| Hier is 'n groot geleentheid vir almal wat
hulleself as aspirantskrywers beskou. Of jy nou ongepubliseerde volwassene
is, of 'n hoërskoolleerder wat al lank daarna smag om iets van jouself in
druk te sien, nie minder nie as R10 000 wag om in 'n landwye skryfwedstryd van
die Bloemfonteinse Skrywersvereniging gewen te word. Dit is R2 000 meer as verlede
jaar se prysgeld! Deelnemers wat nog nie voorheen kortprosa
gepubliseer het nie, moet een of meer oorspronklike opstelle, vertellings, kortkortverhale
of kortverhale in Afrikaans oor voorgeskrewe, interessante onderwerpe voor Vrydag
4 Mei 2007 indien. Skole moet daarop let daar vanjaar min
tyd tussen die begin van die tweede kwartaal en die sluitingsdatum is.
Die wedstryd het drie afdelings: 'n junior
afdeling (gr. 8 en 9) en 'n senior afdeling (gr. 10 tot 12) vir hoërskoolleerders,
asook 'n ope afdeling vir volwassenes en leerders. Inskrywings in die skole-afdelings
moet hoogstens 1 000 woorde lank wees en in die ope afdeling hoogstens 2 500 woorde.
Inskrywings word volkome anoniem beoordeel. Daar
is vier aantreklike geldpryse in elke afdeling, asook 'n aanmoedigingsprys
(ook 'n geldprys) in elke afdeling vir 'n deelnemer wie se moedertaal nie Afrikaans
is nie. Boonop kan wenners van alle pryse 'n slypskool vir ontluikende skrywers
wat die Bloemfonteinse Skrywersvereniging in Augustus aanbied, gratis bywoon.
Vier wisseltrofeë kan deur deelnemers vir hul skole gewen word. Ook ontvang
die skool wat die meeste inskrywings stuur, 'n hele R1 000.
Al die inskrywings wat bekroon word, sal voorts in Inkvars 2007, 'n huishoudelike
publikasie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, gepubliseer word.
Die wedstryd word deur die Vrystaatse dagblad Volksblad geborg en met die steun
van die Afrikaanse Letterkundige Museum in Bloemfontein geadministreer. Hierdie
wedstryd word reeds sedert 1989 landwyd aangebied en is die grootste in sy soort
in die land. Alle inskrywings moet
van 'n voorgeskrewe inskrywingsvorm vergesel wees.
Bel mnr. Stoffel Cilliers by (051) 436 8089 (alle ure) of mej Magda Janse van
Rensburg by (051) 446 1123 (na ure) dadelik om die vorm, wedstrydreëls en
onderwerpe te bekom . Of kry dit op bloemsv@yahoo.com (Mediabekendmaking
oor landwye skryfwedstryd van Bloemfonteinse Skrywersvereniging deur voorsitter,
mnr. Stoffel Cilliers, op 16 Februarie 2007) |