| Tweede
oproep om bydraes Internasionale
konferensie oor hibriditeit, liminaliteit en grense
en 2de Konferensie oor Suid-Afrikaanse Kinder- en
Jeugliteratuur (gelyklopend) Die
Potchefstroomse navorsingsgroep oor ruimte en identiteit en die Literator-vereniging,
30 Junie - 2 Julie 2005, Potchefstroom, Suid-Afrika Die
Potchefstroomse navorsingsgroep oor ruimte en identiteit (Fokusarea) en die Literator-vereniging
(wat die geakkrediteerde tydskrif Literator uitgee) nooi belangstellendes uit
om referate voor te lê vir 'n internasionale konferensie oor hibriditeit,
liminaliteit en grense asook vir die 2de Konferensie oor
Suid-Afrikaanse Kinder- en Jeugliteratuur wat gelyklopend in Potchefstroom,
Suid-Afrika gehou sal word van 30 Junie tot 2 Julie 2005. Letterkunde registreer
o.a. die disjunksies tussen verskillende gobale bewegings (A Appadurai) en die
effek wat hierdie bewegings op mense se identiteit en wêreldvisies het.
Die verswakking van grense van tyd en ruimte in die era van globalisering vergroot
lesers se bewussyn van verskillende moontlike wêrelde en brei die grense
van die verbeelding uit. In baie literêre tekste staan grense, die oorsteek
van grense en die effekte van sulke transgressies sentraal. 'n Sistematiese ondersoek
van grense, grensoorskrydings en die nuwe landskappe in literêre tekste
kan baie vrugbaar wees. Dit is ook besonder interessant om die literêre
weerspieëling en modellering van identiteitsvormingsprosesse asook die aard
van die identiteite wat in sulke nuwe landskappe ontstaan, te ondersoek vanuit
grense en die effekte van grensoorskrydings. Die veronderstelling is dus dat die
literêre reaksie op sosiale transformasies soos Suid-Afrika se oorgang na
demokrasie gekarteer kan word deur op grense en hibriditeit te fokus. Deur hulle
karakters oor verskillende grense (dikwels verbonde aan die verlede) heen te laat
beweeg, skep skrywers liminale ruimtes waar transformasie, refigurasie of hibridisering
kan plaasvind. Die interaksie tussen verskillende sones of raamwerke kan verstaan
word as 'n proses van hibridisering, want dit veronderstel 'n dubbele beweging
tussen die verskillende sones wat in 'n ander, gemengde of gehibridiseerde (gekreoliseerde)
taal of vorm uitgedruk word. Sentrale vrae is o.a.: 1. Hoe word hibriditeit,
liminaliteit en grense omskryf en watter modelle bestaan daarvoor? 2. Hoe
word grense, liminale ruimtes en hibridiese identiteitsvormingsprosesse voorgestel
en gekonfigureer in literêre tekste teen die agtergrond van vergelykbare
internasionale letterkundes en tradisies? 3. Wat is die sosiale implikasies
van hierdie konfigurasies? Die fokus sal veral op Suid-Afrikaanse tekste
sedert 1994 val. Die doel van albei konferensies is om die refleksie en
refigurasie van grense, liminale ruimtes en hibridisering van identiteite in belangrike
resente tekste te ondersoek ten einde - * bestek op te neem van die literêre
reaksie op plaaslike transformasies en op die kragte van globalisering, *
om hierdie reaksies te karteer en te sistematiseer, en * om die uiteindelike
sin van hierdie reaksies te bepaal vanuit 'n fokus op grense, liminaliteit en
hibriditeit. Pos of e-pos 'n opsomming van 300 woorde aan Hein Viljoen (afnhmv@puknet.puk.ac.za)
voor 15 Februarie 2005. Voorstelle vir referate spesifiek oor kinder- en jeugliteratuur
kan gestuur word aan Betsie van der Westhuizen (afnesvdw@puk.ac.za). Moontlike
onderwerpe vir die 2de Konferensie oor Suid-Afrikaanse Kinder- en Jeugliteratuur
sluit die volgende in: - Beskouinge van Suid-Afrikaanse kinder-
en jeugboekskrywers oor die aanvraag van die boekemark, die inskakel by of die
verset teen die hoofstroom en globalisasie en die neerslag van hulle reaksies
daarop in hulle werk.
- Die hibridisering van verskillende genres en style
in die skryf en illustreer van kinder- en jeugboeke.
- Die invloed van
die inhoud, styl en ander aspekte van die sisteme van die kinder- en jeugliteratuur
van verskillende dele van die wêreld op Suid-Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur.
- Die invloed van die kinder- en jeugliteratuur van verskillende Suid-Afrikaanse
tale op mekaar.
- Ooreenkomste en verskille tussen die identiteite van
verskillende tale en taalgroepe in die breë Suid-Afrikaanse taallandskap,
byvoorbeeld die ooreenkomste en verskille tussen kinder- en jeugliteratuur van
die Nguni-tale en kinder- en jeugliteratuur in die Sotho-tale.
- Liminale
ruimtes in Suid-Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur, byvoorbeeld drumpeloorgange
vir die uitwisseling van taal en ander kulturele goedere tussen en oor die grense
van verskillende tale.
- Kinderliteratuurgeskiedskrywing in/oor die verskillende
en verwante Suid-Afrikaanse tale - aspekte van die oorbrugging van probleme en
die ontwikkeling van kinder- en jeugliteratuur binne die breë liminale ruimtes
waar Suid-Afrikaanse tale ontmoet.
- Die verbandhoudende velde van Suid-Afrikaanse
kinder- en jeugliteratuur as sisteem/polisisteem sluit liminale ruimtes in waarin
die volgende in wisselwerking is:
- Die produksie van kinderliteratuur:
onderwerpe en temas in kinder- en jeugliteratuur, mondelinge vertelling, die skryf
van verhale, gedigte, drama/opvoer van toneel, uitgewerye, die skep van stories/tekste
vir televisie en films vir die jeug.
- Bemarking en verspreiding: agente,
die boekbedryf.
- Mediëring: die voorlees van verhale en gedigte vir
kinders, kinderteater/tienertoneel, die fasiliteer van verhale, gedigte, toneel
en film vir kleuters, kinders en tieners in alle fases van die onderwys, biblioterapie,
narratiewe terapie.
- Resepsie: behoeftes en leesgewoontes van Suid-Afrikaanse
kleuters, kinders en tieners.
- Literatuurteorie en kinder- en jeugliteratuur.
- Interdissiplinêre
studies.
- Vergelykende studies in Suid-Afrkaanse en die internasionale
konteks.
Navrae oor
die program vir die 2de Konferensie oor Suid-Afrikaanse Kinder- en Juegliteratuur
kan gerig word aan: - Prof. Betsie van der Westhuizen
Vakgroep
Afrikaans en Nederlands Tel.: +27 18 2991491 of: 018 2991491 Faks: +27
18 2991562 of: 018 2991562 E-pos: afnesvdw@puknet.puk.ac.za - Dr.
Franci Greyling
Vakgroep Skryfkuns Tel.: +27 18 2991783 of: 018 2991783
Faks: +27 18 2991562 of: 018 2991562 E-pos: sktsfg@puknet.puk.ac.za
- Dr. Maria Letsie
Vakgroep Afrikatale Tel.: +27 18 2991511 or:
018 2991511 Selfoon: 0723120247 Faks: +27 18 2991562 or: 018 2991562
E-pos: aftmml@puknet.puk.ac.za Ons adres:
Skool vir Tale Fakulteit Lettere en Wysbegeerte Noordwes-Universiteit
(Potchefstroom-kampus) Privaatsak 6001 Potchefstroom 2520 Suid-Afrika
Referaatopsommings van 300 woorde vir die
2de Konferensie oor Suid-Afrikaanse Kinder- en Jeugliteratuur kan gestuur word
aan Betsie van der Westhuizen (afnesvdw@puknet.puk.ac.za). Konferensiegeld:
R500 vir registrasie voor 15 April 2005. Registrasie na 15 April sluit op
15 Junie 2005. Die konferensiegeld bedra dan R700. Prof. Hein Viljoen
Afrikaans en Nederlands Skool vir Tale Noordwes- Universiteit (Potchefstroomkampus)
Privaatsak X6001 Potchefstroom 2520 Suid-Afrika afnhmv@puknet.puk.ac.za
Tel. +27-18-299-1501 Faks +27-18-299-1562 |