| Van 11-13
Augustus bied Unisa se Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur (ENIK) 'n slypskool
in kreatiewe skryfwerk aan wat gelei sal word deur vyf top Vlaamse jeugboekskrywers. ENIK
en die vyf skrywers (Marita de Sterck, Els Beerten, Daniel Billiet, Kolet Janssen
en André Sollie) het die slypskool in 2002 en 2003 met groot sukses in
Pretoria en Kaapstad aangebied. Vanjaar sal dit die laaste keer wees dat die skrywers
Suid-Afrika met die finansiële ondersteuning van die Koning Boudewijn Stichting
besoek. Die kursus is gemik op outeurs en potensiële outeurs wat vir
jongmense skryf of wil skryf, asook vir jongmense self wat reeds skryf of wil
skryf. Verder kan onderwysers en ander mense wat met jongmense werk ook by die
kursus baat. Aspekte wat aandag geniet in die kursus is: die inleiding en bekendstelling
van karakters; die skryf van dialoog; skep van terugflitse; hoe om sintuiglik
te skryf; die skryf van briewe; verskillende perspektiewe en verteltye; die opbou
van 'n toneel en die daarstel van intrige. Verskillende praktiese oefeninge
word ingesluit om die vaardighede van kursusgangers te oefen asook om die probleme
en struikelblokke waarmee beginnerskrywers te kampe het, te ondervang. Die skrywers
sal direk terugvoering gee na aanleiding van die tekste wat tydens die kursus
geskryf word. Die beste tekste sal ingesluit word in 'n boek wat die Vlaamse skrywers
saamstel uit tekste wat tydens die Suid-Afrikaanse aanbiedings geskryf is. Die
kursus word in Nederlands aangebied maar aangesien die vyf skrywers baie bekend
met Afrikaans is, bied kommunikasie tussen hulle en die deelnemers geen probleem
nie. Die kursus strek oor drie dae en word by Waterkloof Preparatory Primary
School in Charlesstraat, Pretoria aangebied en kos R300. Rig
navrae aan: Thomas van der Walt Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur
Departement Inligtingkunde Universiteit van Suid-Afrika Posbus 392
0003 Pretoria Tel: (012) 429 6520 Faks: (012) 429 3221 E-pos: vdwaltb@unisa.ac.za |