| Die bestuur van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging
(BSV) het pas die uitslae van sy jaarlikse landwye skryfwedstryd, Skrywers 2007,
bekend gemaak. Die wedstryd is deur Volksblad geborg en
met steun van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
(Naln) geadministreer. R10 000 se pryse is vanjaar uitgeloof en vier wisseltrofeë
vir skole was op die spel. Hoërskoolleerlinge en volwassenes wat nog nie
voorheen skeppende kortprosa teen vergoeding gepubliseer het nie, kon deelneem.
Deelnemers kon opstelle, sketse, kortverhale en kortkortverhale oor voorgeskrewe
onderwerpe indien. Vanjaar is 644 inskrywings uit alle dele van die land
vir beoordeling soos volg voorgelê: junior afdeling 96, senior afdeling
318 en ope afdeling 230. In die senior afdeling is daar nie minder nie as 73 inskrywings
meer as verlede jaar ontvang. In die junior afdeling het 10 skole deelgeneem,
in die senior afdeling 35 en in die ope afdeling 15. Weer eens is bewys dat hierdie
lank gevestigde wedstryd met die steun van Volksblad en Naln 'n baie belangrike
bydrae lewer ter bevordering van Afrikaans, en ook om belangstelling in skryfwerk
te stimuleer en sluimerende skryftalent te laat ontwikkel. Die wedstryd is tien
jaar eers net in die Vrystaat aangebied en daarna, sedert 1989, landwyd. Dit het
gegroei tot die grootste skryfwedstryd in sy soort in die land. Twee Vrystaatse
deelnemers het kategorieë gewen: Guido Theron, gr. 12-leerling van die Hoërskool
Sentraal in Bloemfontein die senior afdeling en mev. Susan Pienaar van Hennenman
die ope afdeling. Die wisseltrofee vir die skool wat die meeste inskrywings gelewer
het, is vanjaar weer deur die Hoërskool D.F. Malan in Bellville verower.
Dié skool het altesaam 320 inskrywings ingestuur en skoonskip in die junior
afdeling gemaak deur al ses toekenniungs te verower. In die senior afdeling het
D.F. Malan-leerlinge die tweede en derde plek verower en een leerling van die
skool se inskrywing is eervol vermeld. 'n Hele paar inskrywings is uit die buiteland
ontvang. Daar was vanjaar ook heelwat belangstelling uit nie-Afrikaanssprekende
geledere. Al die bekroonde inskrywings sal in Inkvars 2007, 'n huishoudelike
publikasie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, gebundel word. Die bundel
sal op Saterdag 18 Augustus 2007 uitgereik word, wanneer die geldpryse, sertifikate
en trofeë op die BSV se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers by die
Noorderbloem-aftreeoord in Bayswater, Bloemfontein, oorhandig word. Die baie bekende
roman- en kortverhaalskrywer, Margaret Bakkes van Pretoria, lei die slypskool.
Inkvars 2007 kan teen R50 per eksemplaar (plus R5 vir posgeld) van die voorsitter
van die BSV, mnr. Stoffel Cilliers, bestel word. Die adres is High Ridge 2, Heuwelsig,
Bloemfontein, 9301 (tel. 051-436-8089). Ook vorige eksemplare van Inkvars (wat
die betrokke jare se weninskrywings bevat) kan teen laer pryse bestel word. Verdere
besonderhede oor die wedstryd en die slypskool kan van die voorsitter, mnr. Stoffel
Cilliers, by (051) 436-8089, of ná ure van die sekretaresse, mej. Magda
Janse van Rensburg, by (051) 446-1123 verkry word. Die bekroonde inskrywings
in Skrywers 2007 is soos volg: UITSLAE: SKRYWERS 2007
JUNIOR
AFDELING (GR. 8 EN GR. 9) 1ste prys (R1 000): Reino Barkema, gr. 9,
Hoërskool D.F. Malan, Bellville (ook algehele skolewenner); 2de prys (R500):
Jeandré Kritzinger, gr. 9, Hoërskool D.F. Malan, Bellville; 3de
prys (R400): Marianne Schoeman, gr. 9, Hoërskool D.F. Malan, Bellville; 4de
prys (R350): Lara van der Spuy, gr. 8, Hoërskool D.F. Malan, Bellville; Eervol
vermeld: Heike Werth, gr. 8, Hoërskool D.F. Malan, Bellville; Eervol vermeld:
Jodrey Rossouw, gr. 9, Hoërskool D.F. Malan, Bellville. SENIOR
AFDELING (GR. 10 - GR. 12) 1ste prys (R1 100): Guido Theron, gr. 12,
Hoërskool Sentraal, Bloemfontein; 2de prys (R600): Nina Gerber, gr. 12,
Hoërskool D.F. Malan, Bellville; 3de prys (R550): Alida Heunis, gr. 11,
Hoërskool D.F. Malan, Bellville; 4de prys (R450): Anél van de
Venter, gr. 11, Hoërskool Secunda, Secunda; Eervol vermeld: Elsa Grobler,
gr. 12, Hoërskool Langenhoven, Riversdal; Eervol vermeld: Bea Coetzer,
gr. 12, Hoërskool D.F. Malan, Bellville; Aanmoedigingsprys vir nie-Afrikaanssprekende
(R350): Nombasa Tshefuta (Xhosa-sprekend), gr. 11, Hoërskool Hangklip,
Queenstown; OPE AFDELING 1ste prys (R1 200): Mev. Susan Pienaar,
Hennenman; 2de prys (R700): Mnr. Hannes Visser, George; 3de prys (R600):
Mnr. Jean Smit, Paarl; 4de prys (R500): Mnr. Hannes Steyn, Stellenbosch; Eervol
vermeld: Mnr. Alex Flemming, Jacobsdal; Eervol vermeld: Mev. Naomi Eloff, Hatfield.
TROFEë HAUM-Literêr-trofee vir skool van wenner
in Junior Afdeling: Hoërskool D.F. Malan, Bellville; Olivier-wisseltrofee
vir skool van wenner in Senior Afdeling: Hoërskool Sentraal, Bloemfontein; Gerhard
Beukes-wisseltrofee vir skool van algehele skolewenner: Hoërskool D.F. Malan,
Bellville; Vrystaat-wisseltrofee vir skool met meeste inskrywings (PLUS R1
000): Hoërskool D.F. Malan, Bellville. MEDIAVRYSTELLING DEUR DIE VOORSITTER,
MNR. STOFFEL CILLIERS, OP 13 JUNIE 2007 |