| Die onweerstaanbare karaktertjie Wilde Willemientjie
word te midde van groot opgewondenheid op vanjaar se KKNK bekend gestel. Riana
Scheepers se eerste kinderboek, Die avonture van Wilde Willemientjie, gewaarborg
om lesers van álle ouderdomme te betower, word nie verniet nie deur 'n
leser beskryf as "
die heel beste ding sedert Smarties en roomys!" Saam
met die boekbekendstelling word die talentvolle Niël Rademan se musikale
kinderversdrama op die planke gebring - 'n werk uit die hoogste rakke! In
hierdie uitbundige, selfs woeste, prenteboek word jonk én oud deur Riana
Scheepers se rymvernuf en Vian Oelofsen se virtuose tekeninge meegesleur deur
die avonture van 'n baba wat nie om dowe neute Wilde Willemientjie heet nie -
sy is wild! Nie net dryf Willemien haar ouers teen die mure uit met haar kaskenades
nie, maar vermorsel sommer ook 'n skurk of twee wat op haar pad kom. Saam met
haar ewe onnutsige dieremaats reis hulle deur die wêreld, beleef wonderlike
avonture en sorg vir 'n groot, vet makietie oral waar hulle gaan. Willemientjie
is slim, waaghalsig, en baie, baie dapper. Sy is 'n wonderbaba, 'n kind wat eenhonderd
persent in harmonie met die ekologie is. "Lekker wille stories
waaraan
ons só 'n groot behoefte het in Afrikaans." - Linda Rode Riana
Scheepers het al verskeie literêre pryse vir haar werk ontvang. Sy is die
outeur van 'n hele aantal trefferboeke, soos die Katriena-boeke, Dulle Griet (Eugène
Marais-prys) en Blinde sambok (ATKV Kinderboekprys). Haar literêre werk
is vertaal in Nederlands, Engels, Frans en Spaans. Die avonture van Wilde Willemientjie
is haar eerste kinderboek. Die bekroonde kunstenaar Vian Oelofsen het die
illustrasies van boeke soos Net perfek deur Rachelle Greeff en Ek is
Simon deur Martie Preller agter sy naam. Hy het in 2005 sy eerste kinderboek,
Hou vas, Seekoei!, in Afrikaans en Engels gepubliseer. Die
avonture van Wilde Willemientjie - Musikale kinderversdrama Regie
en musiekregie: Niël Rademan Rolverdeling: Lindi Smit, Deon van Zyl en
Burnese Cronjé Ontwerp: Jacolene de Haan KKNK-vertonings:
NGK Suidsaal R35,00 per persoon 1, 3, 4, 5 April 2006 16:00 2 April
2006 10:00 Die produksie Die avonture van Wilde Willemientjie spog met 'n
sterbelaaide rolverdeling van jong, bekroonde akteurs. Dit is 'n energieke, interaktiewe
opvoering gemik op kinders van alle ouderdomme. Waarskuwing:
Kinders ouer as 60 word aangeraai om voor die vertoning deeglik uit te rus. Die
akteurs aanvaar geen verantwoordelikheid vir algehele uitputting nie! Regisseur:
Niël Rademan (beste M. Dram. - regisseur, 2004) Akteurs: Lindi Smit (beste
B. Dram. (hons.) - aktrise, 2003) Deon van Zyl (Fleur du Cap - benoeming,
2003) Burnese Cronjé Ontwerper: Jacolene de Haan (Nederlandse skilder) |