|
Goeie nuus vir alle kortverhaalskrywers is dat die
Woordfees vanjaar vir die eerste keer - in samewerking met Protea
Boekhuis en LitNet 'n nasionale Afrikaanse kortverhaalkompetisie
aanbied.
Dit is die eerste groot nasionale kompetisie wat ten doel het om
die Afrikaanse kortverhaalgenre te bevorder en sal jaarliks aangebied
word. Aangesien dit belangrik is om aan almal die geleentheid te
gee, is sowel gevestigde- as aspirant kortverhaalskrywers welkom
om deel te neem.
Die pryse, geborg deur Protea Boekhuis en die LOTTO, is nie te
versmaai nie! Die eerste prys is R10 000, tweede prys R7000 en die
debuutprys R5000. Die debuutprys is uitsluitlik vir skrywers wat
nog nie gedebuteer het nie.
Maar dit is nie net kontant wat te wen is nie. Afhangende van die
kwaliteit van die inskrywings, beoog Protea Boekhuis om 'n bundel
met van die beste werke uit te gee. Die idee is dat daar moontlik
elke jaar só 'n bundel saamgestel word, natuurlik onderhewig
aan die aard van die inskrywings.
Die sluitingsdatum vir die kompetisie is Dinsdag 30 November 2004
en geen laat inskrywings sal aanvaar word nie. Inskrywingsgelde
is R20 per kortverhaal en daar is geen beperking op die aantal inskrywings
per skrywer nie. Die kortverhale wat ingeskryf word, kan oor enige
tema handel, maar mag nog nie voorheen gepubliseer wees nie en moenie
2500 woorde oorskry nie. Verder sal alle inskrywings anoniem beoordeel
word.
Die inskrywingsvorm is beskibaar
by die Woordfeeskantoor. Skakel 021 8083513, stuur 'n e-pos na fees@sun.ac.za
of laai dit af op www.sun.ac.za/woordfees

|