| Die grootste opwinding van die pas afgelope KKNK
het toe nie gekom van die produksies met die "groot" name nie, maar
in die gedaante van 'n klein, wilde meisietjie met sproete en 'n slangetjie in
haar woeste rooi hare ... Die prenteboek Die avonture van Wilde Willemientjie
was nie net die topverkoper in die Boekeparadys nie (twee besendings boeke is
deur gretige kopers opgeraap en is binne 'n ommesientjie uitverkoop), maar die
musiekverwerking van die teks is ook pas bekroon met 'n gesogte Kanna-toekenning
as beste kinderproduksie van die KKNK 2006. Die avonture van Wilde Willemientjie
is 'n musikale kinderversdrama uit die hoogste rakke en het gespog met 'n sterbelaaide
rolverdeling van jong, bekroonde akteurs. Dit is 'n energieke, vrolike, interaktiewe
opvoering gemik op kinders van alle ouderdomme. (Kinders ouer as 60 is wel aangeraai
om voor die vertoning deeglik uit te rus, aangesien die akteurs geen verantwoordelikheid
aanvaar het vir algehele uitputting nie!) Regie en musiekregie is gedoen
deur Niël Rademan - hy speel ook klavier hierin. In die rolle is Lindi Smit
(as ouma, Cassandra en die bose jagter), Deon van Zyl (as oupa, die skelm skurk
en die gemsbok) en Burnese Cronjé (as die onweerstaanbare Willemientjie).
Die stelontwerp is gedoen deur Jacolene de Haan. "'n Heel andersoortige
oorspronklike stuk is Die avonture van Wilde Willemientjie, Riana Scheepers
se nuwe kinderboek verwerk deur Niël Rademan, wat ook self die klavier daarin
bespeel. Dit bied prettige vermaak vir kinders, en dis veral 'n verademing om
na 'n kinderproduksie te kan kyk waarin die natuur, musiek en die wye wêreld
die botoon voer eerder as selebriteite en TV-persoonlikhede. 'n Wonderlike
manier om 'n boek bekend te stel! Gerrit Brand - Die Burger "Wilde
Willemientjie is gróót pret. Kinders en ouers geniet hulle gate
uit tydens hierdie energieke en uiters vermaaklike musikale versdrama". Ingrid
Lehmensich - Krit "Wilde Willemientjie is die beste ding sedert Smarties
en roomys!" 'n Leser Persverklaring
7 April 2006 |