|
Van 14-19 Augustus is dit Afrikaansweek. Afrikaanssprekendes
is in rep en roep. Afrikaners is plesierig en praterig en vol pret - en dit alles
in Afrikaans. Die hele feestelike Afrikaansweek skop af met die GRA-dag
en dié wat weet, sal vertel dat die GRA die Genootskap vir Regte Afrikaners
is wat 131 jaar gelede gestig is deur mense wat wou hê dat Afrikaans opgeskryf
moes word. Dit was n groep manne wat vir die taal lief was en hulle kragte
wou inspan om dit te bewaar en te laat voortleef. Manne wat sekerlik stom van
verbasing sou wees oor die mate waarin die taal gegroei het en tans gebruik word. Skole
en organisasies wat omgee vir die taal doen landswyd hierdie week spesiale projekte.
Konserte, take en voordragte word gelewer. Een skool hou n vasvra, n
ander n taaloggend, maar elke skool doen iets om die taal waarin die kinders
leer en skryf en praat, te bevorder. Iewers vergader n groep vriende
om n pot sop, elkeen met n sjerrie in die hand. Mense lees vir mekaar
voor uit boeke wat hulle as besondere letterkunde beskou, ander luister na hulle
gunsteling Afrikaanse musiek. Dan is daar ook die grappe-aand. Ja, wat sou die
Afrikaner sonder sy sin vir humor en kwota grappe maak. Toe die agt manne
van die Paarl 131 jaar gelede die Genootskap gestig het, het hulle iets geweet
wat ons vandag ook weet. Afrikaans is hier om te bly. Afrikaans is lekker en vriendelik
en vrolik. En baie belangrik: op 14 Augustus word elke gesin
in die land opgeroep om een Afrikaanse boek te koop. Een of twee of tweehonderd.
Vir jou self of jou kind of jou vriend, of jou vriend se kind of jou kind se vriend.
Hoe dit ookal sy, koop n boek. Landswyd word n beroep gedoen op boekwinkels
om op daardie dag n spesiale afslag op boeke te gee. Wordsworth, PNA, Protea
Boekhuis, Die Boekehuis (Johannesburg), Boek Hoekie (Paarl) en Die Burger ondersteun
hierdie inisiatief.
Huisbiblioteke wat elke jaar aangroei
is n belegging in lewenslange vriende. Dit is nie n luukse besitting
nie, maar n lewensnoodsaaklikheid, is die opinie van Henry Ward Beecher
(1813-1887). |