| Skrywers! Stuur julle verhale, poësie en
dramas. Bateleur Books is 'n uitgewer wat spesialiseer in die skoolboekmark.
Die Nasionale Departement van Onderwys het 'n versoek gerig aan uitgewers om literêre
werke voor te lê vir keuring om op die nasionale lys vir Graad 10 en 11
te kom. Bateleur wil graag aan alle skrywers, gevestig of onbekend, 'n
uitnodiging rig om hulle skeppende werk voor te lê aan ons vir moontlike
opname in bloemlesings wat aan die departement voorgelê kan word.
Bateleur soek Afrikaanse en Engelse kortverhale en gedigte, moontlik selfs 'n
drama, om voor te lê. Onthou die teikengehoor is Graad 10 en 11 leerders,
maar ons soek materiaal van uitstaande gehalte, nie "kinderliteratuur"
nie en dit hoef nie net jeugliteratuur te wees nie. Voorkeur sal verleen word
aan keurig versorgde manuskripte. Die sperdatum is
15 Februarie 2006. Stuur asseblief u voorleggings, saam met 'n bondige
biografiese oorsig en duidelike kontakbesonderhede, aan: - Karen
Simpson (ksimpson@bateleurbooks.com)
- Izak
de Vries (idevries@bateleurbooks.com)
Let asseblief op die
volgende: - Slegs elektroniese tekste wat versoenbaar is met MS Word
sal gelees word.
- Slegs werk wat nog nooit in boekvorm verskyn het nie,
sal oorweeg word. Die werk moet ook nie tans by ander uitgewers wees vir keuring
nie.
- Geen korrespondensie sal plaasvind tussen die outeurs en die uitgewer
oor werk wat nie aanvaar word nie. Besef asseblief dat verskeie kriteria gebruik
sal word om tekste te keur - gehalte is maar een daarvan. Maar ons soek uiters
hoë gehalte, asseblief!
- Voorlegging is afhanklik van die aantal
en die gehalte van die tekste wat ontvang word.
- Geen werk sal teruggestuur
word nie.
- Slegs outeurs wie se werk voorgelê word, sal genader
word. Maak dus asseblief seker dat u kontakbesonderhede duidelik is.
-
Outeurs wat teen 15 Maart nog niks gehoor het nie, moet asseblief aanvaar dat
ons nie hulle werk kan gebruik nie. Outeurs wat nie voorgelê word nie, sal
hulle tekste dan elders kan voorlê.
- Publikasie van die tekste is
geheel en al afhanklik van keuring deur die departement. Die feit dat 'n teks
dus voorgelê word, is geen waarborg vir publikasie nie. Indien die departement
'n teks afkeur, sal die outeurs verwittig word. Outeurs sal hulle tekste dan elders
kan voorlê.
- Indien 'n voorlegging deur die departement aanvaar
word en indien toestande en terme vir publikasie gunstig is, sal die werk vir
publikasie geoormerk word. Die normale kontraktuele ooreenkomste tussen Bateleur
Books en die outeur sal dan opgestel word.
|