| Van 12 tot 15 Oktober word n Nederlandse
literêre fees by die Universiteit van Pretoria aangebied. Unisa se Eenheid
vir Navorsing in Kinderliteratuur is verantwoordelik vir die aktiwiteite rakende
kinder- en jeugliteratuur. Benewens n uitstalling van moderne Vlaamse kinder-
en jeugboeke wat by Protea Boekhuis in Burnettstraat 1067, Hatfield gehou word,
word n uitstalling van Vlaamse strokiesprente in die Foyer van die Akademiese
Inligtingsdiens van UP aangebied. Die res van die aktiwiteite draai
om die besoek van die befaamde Vlaamse jeugboekskrywer, Anne Provoost, aan Pretoria.
Op Woensdag 12 Oktober bied sy n lesing
by Unisa aan met die titel, De Prinses op de Erwt de gevoeligheid
van de lezer, de onverstoorbaarheid van de schrijver. Op
Donderdag 13 Oktober bied Anne Provoost by Unisa n daglange Slypskool
vir aspirant en beginner en gevestigde skrywers aan vir voornemende en
beginnerskrywers: De schrijver en zijn schrijkramp, zijn keuzeverlamming
en zijn onverstoorbaarheid. Vrydagaand
14 Oktober lees Anne en Riana Scheepers uit hulle jeugwerk voor by n
aandete wat by die High Performance Sport Centre van UP sal plaasvind. Saterdagoggend
15 Oktober is Riana en Anne by Protea Boekhuis in gesprek oor hulle jeugwerk,
die verskil tussen skryfwerk vir volwassenes en jongmense, politiek-korrektheid
in jeugwerk en ander onderwerpe. Hulle noem hulle gesprekstema: Ons kom
van ver, maar ons is nog nie moeg nie ... Die publiek
is baie welkom by al hierdie aktiwiteite. Vir meer besonderhede, skalel vir Thomas
van der Walt by Unisa. Tel (012) 4296520 of 0828286305 of per e-pos: vdwaltb@unisa.ac.za
Anne Provoost CV Anne
Provoost is in 1964 gebore en het opgegroei in die klein Belgiese dorpie, Woesten.
Sy debuteer in 1990 met Mijn tante is een grindewal en wen dadelik die
Boekenleeuw, een van Vlaandere se belangrikste jeugboekpryse daarvoor. Die boek
wen ook die Interprovinciale Prijs voor Jeugdliteratuur en word in ses tale vertaal.
Haar tweede jeugroman, Vallen verskyn in 1994 en handel oor rassisme en die verleiding
van ekstrimisme. Die boek word bekroon met die Libris Woutertje Pieterse Prijs,
die Gouden Uil, die Boekenleeuw, die Interprovinciale Prijs voor Jeugdliteratuur
en die Nederlandse Zilveren Griffel. Meer as 100 000 eksemplare van die boek is
al gedruk en dit is in twaalf tale vertaal. In 2001 is die boek verfilm deur Hans
Herbots as Falling. Provoost se volgende boek, De Roos en de Zwijn,
geïnspireer deur die sprokie, Skoonlief en die Ondier (Beauty and the Beast),
verskyn in 1998. Ook hierdie boek wen die Boekenleeuw en Gouden Zoen en ook die
Duitse Jugendbuchpreis der Jungen Leser. Haar laaste roman, De Arkvaarders (2001)
is n hervertelling van die sondvloedverhaal en ook hierdie boek wen sy kwota
pryse. Anne Provoost se hoofkarakters word dikwels met n moeilike
opdrag opgesaal soos om te help om n ark te bou met die wete dat
daar oor n kort tydjie net n paar plekke op die einste ark beskikbaar
gaan wees. In Mijn tante is een grindewal verswyg n meisie vir baie jare
dat haar pa haar misbruik en in Vallen verswyg n ma die verwerplike oorlogsverlede
van haar oupa. Haar seun, die hoofkarakter, raak in die ban van n neo-Nazi
en dit lyk of die geskiedenis van die oupa herhaal gaan word. De Roos en de Zwijn handel
tot n groot mate oor die seksuele rypwording van n jong meisie. Provoost
sê dat die sprokie nog altyd vir haar tekenend was van hoe jong meisies
eers van die vaderfiguur in hulle lewens moet afstand doen voordat hulle seksueel
volwasse kan word. Sy bestee baie aandag aan navorsing dikwels
neem dit veel meer tyd in beslag as die skryfproses self. Hoewel jongmense die
hoofrolle in haar boeke speel, is daar nie veel wat haar werk onderskei van literatuur
vir volwassenes nie. Die struktuur van haar verhale is kompleks. Die verskillende
verhaallyne ontvou stadig en kom aan die einde weer bymekaar uit. Sy vervleg dikwels
twee of meer temas. Anne skryf ook toneel, essays en kortverhale.
Sy is in België aangewys as Ambassadeur vir die Hans Christiaan Andersenjaar.
Sy is n voltydse skrywer en woon met haar man en drie kinders in Antwerpen. |