| Beste Skrywer Ek is besig om
'n boek saam te stel. Nie sommer só 'n boek nie, 'n wonderlike, wonderlike
boek. Die voorlopige werkstitel is: Wingerd- en plaasstories
Saamgestel deur Riana Scheepers en Nicci Thabo 'n Bloemlesing "wingerd-
en plaasstories" dus. Hieroor is ek baie, baie baie opgewonde. Die
agtergrond van ek en Nicci so saam: Nicci is nie 'n skuilnaam nie en sy is nié
'n token black nie! Nicci is talentvolle vrou in lyf en gebeente. Sy is een van
ons plaaswerkers op De Compagnie, sy skoffel en snoei en pars. En sy skryf stories.
Sy is ook die wenner van die Bloemfonteinse Skrywerskring se skryfkompetisie van
2004 (in die kategorie Voorheen Benadeelde Gemeenskappe). Ons gaan julle stories
bymekaar maak. En ek wil graag 'n storie van JOU hê, want ek weet dit
sal iets besonders wees! Wat ons hier wil hê, is outentieke wingerd-
en plaasstories. Dit kan enige verhaal, anekdote of vertelling wees wat gaan oor
die unieke en fassinerende wêreld van die wingerd of die plaas. Ons teikengroep
is die plaaswerker (nie noodwendig bruin of swart plaaswerkers nie, want ek is
ook 'n plaaswerker) en ENIGE persoon wat 'n vertelling op die hart het oor
'n wingerd of 'n plaas. Daar is die lieflike stories wat ek elke dag in my wingerd
by die mense om my hoor, en dit gaan verskriklik verlore! Ons wil graag
hierdie samestelling laat saamval met 'n skryfkompetisie. De Compagnie Wynlandgoed,
wat vanjaar sy 300 jarige bestaan vier, borg die kompetisie. Die kompetisie gaan
binnekort blootstelling kry deur Landbouweekblad, Wynland en ander tydskrifte
of instansies soos die KWV wat gerig is op die plaasgemeenskap as teikenleser.
Pryse: - Eerste prys: R3000.00 kontant
plus 'n seleksie van De Compagnie se
voortreflike wynreeks en brandewyn -
Tweede prys: Verblyf (naweek) in die luukse gastehuis Die Jonkershuis op De Compagnie
(vier ster-gradering van die Toerismeraad) plus wyn en brandewyn.
- Derde
prys: Verblyf in Die Jonkershuis plus Wyn en brandewyn (of 'n
ander kombinasie)
(Oor die pryse en die logistiek van die kompetisie word nog gepraat.)
+ opname in die bundel wat uiteindelik saamgestel sal word. Die finale keuse
van opname in die bundel berus by my, Nicci en die redakteur. Ons sal ook die
vryheid wil hê om stories (anekdotes) in samewerking met die outeur te verwerk.
Let wel, ons sal nie net sommer verander nie! As
die idee jou prikkel: Drink maar 'n glasie .... vir inspirasie!
Ek wil glad nie vreeslik voorskriftelik wees nie, my doel met die publikasie
is om onder andere skrywers van die plaasgemeenskap te stimuleer, maar sonder
om die nie-plaasbewoners uit te sluit. Kortom: enige plaasstorie is uiters welkom.
Die sperdatum is nog nie vasgestel nie, want ons laat loop ook in hierdie
dae die kompetisie, maar ek het vir myself 'n mikpunt gestel vir Augustus 2005.
Hoekom Augustus? Omdat mens lekkerder skryf in die herfs en winter. En dit dan
genoeg tyd gee om 'n lekker keuse te maak. Elke inskrywing kwalifiseer
outomaties vir die uiteindelike prys, al stuur jy dit nie deur die ander kanale
nie, maar direk aan my. DIe lengte van die verhaal: die aantal woorde
/ bladsye wat dit duur om die storie sinvol en reg te vertel. Maar ek sou dink
dat 'n verhaal van 2-5 bladsye beter kans het op publikasie as 'n verhaal van
20 bladsye. Of hoe?
Ek wag lekker in spanning. Mooiste wense! Riana
Scheepers
rianas@mweb.co.za |