|
'n Boek oor 'n parmantige krokodilletjie wat weet dat sy lyfie
nie daar is vir ander se plesier nie, 'n tiener wat ontsnap na die virtuele wêreld
van die internet, en 'n boek oor 'n "kido-dinges" is onder vanjaar se
wenners van die gesogte ATKV-Kinderboektoekennings. Die ATKVeertjie vir
kinderboeke is inderdaad 'n besondere toekenning, want die beoordelaars is die
jong lesers self. Vanjaar het nie minder nie as 900 kinders en 27 biblioteke landswyd
as beoordelaars opgetree van kinderboeke wat in 2003 verskyn het. Met hierdie
toekenning hoop die ATKV om die skryf, lees, uitgee en koop van Afrikaanse kinderboeke
aan te moedig, en meer jong lesers van Afrikaanse boeke te ontgin. Die
ATKVeertjie-toekennings gaan aan die skrywers (en illustreerders, waar van toepassing)
van 2003 se beste kinderboeke. Daar is meegeding in vyf kategorieë wat volgens
ouderdomsgroepe ingedeel is, en elke kategoriewenner kry R1 500 en 'n ATKVeertjie-toekenning.
Vanjaar se kategoriewenners is: Kategorie 3- 6 jaar: Parmant
deur Leon de Villiers en geïllustreer deur Samantha van Riet. Met hierdie
baie verstaanbare verhaaltjie met sy prettige illustrasies leer Parmant, die sjarmante
krokodilletjie, die kleingoed op 'n maklik verstaanbare manier dat net hulle mag
besluit wie aan hul lyfies mag vat. Vir meer pret is daar uitknip vingerpoppe
agter in die boek. Van Riet se illustrasies is kleurryk en so reg na die hart
van klein lesertjies. Die boek is ideaal vir voorlees en eerste selflees. (Uitgegee
deur LAPA Uitgewers.) De Villiers is geen onbekende as dit kom by toekennings
nie en het al vantevore die ATKV-Kinderboektoekenning gekry. Hy spog ook met verskeie
ander pryse en toekennings, onder meer die Sanlamprys vir Beginners en die Scheepersprys
vir Jeugliteratuur vir die Akademie vir Wentenskap en Kuns (beide vir Die Pro)
asook die Alba Bouwerprys van die SA Akademie vir Droomoog Diepgrawer. Hy woon
in Vredefort in die Vrystaat. Hy sê hy werk "voltyds" in sy tuin,
"behalwe as ek soms tyd kry om te skryf." Samantha van Riet is
'n vryskut-illustreerder wat onder meer gesorg het vir die illustrasies in "Die
Geïllustreerde Kinderbybel" wat in 2004 by Struik verskyn het. Vir haar
kombineer kinderboek-illustrasie drie van haar gunsteling dinge: "kinders,
boeke en teken", en juis daarom beskou sy dit as 'n spesiale eer dat kinders
haar werk vir hierdie toekenning gekies het. Kategorie Graad 1- 3:
Manie se Motor deur Una Koch en geïllustreer deur Alta Joubert is die verhaal
van Manie wat op sy verjaarsdag wens vir 'n motor net soos sy pa s'n. Wanneer
sy wens onverwags waar word, word dit 'n senutergende rit vol avonture. Gelukkig
vir Manie was dit alles net 'n droom... Una Koch se verhaaltjie sal die kleingoed
fassineer en kan maklik self gelees word. Die ritme is vinnig, die rymteks goed
uitgedink en die illustrasies deur Alta Joubert net reg vir kinderverbeeldings.
(Uitgegee deur Junior Student Uitgewers.) Una Koch is met kinderboekgene
in haar bloed gebore. Sy is 'n nasaat van die bekende Helena J.F. Lochner, en
vir dié oud-onderwyseres en -spraakterapeut was die skryf van kinderboeke
'n logiese volgende stap. Sy skryf opvoedkundige kinderboeke, storieboeke vir
kinders en jeugverhale, en gee dit self uit. Die ouma van sewe is baie ingenome
dat die "klein japsnoete en pikkewyne" haar boek as wenner aangewys
het. "Om die wêreld te beleef met die entoesiasme van 'n kind, is 'n
voorreg," sê sy. Alta Joubert is 'n bekende kunstenaar van George
wat reeds verskeie solo-uitstallings op haar kerfstok het. Sy het al opdragwerk
vir Eskom en South African Airways gedoen, en werk graag met waterverf en olieverf
as medium. Sy is die laaste drie jaar betrokke by die illustrasie van kinderboeke. Kategorie
Graad 4- 5: Erik en die kido-dinges kom ook uit die pen van Leon de Villiers,
en sal selfs die mees siniese, lui laerskool-lesertjie verlei om Afrikaans te
lees. Dis die verhaal van Erik, wat wens hy het 'n ander gesin. Totdat sy ma sy
wens bewaarheid en hom na 'n kidoteek neem sodat hy vir hom 'n ander gesin kan
gaan uitkies. En natuurlik is Erik toe nie meer so seker nie... (Uitgegee deur
LAPA Uitgewers.) Kategorie Graad 6-7: Pretpark is 'n lekker grillerige
verhaal uit die pen van Jaco Jacobs. Toe die reisende pretpark die dorp besoek,
is die kinders baie opgewonde, want daar gebeur mos nooit veel op 'n klein plekkie
nie. Maar is die ongeskikte ou sigeunerin met haar swart kraai en haar krysende
stem se hipnotiseer-toertjies werklik so onskuldig? Pretpark is byderwets, slim
geskryf en net reg om ouer laerskoolkinders met hul neuse in die boek te hou.
(Uitgegee deur Human & Rousseau.) Jaco Jacobs is geen nuweling as dit
kom by skryf nie. Hy publiseer reeds sedert sy skooldae, en het sy eerste jeugboek,
die einste Pretpark, reeds in Matriek voltooi. Daar het al dertien jeugboeke uit
sy pen verskyn, onder meer Superheroes vlieg net saans en My ouma is 'n rock-ster.
Hy was voorheen onder meer redakteur van die Volksblad se boekeblad en die koerant
se bylaes JIP en Joernaal. Hy het al verskeie boeke vertaal en is tans assistent-uitgewer
by LAPA Uitgewers. Dit is die tweede keer dat hy 'n ATKV-Kinderboektoekenning
kry. Kategorie Graad 8-10: Koning Henry deur Carina Diedericks-Hugo
is 'n boek so reg na die moderne tiener se hart. In die boek word 'n virtuele
wêreld geskep waarin enigiets moontlik is, waarin die grens tussen werklikheid
en skyn vervaag en ineenvloei. Die gevolg? 'n Wêreld waarin jy kan verdwyn,
net soos Henry de Vries, wat mal is oor oliebolle, Coke en rekenaars. En natuurlik
ook oor die internet... Koning Henry is geskryf vir die rekenaar-generasie wat
vinniger kan SMS as skryf en wat weet presies wat om waar te soek op die virtuele
web. Maar dis ook 'n verhaal vir gewone, onseker tieners in 'n Afrikaans wat hulle
praat en graag sal wil lees. (Uitgegee deur Tafelberg Uitgewers.) Carina
Diederichs-Hugo is geen onbekende in die boekewêreld nie. As sy nie boeke
vir jongmense skryf nie, is sy kinderboekredakteur by Human & Rousseau, en
tussendeur werk sy aan 'n MPhil-graad in Joernalistiek. Sy bieg dat sy steeds
wens mens kon soveel lekkers koop vir tien sent as wat Trompie altyd kon doen,
en dat sy smag na 'n cool litteken soos die van Harry Potter. En met apologie
aan haar man, die digter Daniël Hugo, bieg sy dat sy steeds verlief is op
die aantreklike Dr. Serfontein van die toeka se Keurboslaan-reeks! Meer
inligting oor die ATKVeertjie-toekennings kan verkry word by die projekorganiseerder,
Ilse Schürmann by 082 851 7157. Of kliek op www.atkv.org.za. |