ALTESAAM R8 000 se prysgeld (R3 000 meer as verlede jaar)
kan vanjaar gewen word in 'n landwye skryfwedstryd deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging
gereël slegs vir volwassenes en hoërskoolleerlinge wat nog nie voorheen
gepubliseer het nie. Daar is vier wisseltrofeë vir skole op die
spel. Boonop wen die skool wat die meeste inskrywings stuur, R1 000. Wenners
van alle pryse kan verder 'n slypskool vir ontluikende skrywers wat die Bloemfonteinse
Skrywersvereniging in Augustus aanbied, gratis bywoon. Deelnemers moet
een of meer oorspronklike opstelle, vertellings, kortkortverhale of kortverhale
in Afrikaans oor voorgeskrewe, interessante onderwerpe voor Vrydag 6 Mei 2005
indien. Inskrywings word volkome anoniem beoordeel. Daar is drie afdelings:
- 'n junior afdeling (gr. 8 en 9)
- 'n senior afdeling
(gr. 10 - 12) vir hoërskoolleerlinge
- 'n ope afdeling vir volwassenes
en leerlinge.
Inskrywings in die skole-afdelings moet hoogstens 1
000 woorde lank wees en in die ope afdeling hoogstens 2 500 woorde. In elke
afdeling is daar vier pryse, plus 'n aanmoedigingsprys vir 'n deelnemer wie se
moedertaal nie Afrikaans is nie. Al die bekroonde inskrywings sal in Inkvars
2005, 'n huishoudelike publikasie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, gepubliseer
word. Die wedstryd word deur die Vrystaatse dagblad Volksblad geborg en
word met die steun van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
(Naln) in Bloemfontein geadministreer. Die wedstryd word sedert 1989 landwyd
aangebied en het sedertdien gegroei tot die grootste in sy soort in die land.
Inskrywing Alle inskrywings moet van 'n voorgeskrewe inskrywingsvorm
vergesel wees. Bel Stoffel Cilliers
by (051) 436 8089 (alle ure) of Cecilia van der Linde by (051) 444 0115 (alle
ure) om die vorm te kry. Of
besoek die webtuiste: http://www.geocities.com/bsv_skrywers/skryfwedstryd.html Mediabekendmaking
oor landwye skryfwedstryd van Bloemfonteinse Skrywersvereniging deur voorsitter,
mnr. Stoffel Cilliers, op 24 Februarie 2005 |