| Die Woordfees (6- 12 Maart) se tema is vanjaar
"Stories en dié fokuspunt word goed omskryf deur Annatjie Melck
van Muratie-wynlandgoed se wenslagspreuk: Fluit-fluit, dis storietyd.
In die meer as 80 produksies gaan stories van alle kleure en geure vertel
word wat tot n wye spektrum feesgangers sal spreek. Die jaarlikse skrywers-hoogtepunt,
die Skrywersgala, spog volgende jaar met voorste skrywers soos PG du Plessis,
Elias P Nel, George Weideman, Abraham H de Vries, EKM Dido en Rachelle Greeff.
Tydens dié multimedia-produksie, saamgestel deur Juanita Swanepoel, sal
nie net die skrywers se stories feesgangers boei nie, maar vertel die musiek en
kort dramatiserings hulle eie verhale. Verder kan feesgangers hulle regkry
vir verskeie kuiers om die vuur. By Dombeya vertel gesoute vertellers, soos Dirk
van Schalkwyk, Basil Kivido en Arno van Zyl hulle staaltjies. Verder sit Francois
Toerien, Bongi Mantswai en Lukhanyo Vuyo die eeu oue Xhosa-storievertelling om
konkavure voort met hulle iintsomi Kwathi ke kaloku ngantsomi. (Hier volg nou
n sprokie). Na dié iintsomi volg n Not So Open Mike waartydens
verskeie skrywers en musikante hulle ding op die verhoog doen. Wat die
woordure en diskoerse betref (ondersteun deur die LW Hiemstra Trust), is daar
onder andere Pumla Gobodo-Madikezele (skrywer van A Human Being Died that night)
en Chris van der Merwe, beide dosente aan die Universiteit van Kaapstad, wat kom
gesels oor die belang van stories en hoe dit nie net terapeuties is vir die individu
nie, maar dat Suid-Afrikaners mekaar eers leer ken as hulle na mekaar se stories
luister. In samewerking met die US Departement Geskiedenis, sal verskeie
kenners soos Albert Grundling, Karen Harris en Herman Giliomee debatteer oor die
storie van ons geskiedenis en hoe mens dit interpreteer. Natuurlik is die
immergewilde Filosofie:Kafee weer op die spyskaart en gaan skrywers soos George
Weideman, Herman Wasserman, Zandra Bezuidenhout en Jaco Botha met woorde baklei
teen filosowe Johan Hattingh, Anton van Niekerk, Paul Cilliers, Vasti Roodt en
Willie van der Merwe. Die Distell-drama Imbumba (n KKNK, Aardklop
en Oude Libertas-koproduksie) sluit by die feestema aan deur n skatkis van
stories te bied uit verskillende kulture waarin die ryke veelsydigheid verweef
word met die polsende ritmes en musiek eie aan ons land. Anna-Mart van der Merwe,
Gys de Villiers. Jolette Odendaal, Janine Neethling en Jill Middlekop is enkele
kunstenaars wat hierin sal optree. Daar is nog hope ander stukke
waarna uitgesien kan word. In Saartjie Botha se onlangs bekroonde Verkeer, met
Neels van Jaarsveld, Lorraine Burger en Mbulelo Grootboom, word die begrip verkeer
op n komiese manier ondersoek. Nóg n hoogtepunt is Ysterasters,
waarin die alledaagse lewens van vroue in n haarsalon met stories en skinder
uitgebeeld word. Nina Swart, Petro van den Heever, Ilse Schmidt, Martelize Kolver,
Hilda van Lill en Elsabé Daneel is hierin te sien. Aan topgehalte
musiekproduksies is daar ook nie n tekort nie. Amanda Strydom en Coenie
de Villiers span kragte saam in n spesiale produksie. Verder bied die Woordfees
weer die Paartie innie Park-buitelugkonsert aan met kunstenaars soos Valiant Swart,
Delta Blue, Rooibaardt, N2 en die Brasse vannie Kaap. Koos Kombuis en Rocco de
Villiers kom maak ook n draai, en dan is daar die Kayamandi Musiekfees (ondersteun
deur Distell) wat aan plaaslike kunstenaars n podium bied om hulle talent
bekend te stel. Ook Lize Beekman, Anna Davel, Laurinda Hofmeyr en Zamar
kom doen die vroue-ding met musiek wat beloof om die gehoor mee te voer. Vir
die klassieke musiek-liefhebbers is daar onder andere die Afrikaanse kunsliedprogram
met Zanne Stapelberg, André Howard en Hendrik Hofmeyr; asook besonderse
uitvoerings deur onderskeidelik Marica Otto, Trio College en Helena Conradie.
In n simposium oor kinder- en jeugliteratuur kom verskeie
kenners gesels oor verskeie relevante aspekte soos ondermeer dié aspekte
in n verhaal wat boeke vir leerders gewild maak, hoe en wat die jeug graag
lees en wat die uitdagings is van hedendaagse jeugskrywers. Selfs vir die
kleinspan is daar n opwindende kinderfees waarin Koning Leeu en Liewe Heksie
maar net enkele van die karakters is wat hulle opwagting maak. Vir
verdere inligting oor die volledige program: Skakel Theo Kemp by
021-8083513 of stuur n e-pos na fees@sun.ac.za. Die program is
op die Woordfees se nuwe webtuiste beskikbaar by www.litnet.co.za/woordfees
|