|
Die Katrine Harriestoekenning vir
Kinderboekillustrasies herleef vanjaar na ses jaar - en soos ses
jaar gelede, is die wenner weer Jude Daly, dié keer vir haar
illustrasies in die boek, The Stone, gepubliseer deur die
Britse uitgewers, Francis Lincoln.
Die Katrine Harries Toekenning, die mees prestigieuse
prys in Suid-Afrika vir kinderboekillustrasies is in 1974 ingestel
deur die SA Biblioteekvereniging en is toegeken tot in 1997 met
die ontbinding van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Biblioteek-
en Inligtingkunde. Uitgewers en illustreerders het dikwels die "verdwyning"
van die prys betreur - iets wat Unisa se Eenheid vir Navorsing in
Kinderliteratuur (ENIK) aangespoor het om die prys weer in te stel
en self die verantwoordelikheid vir die toekenning oor te neem.
Na 'n lang soektog na moontlike borge het die tydskrif, Baba en
Kleuter, ingestem op die prys te borg en kon die keuring begin.
Aangesien die prys in 1997 laas toegeken is, is besluit om dit terugwerkend
toe te ken om alle illustreerders wat die afgelope ses jaar gepubliseer
het, 'n kans te gee. Daar is dus 'n agterstand van ses jaar om in
te haal. Die eerste toekenning wat ENIK nou maak, is vir illustrasies
in boeke wat in 1997-8 gepubliseer is. Vir die volgende aantal jare
sal die prys elke jaar toegeken word todat die agterstand ingehaal
is waarna dit weer tweejaarliks toegeken sal word.
Volgens dr Thomas van der Walt van die CLRU, wat
as sameroeper van die beoordelaars opgetree het, was die kompetisie
besonder straf. Die gepubliseerde werk van Suid-Afrikaanse kunstenaars
in 1997-8 was van uitstaande gehalte en dit moeilik om te glo dat
die produksie van daardie twee jaar weer herhaal sal word. Dat me
Daly teen al die kompetisie gewen het, getuig dus van die besondere
kwaliteit van haar publikasies in The Stone.
ENIK het besluit dat alle Suid-Afrikaanse illustreerders
vir die prys in aanmerking sal kom - ook vir werk wat in die buiteland
gepubliseer word. Dit is jammer dat die koste verbonde aan die publikasie
van prenteboeke en die klein kopersmark in Suid-Afrika veroorsaak
dat steeds minder prenteboeke gepubliseer word. Steeds meer illustreerders
wend hulle dus tot buitelandse uitgewers. In sommige gevalle word
van die boeke as koproduksies deur Suid-Afrikaanse uitgewers uitgegee,
maar in ander, soos met The Stone, gebeur dit nie en Suid-Afrikaners
is dikwels nie eers bewus van die voortreflike werk wat plaaslike
kunstenaars in die buiteland produseer nie. Deur hierdie werk ook
in berekening te bring vir die toekenning wil ENIK erkenning aan
die kunstenaars gee, die plaaslike publiek bewus maak van hulle
werk wat in die buiteland uitgegee word maar ook plaaslike uitgewers
aanspoor om die werk ook in Suid-Afrika beskikbaar te maak.
Soos genoem was die kompetisie besonder straf. Die
beoordelaars het dus besluit om 'n aantal boeke wat sterk meegeding
het om die prys, eervol te vermeld. Die boeke is:
Boy on the beach (Niki Daly) Human &
Rousseau
Bravo! Zan Angelo (Niki Daly) Farrar Strauss and Giroux
Die Rooi Rok (Annelise Voigt) Garamond
Lulama's magic blanket (Elizabeth Pulles) Tafelberg
Karnaval van die diere (Piet Grobler) Human & Rousseau
Wow! Its great to be a duck (Joan Rankin) Bodley Head (UK);
McElderry
(USA)
Al hierdie boeke is van wêreldgehalte - en
dit is geen wonder dat twee van hulle, Bravo! Zan Angelo
en Wow! Its great to be a duck ook slegs in die buiteland
verskyn het nie. Karnaval van die diere is wel in Suid-Afrika
uitgegee maar die boek het ook in Nederland, Duitsland, Italië
en die VSA verskyn. Voorwaar 'n pluimpie vir Suid-Afrikaanse illustreerders
maar 'n groot jammerte dat drie van die boeke nie in Suid-Afrika
uitgegee is nie.
Die herinstelling van die prys en die eerste oorhandiging
sedert 1997 vind vanjaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees
in Oudtshoorn plaas op Saterdag 5 April.
Dr Thomas van der Walt ENIK, Unisa

|