| Bekendstelling
van Van Patrys-hulle tot Hanna Hoekom: 'n gids tot die Afrikaanse kinder- en jeugboek. 
LAPA
Uitgewers. Redakteurs: Marita Snyman en Gretel Wybenga Hierdie
gids vervul n wesenlike leemte ten opsigte van oorspronklike navorsing by
resente tekste en genres oor Afrikaanse kinder- en jeugboeke op alle vlakke. Dit
is geskik vir die vakspesialis soos biblioteekkundiges, navorsers op die terrein
van kinder- en jeugliteratuur en voor- en nagraadse studente aan tersiêre
inrigtings, maar ook vir die algemene leser soos ouers, onderwysers en ander belangstellendes.
Die boek is verdeel in n afdeling met artikels oor die kinderboekillustrasie,
kindertydskrifte, bekronings, die vertaalde boek en reeksboeke, sowel as n
poësie-, prosa-, en toneeloorsig. Die tweede afdeling bevat 123 outeursprofiele,
alfabeties gerangskik. Met
hierdie omvattende werk word die Afrikaanse kinderliteratuur nie net grondig deel
van die gedokumenteerde Afrikaanse letterkunde nie, maar dit vestig ook sy eie
kanon kinderliteratuur word hiermee as selfstandige literêre genre
binne die groter Afrikaanse letterkunde staangemaak. Kinderliteratuur is egter
nie net van akademiese belang nie, want die klein leser van vandag is die groot
leser van môre. Nou kan Ma en Ouma die kleinspan ook ingelig Afrikaans laat
lees. Hierdie oorsig van Afrikaanse kinderliteratuur is geruime tyd al nodig.
Nou word nog `n stuk van Afrikaans as hoëfunksietaal permanent gevestig,
en ons as skrywers en as lesers sê dankie vir nog `n belangrike mylpaal
in die geskiedenis van die Afrikaanse boek vir lesers wat nie wil oud word nie!
Hans du Plessis Van
Patrys-hulle tot Hanna Hoekom vervul 'n belangrike leemte in die beskrywing
van die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur en dit is ideaal geskik vir kinders,
ouers, onderwysers, akademici, uitgewers, bibliotekarisse, boekhandelaars - trouens,
elkeen wat op die een of ander wyse betrokke is by die kind en die leefwêreld
van die kind. Dit kan inderdaad met reg aanspraak maak op die benaming standaardwerk
oor hierdie breë terrein. Koop die boek, lees die boek, praat oor die boek - hierdie
boek verdien om gebruik te word, want dit maak op 'n maklik leesbare wyse die
literatuur oor hierdie terrein vir ons oop." (Prof. Wannie Carstens, Direkteur
van die Skool vir Tale, Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit en
ondervoorsitter van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans) |