ek dierestories gelees, maar ek het nie daarvan gehou as die dierekarakters klere dra nie. Dit was vir my te onwerklik. Feëverhale kon gaan, maar dit was nooit my geliefkoosde leesstof nie. Ek het meer van die Kinderensiklopedie gehou. Dit het vir my 'n wêreld oopgemaak na alles en nog wat.
My ma het vir my ingeskryf op die Kleinspan en later Die Jongspan. Dit was 'n ondervinding! Later was dit Die Patrys. Nog later oorsese strokiestydskrifte soos Jack and Jill, en as tiener die Jackie Magazine. Ek was ook verot op comics en dit het verbasend baie met my Engels gehelp.
My geliefkoosde boeke was my Kinderbybels. Ek het die stories oor en oor gelees en dit het nooit opgehou om my te boei nie. Ek dink die heel eerste boek wat ouers vir hulle kinders moet aanskaf is 'n goeie Kinderbybel of twee. Daarna moet hullle 'n verskeidenheid van leesstof aan hulle kinders bied.
Ek is 'n gepubliseerde skrywer en digter, maar ek is nie skaam om te sê dat ek nog steeds Archie-comics verslind nie. My vriende lag vir my, maar ek is nie 'n leessnob nie. Sedert my kinderjare tot nou is my boekevoorkeur so wydverspreid dat 'n mens dit nie met 'n paar woorde kan vasvang nie.

Mari Grobler

Wat ek as kind gelees het: As kind het ek Hasie Jollieboy verslind, asook Enid Blyton se speurreekse. Al die Trompie en Saartjie-boeke. Elmar Steyn en Heinz Konzalik se boeke. Tryna du Toit se Wag-'n Bietjie was my gunsteling liefdesverhaal.

Louise Prinsloo

Terug na Nostalgie

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2006