Werfjoernaal
 
2005-07-04

werfjoernaal
argief



Via Afrika en M-Net se literêre pryse 2004

Persverklaring


Die wenners van Via Afrika en M-Net se literêre pryse vir werke wat in 2004 gepubliseer is, is op Dinsdag, 14 Junie 2005 by ’n glansgeleentheid in Kaapstad bekend gemaak. Prysgeld ter waarde van R300 000 is tydens die geleentheid aan die wenners oorhandig. Bobaasstorieverteller Gcina Mhlope en liedjieskrywer en vermaaklikheidster Nataniël was die seremoniemeesters.

Anoeschka von Meck (Vaselinetjie) het met drie verskillende pryse weggestap terwyl Marlene van Niekerk twee pryse vir Agaat ontvang het.

Die totale waarde van Via Afrika se ses pryse, waarvan een, die Jan Rabie-prys, in oorleg met die Sondagkoerant Rapport aangebied word, is R140 000. Die totale waarde van die M-Net-Literêre Pryse is R160 000.

Via Afrika:

Vyf van die pryse word toegeken aan werke wat in die vorige kalenderjaar by uitgewerye in die Via Afrika-groep verskyn het, terwyl werke van enige uitgewer vir die sesde, die Jan Rabie-prys vir vernuwende Afrikaanse prosa, in aanmerking kom. Die pryse vereer almal leidende figure in die vestiging van ’n Suid-Afrikaanse boekkultuur en -bedryf.

Die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse letterkunde is toegeken aan Marlene van Niekerk vir haar roman Agaat wat by Tafelberg-Uitgewers verskyn het. Dié werk van Van Niekerk, wat tien jaar na die publikasie van Triomf die lig gesien het, is vanjaar ook met die Universiteit van Johannesburg-prys vir skeppende skryfwerk bekroon.

Die WA Hofmeyr-prys word reeds sedert die vyftigerjare toegeken. Onder vorige wenners tel NP van Wyk Louw en DJ Opperman.

Vaselinetjie deur Anoeschka von Meck (Tafelberg-Uitgewers) het die dubbele onderskeiding behaal dat beide die Jan Rabie/Rapport-prys en die MER-prys vir jeuglektuur daaraan toegeken is. Sy het ook ’n M-Net-prys daarvoor ontvang. Von Meck het in 1998 die eerste keer die aandag op haar gevestig met haar debuutroman, Annerkant die longdrop. Haar tweede boek, Vaselinetjie, wat gegrond is op haar ervarings as ’n versorger by ’n kinderhuis, bring ’n wêreld onder woorde wat aan min mense bekend is.

Die tweede prys wat na die gevierde Afrikaanse skrywer MER vernoem is, dié vir kinderlektuur, is toegeken aan Wynand Louw vir Mr Humperdinck’s wonderful whatsit, met illustrasies deur Marjorie van Heerden (Human & Rousseau). Die boek word beskryf as een wat gelees moet word “deur almal wat smag na towerkuns en avontuur, met ’n tikkie bisarheid daarby”.

Die Recht Malan-prys vir nie-fiksie is gewen deur Gandhi's Prisoner? The Life of Gandhi's son Manilal (Kwela Boeke) deur sy kleindogter, Uma Dhupelia-Mesthrie. In die boek word uitvoerig gebruik gemaak van die briefwisseling tussen die Mahatma en sy vier seuns om hul onderlinge verhouding te verklaar.

Keorapetse Kgositsile se This Way I Salute You (Kwela Boeke en Snailpress) is bekroon met die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse letterkunde. Dié tweede bloemlesing van die internasionaal bekende Kgositsile bevat ’n keur uit sy huldigingsgedigte oor hoofsaaklik musikante en mededigters.

Via Afrika se uitvoerende hoof, dr Musa Shezi, het by die dinee hulde gebring aan al die skrywers wie se werke die kortlyste vir die verskillende pryse gehaal het. “Deur die vennootskap van Via Afrika en M-Net wil ons steun bied aan al die skrywers van ons land en so help om ’n Suid-Afrikaanse letterkunde op te bou wat as ’n ryke kultuurerfenis vir ons nageslagte kan dien. Die gehalte van die werk wat vir vanjaar se kortlyste gekeur is, was uitsonderlik hoog en dit was vir die beoordelaarspanne geen maklike taak om die finale keuse te maak nie.”

Sonja Loots, die boekredaktrise van Rapport, is die wenner van die 2004 Via Afrika Boekjoernalis van die Jaar-kompetisie. Dié roman- en draaiboekskryfster en digteres wat ook ’n deeltydse lektrise aan die Universiteit van Johannesburg is, het haar prys van R15 000 op 14 Junie by die galadinee in Kaapstad ontvang. Die funksie is deur Via Afrika in oorleg met M-Net aangebied.

Die drie beoordelaars, onder voorsitterskap van dr Wilmot James, erehoogleraar in menslike genetika aan die Universiteit van Kaapstad, het besluit om nie ’n prys toe te ken in die nuut geskepte studentekategorie nie, maar om die prysgeld van R5 000 aan die naaswenner in die hoofkategorie, Bettie Kemp van RSG, te laat toekom.

James het Loots se inskrywing as “vars, toeganklik, pretensieloos en passievol” beskryf.. Hy noem haar een van Suid-Afrika se min essayiste en prys haar werk wat deur Rapport gepubliseer word vir die “intellektuele gesag, belesenheid en insigte wat daaruit spreek."

Kemp is as naaswenner aangewys weens haar vermoë om die unieke wyse waarop skrywers die wêreld sien en verstaan, in almal se sitkamers te herskep. “Sy slaag daarin om skrywers uit hul sogenaamde ivoortorings te haal en na ’n breë en uiteenlopende gehoor te neem.”

Terwyl hy Rapport, RSG, die Sunday Times en Sunday Independent daarvoor geluk gewens het dat hulle boekjoernaliste voldoende redaksionele ruimte bied om boeke en skrywers in diepte te bespreek, het James gesê die boekbedryf en die media moet meer daarin belê om ’n leeskultuur en waardering vir boeke by alle sektore van die Suid-Afrikaanse gemeenskap te bevorder.

Hy en sy medebeoordelaars, die skryfster Diane Awerbuck en CapeTalk-aanbieder John Maytham, was teleurgesteld dat so min inskrywings van swart joernaliste ontvang is. Hulle het ook bevind dat die kaliber van Afrikaanse inskrywings hoër was as dié wat deur Engelstalige joernaliste voorgelê is en het gevra om groter oorspronklikheid van menings en denke.

M-Net:

Die M-Net-Literêre Pryse, ’n uitbreiding van die ou M-Net-Boekprys, gee erkenning aan werke van plaaslike skrywers in dié land se inheemse tale. Die prys is 14 jaar gelede die eerste keer toegeken.

M-Net en Via Afrika se uitvoerende hoofde, mnr Glen Marques en dr Musa Shezi, het by die dinee net die hoogste lof gehad vir die land se skrywers.

Die pryse het ’n rekordgetal van 164 inskrywings gelok. Daar was 67 inskrywings in die Nguni-kategorie, wat isiZulu, isiXhosa, isiNdebele en siSwati insluit, en 28 in die Sotho-kategorie, wat SeSotho, SeSotho saLeboa en Setswana omvat. Die Tshivenda- en Xitsonga-kategorieë het elk 21 inskrywings gelok en die Afrikaans-kategorie 48.

Die paneel van beoordelaars onder leiding van prof Cynthia Marivate, uitvoerende hoof van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, en mnr Mothobi Mutloatse, skrywer en onafhanklike uitgewer, het na lang beraadslaging die wenners in die onderskeie kategorieë aangekondig.

Die wenners is:

Langformaat:

SeSotho: Mpheng Toka deur NA Mphanya
Nguni: Isiqalo Esisha “’n Nuwe begin” deur SD Khumalo
TshiVenda: Ndila dza Funguvhu deur Sharon Mbedzi
SeTsonga: Mulunguntima deur DJ Risenga
Afrikaans: Agaat deur Marlene van Niekerk

Kortformaat:

SeSotho: geen wenner
Nguni: Ukufa Kusembizeni "die probleem kom van binne” deur Y Madolo
TshiVenda: Ro no vhona’ni? "Jy het nog niks gesien nie" deur NE Sigogo
SeTsonga: Swa humelela deur ET Mlangeni
Afrikaans: Vaselinetjie deur Anoeschka von Meck

Poësie:

SeSotho: Binang Mmoho deur Maphalla, Monyooe en Ngcancga
Nguni: Intathakusa deur GC Nyanda en JJ Thwala
TshiVenda: Mitsindo Ya Afrika deur KY Ladzani
SeTsonga: geen wenner
Afrikaans: In die geheim van die dag deur Charl-Pierre Naudé Lewenstoekenning: Prof Mazisi Kunene

Dat die jongste pryskompetisie veel meer inskrywings as vorige jare ontvang het, word toegeskryf aan M-Net se oproep-vir-inskrywings-veldtog in al die provinsies en die besluit om die omvang van die kompetisie aansienlik uit te brei deur voorsiening te maak vir romans, biografieë, dramatekste, kinderboeke, kortverhale en digkuns.

Elk van die pryse dek drie kategorieë – een vir werke van lang formaat met ’n prysgeld van R20 000; een vir werke van kort formaat, met ’n prysgeld van R5 000; en een vir poësie, ook R5 000. ’n Spesiale toekenning van R10 000 is gemaak aan ’n persoon wat besonderse bydrae gelewer het tot die bevordering van die Suid-Afrikaanse letterkunde. Die doel daarmee is om jong skrywers aan te moedig en te motiveer.

“Ek is baie opgewonde oor die getal inskrywings wat ons vanjaar ontvang het – ’n toename van 24 tot 164 is merkwaardig. Dit plaas ook die kollig op ons diverse kreatiwiteit oor die taalgroepe heen. Ons beskik oor ’n ryk en kreatiewe skryfkultuur, en M-Net se steun daarvoor kan dit net laat groei en voortleef,” het prof Marivate gesê.

“Hoewel die standaard van skryfwerk verhoog het met ’n gepaardgaande uitbreiding van style en temas, kan hierdie nuwe skrywers nog nie kers vashou by die klassieke skrywers nie. Vanjaar was daar ook vier jong, energieke vroue wat met die louere weggeloop het, en bewys dat wie ook al ’n storie het om te vertel, kan skryf," het sy gesê.

Mev Hettie Scholtz, uitgewer en hoofbestuurder van HAUM Literêr, het aan die hoof gestaan van die keuring van Afrikaanse inskrywings. “Afrikaans lok altyd ‘n beduidende getal inskrywings in al die genres en vanjaar was geen uitsondering nie,” het sy gesê.

Inskrywings vir die M-Net Literêre Pryse word beoordeel op grond van literêre verdienste, ’n sterk verhaalinhoud en die toeganklikheid daarvan vir die breë Suid-Afrikaanse publiek.

"M-Net het vanjaar hoër standaarde gestel as in die verlede sodat skrywers deurlopend hul skryfwerk moet verbeter," het Glen Marques gesê. "Dit stel hulle in staat om die voortou te neem in hierdie mededingende omgewing en om hulself voortdurend te verbeter. Ons het vanjaar ook daarvoor voorsiening gemaak dat skrywers nie in ’n enkele skryfvorm uitdrukking aan hul talente gee nie. Vandaar die besluit om alle skrywers te nooi om deel te neem. En ons het weer eens besluit om erkenning te gee aan een persoon vir sy of haar belangrike bydrae oor die jare.

“Ter erkenning van die sleutelrol van die letterkunde in die ontwikkeling van ’n leeskultuur beloon M-Net graag gepubliseerde roman- en ander skrywers vir hul bydrae en is ons trots op ons verbintenis met die kompetisie,” het hy gesê.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005