| Skrywers wen groot geld in Sanlam-prys vir
Jeuglektuur: Drie Afrikaanse wenners pleks van twee! Die wenners van
vanjaar se Sanlam-pryse vir jeuglektuur is so pas bekend gemaak. Die standaard
van die Afrikaanse inskrywings was so hoog en die twee manuskripte wat meegeding
het om Goud het so kop aan kop geloop dat die beoordelaars nie anders kon as om
aan albei presies dieselfde punt toe te ken nie. Waarop die borg, Sanlam,
toe besluit het om vanjaar twéé eerste pryse toe te ken pleks van
net een. Die twee uitskieters is François Bloemhof, wat al 26 boeke
vir sowel volwassenes as jonger lesers gepubliseer het, en die nuweling Fanie
Viljoen, wie se tweede boek dit is. (Die eerste, Slym, handel oor 'n wurm met
'n identiteitskrisis en is vir lesers van 7 of 8 jaar oud.) Viljoen se jeugverhaaldebuut,
BreinBliksem, speel af in Bloemfontein, waar hy woon. Drie kêrels wat die
middelvinger gooi vir alles en almal ruk op na 'n rockfees by die Allemanskraaldam.
Die verhaal skets die aanloop, gebeure en afloop van dié ekskursie soos
gesien deur die benewelde brein van een van die groep, genaamd Burns. François
Bloemhof se Nie vir kinders nie is die verhaal van Tim, onderhoofseun van sy skool
en 'n "golden boy". Hy is aantreklik, selfversekerd; hy is volgende
jaar in matriek, alles loop reg vir hom . . . Maar net oënskynlik. Tim
is verveeld met sy ouers en met sy veilige voorstedelike bestaan. Tim surf pornografie
op die net. Iets knaag aan die binnekant van Timmie Onderhoofseun . . . En so
begin die glibberige gly na benede. "Alle verhale van 'n 'val' boei
en trek aan," sê een van die keurders. "Miskien omdat dit ons
aan ons eie transgressiewe begeertes herinner?" 'n Interessante ooreenkoms
tussen vanjaar se twee gouepryswenners is dat hulle albei vir 'n aansienlik ouer
leserspubliek geskryf is as dié waarvoor Afrikaanse jeugverhaalskrywers
tot dusver geskryf het. Eintlik is albei boeke "cross-overs": boeke
wat nie alleen vir jonger lesers bedoel is nie, maar ook vir volwassenes. Maar
die ooreenkomste tussen vanjaar se pryswenners strek veel verder as dit, selfs
oor kategorieë heen. Vanjaar se wenstories, Engels of Afrikaans of Setswana
of wat ook al, praat met mekaar en haak aan by mekaar. So is daar die derde
van vanjaar se Afrikaanse wenners, Vuvuzela deur Engela van Rooyen, wat die Silwer
prys ontvang. Dit vertel van Senke en sy ouer broer Buti, en van Senke se Business
Plan en hoe hy gaan geld maak om vir Buti te surprise met 'n grandstand ticket
vir die world soccer in 2010! Want hy wil vir Buti dankie sê omdat hy nog
al die tyd vandat hulle ma aan Aids dood is, so mooi sorg vir hom wat Senke is. Ook
in die Engelse pryswenner Praise Song deur Jenny Robson gaan dit oor kinders wat
wees gelaat word deur vigs - hier twee susters. Maar eintlik het ons hier 'n whodunnit
wat begin met 'n raaiselagtige moord op een van hulle se onderwyseres. En van
daar af hou die skrywer jou aan die omblaai. Wie is die moordenaar? Waarom is
die moord gepleeg? En waarom wil die één persoon wat weet, nie die
skuldige uitwys nie? Ook Kabelo Duncan Kgatea se Setswana-storie Ntshware
ka letsogo handel oor 'n weeskind. Neo is boonop nog blind ook. Maar die geesdrif
en oorgawe waarmee hy alles aanpak, maak dat hy uitstyg bo sy fisieke beperkinge
en vir hom 'n plekkie in die son oopsing met sy pragtige stem. Die ander
pryswenners vanjaar is die mediapersoonlikheid Darrel Bristow-Bovey, met 'n verhaal
in Engels vir lesers van 12 tot 14, en Dumisani Sibiya, met 'n verhaal in isiZulu
wat handel oor verantwoordelikheid neem vir jou eie lewe. BreinBliksem
en Nie vir kinders nie word op Saterdag 20 Augustus by die Zula Bar in Langstraat,
Kaapstad, deur Fokofpolisiekar bekend gestel, terwyl die ander wenboeke in Oktober
in Johannesburg bekend gestel sal word. Al die wenboeke word deur Tafelberg-Uitgewers
gepubliseer. Die wenners is uitgesoek uit 'n totaal van 114 inskrywings:
52 in Afrikaans, 50 in Engels, 6 in Nguni-tale en 6 in Sotho-tale. In elkeen van
die vier kategorieë was daar twee pryse op die spel: R12000 vir Goud en R6000
vir Silwer. Die beoordelaars was Elfra Erasmus, Kirby van der Merwe en Petra
Grütter vir Afrikaans, Elinor Sisulu, Penny Hochfeld en Barbara Ludman vir
Engels, Danisile Ntuli en dr. Thabs Ntshinga vir die Nguni-tale, en prof. Johan
Lenake en dr. P.M. Sebate vir die Sotho-tale. Vir verdere inligting of foto's
van die skrywers, bel of e-pos Michelle Cooper by (021) 406-3414 of mcooper@nb.co.za.
8 Julie 2005 |