| Unisa se Eenheid vir Navorsing in Kinderliteratuur
het bekendgemaak dat Leon de Villiers se boek, Droomoog Diepgrawer, die wenner
is van die CP Hoogenhouttoekenning vir Kinderliteratuur. De Villiers het vroeër
ook die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur vir die boek ontvang. Die prys is
op Vrydag 30 September by die Aardklop Kunstefees aan hom oorhandig. Benewens
die wenboek, het die paneel beoordelaars nog 'n puklikasie eervol vermeld, Agent
Snoet en die Botterdiamant van Francois Bloemhof en Alistair Ackerman. Wat hierdie
vermelding besonder maak, is dat dit 'n strokiesprentboek is. Albei die boeke
is deur Lapa Uitgewers gepubliseer. Protea Boekhuis borg die prys, 'n 9 karaat
goue medalje. CP Hoogenhouttoekenning vir Kinderliteratuur word
sedert 1960 gemaak vir die beste oorspronklike Afrikaanse kinderboek geskik vir
kinders van sewe tot twaalf jaar. Na die ontbinding van die Suid-Afrikaanse Instituut
vir Biblioteek- en Inligtingwese in 1998 hanteer Unisa se Eenheid vir Navorsing
in Kinderliteratuur die toekenning. Die prys word tweejaarliks toegeken.
Die vorige wenner was Verna Vels vir Liewe Heksie en die rekenaar (1998-1999).
Vir 2000-2001 is geen wenner aangewys nie. 2005-10-01 |