| Die kursus word aangebied deur dr Riana Scheepers,
bekende en bekroonde Afrikaanse skrywer, in die historiese opstal op De Compagnie,
Wamakersvallei, Wellington. Die kursus se doelstellings: 1. Om kursusgangers
bekend te stel aan voortreflike tekste in 'n groot verskeidenheid belletristiese
en joernalistieke genres, 2. om kursusgangers te lei in die kritiese beoordeling
van hierdie tekste, en 3. om die skryfkuns van kursusgangers te ontwikkel en
kreatiewe denke te stimuleer. Hierdie kursus is dus nie slegs vir die
literêr-begaafde persoon nie, maar vir almal wat betower word deur die wonderwêreld
van woorde. Die kursusinhoud sluit onder meer in: die lees, skryf en ontleding
van poësie; kortverhale; essays; dramas vir verhoog, radio en televisie;
resensies, advertensies, briewe, nuusberigte ens. Verskeie (opsionele) opdragte
word tydens elke sessie gegee. Tekste van kursusgangers word onderling bespreek
en beoordeel. Dit gebeur te alle tye in 'n simpatieke, maar kritiese atmosfeer.
Daar word jaarliks twee beginnerskursusse aangebied, 'n Herfskursus
en 'n Lentekursus. Die Herfskursus is altyd die tweede week in Mei,
die Lente-kursus is altyd die eerste week in Oktober. Die kursus
duur vanaf Maandag tot Vrydag. Skrywers wat reeds die beginnerskursus
voltooi het, kwalifiseer vir die Opvolgkursusse wat van tyd tot
tyd aangebied word.
Koste van kursus: Prys op aanvraag. Dit sluit alle kursusmateriaal
in. Daar word net van u verwag om skryfpapier en 'n pen saam te
bring. Om jou plek te verseker, word 'n deposito van 50% gevra.
Die deposito sal ten volle terugbetaalbaar word jy 'n maand voor
die tyd kanselleer.
Vir verdere besonderhede, en om
jou 'n plek te bespreek, skakel asb vir Riana Scheepers by 021 864 1241 of 082
8911 025, e pos; rianas@mweb.co.za Die inhoud sal wees:
1. Kennismaking met verskeie voortreflike belletristiese tekste. Nie net
literêre tekste nie, maar ook advertensiekopie, slagspreuke, sms-boodskappe,
doodsberigte, liriek, briewe, resepte en graffiti. Ons luister ook musiek en gaan
vertalings doen uit Middel-Nederlandse tekste. 2. Voltooiing van verskeie
opdragte, tydens die kursus en ook langtermyn-opdragte 3. Die filosofie
van kreatiwiteit - vrae soos: Wat is kreatief? Wie is kreatief? Is ek 'n skrywer
of nie? 4. "Skrywersgeheime" - 'n bietjie oor die werk en die
trieks van die skrywer. Bv. hoe oorkom jy skrywersdroogte (writer's block)
5. Die kwessie van kritiek - hoe gee jy dit, en belangriker : hoe hanteer
jy dit? 6. Werkswinkel: bespreking van geselekteerde skryfstukke uit die
klas. 7. Langtermynopdragte.

|