Werfjoernaal
 
2003-05-16

werfjoernaal
argief



Jenny Robson wen UNESCO Prys

Die UNESCO Prys vir Kinder- en Jeugliteratuur in Diens van Verdraagsaamheid is aan Jenny Robson toegeken vir haar boek Because pula means rain.

Die UNESCO Prys vir Kinder- en Jeugliteratuur in Diens van Verdraagsaamheid word elke twee jaar toegeken. Die prys is in 1995, na die Verenigde Nasies se Jaar van Verdraagsaamheid, ingestel en die eerste keer in 1997 toegeken. Dit vereer literatuur wat die opvattings en ideale van verdraagsaamheid en vrede die beste weergee en wedersydse respek tussen nasies en kulture bevorder.

Drie honderd drie-en-vyftig inskrywings uit 54 lande in 36 tale is vir dié jaar se toekenning ontvang. Die boeke is geëvalueer deur 'n onafhanklike paneel van lesers in die oorsponklike tale.

Hierna is 55 titels in twee kategoriëe, een vir kinders tot twaalf en een vir 13 tot 18-jariges, op 'n kortlys geplaas. Die Internasionale Jurie het hieruit die wenboeke aangewys, een vir elke kategorie. Die wenners het elk 'n kontantprys van $8000, geskenk deur Ediciones S.M. van Spanje, gekry.

Jenny Robson is aangewys as wenner van die 2003 UNESCO Prys vir Kinder- en Jeugliteratuur in Diens van Verdraagsaamheid in die kategorie van boeke vir 13 tot 18-jariges vir Because Pula Means Rain. Dit word deur Tafelberg uitgegee.

Die prys is op 'n seremonie in Parys toegeken op Wêreldboekedag, 23 April 2003, en is bygewoon deur Jenny Robson, sowel as Louise Steyn, haar uitgewer.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005