|
'n VOLLE R5 000 se prysgeld kan vanjaar gewen word in 'n opwindende,
landwye skryfwedstryd spesiaal deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging
gereël vir volwassenes en hoërskoolleerlinge wat nog nie
voorheen gepubliseer het nie.
Daar is ook vier wisseltrofeë vir skole op die spel. Wenners
van geldpryse kan verder 'n Slypskool vir Ontluikende Skrywers wat
die Bloemfonteinse Skrywersvereniging in Augustus aanbied, gratis
bywoon.
Deelnemers moet een of meer oorspronklike opstelle, vertellings,
kortverhale of kortkortverhale in Afrikaans oor voorgeskrewe onderwerpe
voor Vrydag 9 Mei 2003 indien. Inskrywings word heeltemal anoniem
beoordeel.
Daar is drie afdelings:
- 'n junior afdeling (gr. 8 en 9)
- 'n senior afdeling (gr. 10 - 12) vir hoërskoolleerlinge
- 'n ope afdeling vir volwassenes en leerlinge.
Inskrywings in die skole-afdelings moet hoogstens 1 000 woorde
lank wees en in die ope afdeling hoogstens 2 500 woorde.
In elke afdeling is daar vier pryse, plus 'n aanmoedigingsprys vir
'n deelnemer uit 'n voorheen histories benadeelde gemeenskap, of
vir 'n deelnemer wie se moedertaal nie Afrikaans is nie.
Al die bekroonde inskrywings sal in Inkvars 2003, 'n huishoudelike
publikasie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, gepubliseer
word.
Die wedstryd word deur die Vrystaatse dagblad Volksblad geborg en
word met die steun van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum
en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein geadministreer.
Die wedstryd word sedert 1989 landwyd aangebied en het sedertdien
gegroei tot die grootste in sy soort in die land.
Alle inskrywings moet van 'n voorgeskrewe inskrywingsvorm vergesel
wees.
Om hierdie vorm en ook alle verdere besonderhede oor die wedstryd
te bekom, bel mev. Cecilia van der Linde by (051) 444 0115 (alle
ure) of mnr. Stoffel Cilliers by (051) 436 8089 (na ure).

|