| Persverklaring Die
wenners van Via Afrika en M-Net se literêre pryse vir werke wat in 2004
gepubliseer is, is op Dinsdag, 14 Junie 2005 by n glansgeleentheid in Kaapstad
bekend gemaak. Prysgeld ter waarde van R300 000 is tydens die geleentheid aan
die wenners oorhandig. Bobaasstorieverteller Gcina Mhlope en liedjieskrywer en
vermaaklikheidster Nataniël was die seremoniemeesters.
Anoeschka von
Meck (Vaselinetjie) het met drie verskillende pryse weggestap terwyl Marlene van
Niekerk twee pryse vir Agaat ontvang het. Die totale waarde van Via Afrika
se ses pryse, waarvan een, die Jan Rabie-prys, in oorleg met die Sondagkoerant
Rapport aangebied word, is R140 000. Die totale waarde van die M-Net-Literêre
Pryse is R160 000. Via Afrika: Vyf
van die pryse word toegeken aan werke wat in die vorige kalenderjaar by uitgewerye
in die Via Afrika-groep verskyn het, terwyl werke van enige uitgewer vir die sesde,
die Jan Rabie-prys vir vernuwende Afrikaanse prosa, in aanmerking kom. Die pryse
vereer almal leidende figure in die vestiging van n Suid-Afrikaanse boekkultuur
en -bedryf. Die WA Hofmeyr-prys vir Afrikaanse letterkunde is toegeken
aan Marlene van Niekerk vir haar roman Agaat wat by Tafelberg-Uitgewers verskyn
het. Dié werk van Van Niekerk, wat tien jaar na die publikasie van Triomf
die lig gesien het, is vanjaar ook met die Universiteit van Johannesburg-prys
vir skeppende skryfwerk bekroon. Die WA Hofmeyr-prys word reeds sedert
die vyftigerjare toegeken. Onder vorige wenners tel NP van Wyk Louw en DJ Opperman.
Vaselinetjie deur Anoeschka von Meck (Tafelberg-Uitgewers) het die dubbele
onderskeiding behaal dat beide die Jan Rabie/Rapport-prys en die MER-prys vir
jeuglektuur daaraan toegeken is. Sy het ook n M-Net-prys daarvoor ontvang.
Von Meck het in 1998 die eerste keer die aandag op haar gevestig met haar debuutroman,
Annerkant die longdrop. Haar tweede boek, Vaselinetjie, wat gegrond is op haar
ervarings as n versorger by n kinderhuis, bring n wêreld
onder woorde wat aan min mense bekend is. Die tweede prys wat na die gevierde
Afrikaanse skrywer MER vernoem is, dié vir kinderlektuur, is toegeken aan
Wynand Louw vir Mr Humperdincks wonderful whatsit, met illustrasies deur
Marjorie van Heerden (Human & Rousseau). Die boek word beskryf as een wat
gelees moet word deur almal wat smag na towerkuns en avontuur, met n
tikkie bisarheid daarby. Die Recht Malan-prys vir nie-fiksie is gewen
deur Gandhi's Prisoner? The Life of Gandhi's son Manilal (Kwela Boeke) deur sy
kleindogter, Uma Dhupelia-Mesthrie. In die boek word uitvoerig gebruik gemaak
van die briefwisseling tussen die Mahatma en sy vier seuns om hul onderlinge verhouding
te verklaar. Keorapetse Kgositsile se This Way I Salute You (Kwela Boeke
en Snailpress) is bekroon met die Herman Charles Bosman-prys vir Engelse letterkunde.
Dié tweede bloemlesing van die internasionaal bekende Kgositsile bevat
n keur uit sy huldigingsgedigte oor hoofsaaklik musikante en mededigters.
Via Afrika se uitvoerende hoof, dr Musa Shezi, het by die dinee hulde gebring
aan al die skrywers wie se werke die kortlyste vir die verskillende pryse gehaal
het. Deur die vennootskap van Via Afrika en M-Net wil ons steun bied aan
al die skrywers van ons land en so help om n Suid-Afrikaanse letterkunde
op te bou wat as n ryke kultuurerfenis vir ons nageslagte kan dien. Die
gehalte van die werk wat vir vanjaar se kortlyste gekeur is, was uitsonderlik
hoog en dit was vir die beoordelaarspanne geen maklike taak om die finale keuse
te maak nie. Sonja Loots, die boekredaktrise van Rapport, is die
wenner van die 2004 Via Afrika Boekjoernalis van die Jaar-kompetisie. Dié
roman- en draaiboekskryfster en digteres wat ook n deeltydse lektrise aan
die Universiteit van Johannesburg is, het haar prys van R15 000 op 14 Junie by
die galadinee in Kaapstad ontvang. Die funksie is deur Via Afrika in oorleg met
M-Net aangebied. Die drie beoordelaars, onder voorsitterskap van dr Wilmot
James, erehoogleraar in menslike genetika aan die Universiteit van Kaapstad, het
besluit om nie n prys toe te ken in die nuut geskepte studentekategorie
nie, maar om die prysgeld van R5 000 aan die naaswenner in die hoofkategorie,
Bettie Kemp van RSG, te laat toekom. James het Loots se inskrywing as vars,
toeganklik, pretensieloos en passievol beskryf.. Hy noem haar een van Suid-Afrika
se min essayiste en prys haar werk wat deur Rapport gepubliseer word vir die intellektuele
gesag, belesenheid en insigte wat daaruit spreek." Kemp is as naaswenner
aangewys weens haar vermoë om die unieke wyse waarop skrywers die wêreld
sien en verstaan, in almal se sitkamers te herskep. Sy slaag daarin om skrywers
uit hul sogenaamde ivoortorings te haal en na n breë en uiteenlopende
gehoor te neem. Terwyl hy Rapport, RSG, die Sunday Times en Sunday
Independent daarvoor geluk gewens het dat hulle boekjoernaliste voldoende redaksionele
ruimte bied om boeke en skrywers in diepte te bespreek, het James gesê die
boekbedryf en die media moet meer daarin belê om n leeskultuur en
waardering vir boeke by alle sektore van die Suid-Afrikaanse gemeenskap te bevorder.
Hy en sy medebeoordelaars, die skryfster Diane Awerbuck en CapeTalk-aanbieder
John Maytham, was teleurgesteld dat so min inskrywings van swart joernaliste ontvang
is. Hulle het ook bevind dat die kaliber van Afrikaanse inskrywings hoër
was as dié wat deur Engelstalige joernaliste voorgelê is en het gevra
om groter oorspronklikheid van menings en denke. M-Net:
Die M-Net-Literêre Pryse, n uitbreiding van die
ou M-Net-Boekprys, gee erkenning aan werke van plaaslike skrywers in dié
land se inheemse tale. Die prys is 14 jaar gelede die eerste keer toegeken. M-Net
en Via Afrika se uitvoerende hoofde, mnr Glen Marques en dr Musa Shezi, het by
die dinee net die hoogste lof gehad vir die land se skrywers. Die pryse
het n rekordgetal van 164 inskrywings gelok. Daar was 67 inskrywings in
die Nguni-kategorie, wat isiZulu, isiXhosa, isiNdebele en siSwati insluit, en
28 in die Sotho-kategorie, wat SeSotho, SeSotho saLeboa en Setswana omvat. Die
Tshivenda- en Xitsonga-kategorieë het elk 21 inskrywings gelok en die Afrikaans-kategorie
48. Die paneel van beoordelaars onder leiding van prof Cynthia Marivate,
uitvoerende hoof van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, en mnr Mothobi Mutloatse,
skrywer en onafhanklike uitgewer, het na lang beraadslaging die wenners in die
onderskeie kategorieë aangekondig. Die wenners is: Langformaat:
SeSotho: Mpheng Toka deur NA Mphanya Nguni: Isiqalo Esisha n
Nuwe begin deur SD Khumalo TshiVenda: Ndila dza Funguvhu deur Sharon
Mbedzi SeTsonga: Mulunguntima deur DJ Risenga Afrikaans: Agaat deur Marlene
van Niekerk Kortformaat: SeSotho: geen
wenner Nguni: Ukufa Kusembizeni "die probleem kom van binne deur
Y Madolo TshiVenda: Ro no vhonani? "Jy het nog niks gesien nie"
deur NE Sigogo SeTsonga: Swa humelela deur ET Mlangeni Afrikaans: Vaselinetjie
deur Anoeschka von Meck Poësie: SeSotho:
Binang Mmoho deur Maphalla, Monyooe en Ngcancga Nguni: Intathakusa deur GC
Nyanda en JJ Thwala TshiVenda: Mitsindo Ya Afrika deur KY Ladzani SeTsonga:
geen wenner Afrikaans: In die geheim van die dag deur Charl-Pierre Naudé
Lewenstoekenning: Prof Mazisi Kunene Dat die jongste pryskompetisie veel
meer inskrywings as vorige jare ontvang het, word toegeskryf aan M-Net se oproep-vir-inskrywings-veldtog
in al die provinsies en die besluit om die omvang van die kompetisie aansienlik
uit te brei deur voorsiening te maak vir romans, biografieë, dramatekste,
kinderboeke, kortverhale en digkuns. Elk van die pryse dek drie kategorieë
een vir werke van lang formaat met n prysgeld van R20 000; een vir
werke van kort formaat, met n prysgeld van R5 000; en een vir poësie,
ook R5 000. n Spesiale toekenning van R10 000 is gemaak aan n persoon
wat besonderse bydrae gelewer het tot die bevordering van die Suid-Afrikaanse
letterkunde. Die doel daarmee is om jong skrywers aan te moedig en te motiveer.
Ek is baie opgewonde oor die getal inskrywings wat ons vanjaar ontvang
het n toename van 24 tot 164 is merkwaardig. Dit plaas ook die kollig
op ons diverse kreatiwiteit oor die taalgroepe heen. Ons beskik oor n ryk
en kreatiewe skryfkultuur, en M-Net se steun daarvoor kan dit net laat groei en
voortleef, het prof Marivate gesê. Hoewel die standaard
van skryfwerk verhoog het met n gepaardgaande uitbreiding van style en temas,
kan hierdie nuwe skrywers nog nie kers vashou by die klassieke skrywers nie. Vanjaar
was daar ook vier jong, energieke vroue wat met die louere weggeloop het, en bewys
dat wie ook al n storie het om te vertel, kan skryf," het sy gesê.
Mev Hettie Scholtz, uitgewer en hoofbestuurder van HAUM Literêr,
het aan die hoof gestaan van die keuring van Afrikaanse inskrywings. Afrikaans
lok altyd n beduidende getal inskrywings in al die genres en vanjaar was
geen uitsondering nie, het sy gesê. Inskrywings vir die M-Net
Literêre Pryse word beoordeel op grond van literêre verdienste, n
sterk verhaalinhoud en die toeganklikheid daarvan vir die breë Suid-Afrikaanse
publiek. "M-Net het vanjaar hoër standaarde gestel as in die
verlede sodat skrywers deurlopend hul skryfwerk moet verbeter," het Glen
Marques gesê. "Dit stel hulle in staat om die voortou te neem in hierdie
mededingende omgewing en om hulself voortdurend te verbeter. Ons het vanjaar ook
daarvoor voorsiening gemaak dat skrywers nie in n enkele skryfvorm uitdrukking
aan hul talente gee nie. Vandaar die besluit om alle skrywers te nooi om deel
te neem. En ons het weer eens besluit om erkenning te gee aan een persoon vir
sy of haar belangrike bydrae oor die jare. Ter erkenning van die
sleutelrol van die letterkunde in die ontwikkeling van n leeskultuur beloon
M-Net graag gepubliseerde roman- en ander skrywers vir hul bydrae en is ons trots
op ons verbintenis met die kompetisie, het hy gesê. |