|
ATKV-Projekte bied in samewerking met die Provincie
Antwerpen 'n kinderboekskryfskool vanaf 31 Maart tot 2 April 2008
aan. Gedurende hierdie skryfskool word aspirantskrywers geleer hoe
om 'n kind of tiener se verbeelding aan te gryp. Drie dae lank word
daar net kinder- en jeugliteratuur gepraat, geëet, gespeel
en geskryf.
Die skryfkursus word met die medewerking van die ATKV-Skryfskool
van die Noordwes-Universiteit aangebied. Die aanbieder is Dr. Franci
Greyling van die Vakgroep Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit
(Potchefstroomkampus). Die sprekers wat gaan optree sluit onder
andere Jaco Jacobs, kinder- en jeugboekskrywer in. Jaco is pas met
die C.P. Hoogenhout-toekenning bekroon vir sy jeugboek Wurms met
Tamatiesous en ander Lawwe Rympies (Lapa-Uitgewers, 2007). Martie
Preller, skrywer en skepper van die gewilde Babalela-boeke en Prof.
Maritha Snyman, skrywer en kenner op die gebied van kinders se leesbehoeftes
en -gewoontes gaan ook as sprekers optree.
Die totale koste van die skryfskool beloop R800.00 per persoon.
Die skryfskool word aangebied by die ATKV se hoofkantoor in Randburg.
Die inskrywingsvorm is beskikbaar op die ATKV-webwerf (www.atkv.org.za).
Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag, 14 Maart 2008.
Navrae en onderhoude:
Jeanné Naudé
083 232 7276; 011 919 9088
jeannen@atkv.org.za
2008-02-07
|