|
In Maart 2008 stel die ATKV 'n opwindende nuwe kindertydskrif
bekend. Hoezit! is gerig op 9 - 12-jarige Afrikaanssprekende kinders
met 'n onblusbare lus vir die lewe.
Met Hoezit! poog die ATKV om kinders nie net op te voed en hul
kennis te verbreed nie, maar om hulle terselfdertyd ook te vermaak.
Daar is vyf prettige afdelings in Hoezit!:
- Vermaak - hier kan hulle lees oor die nuutste flieks, speletjies,
boeke en ook alles wat die bekendes aanvang.
- Wêreld - hier kry die lesers hope interessante inligting
oor ons wonderlike wêreld.
- Alles oor jou - emosionele welstand is geweldig belangrik en
hierdie afdeling hanteer temas soos wanneer jou ouers skei of
wanneer vriende vyande word.
- Weet - dié afdeling is op die skoolsillabus gefokus.
Die doel is om kinders op 'n prettige manier te help met dié
vakke wat vir hulle moeilik is.
- Pret - hierdie afdeling is propvol doen-dit-self-dinge, sudoku,
woordsoeke en vele meer.
Twee uit die vyf afdelings is uniek in die sin dat dit Hoezit!
van sy kompetisie onderskei. In Weet en Alles oor jou kry hulle
raad en taakhulp wat hulle in geen ander tydskrif sal vind nie.
Boonop poog die Hoezit!-redaksie om alle inligting aan te bied met
'n oorwegend Suid-Afrikaanse aanslag.
Hoezit! gesels met kinders op hul vlak. Met Hoezit! wil ons die
jonger generasie ook laat glo dat Afrikaans nog aan die brand is
en vir altyd 'n moderne taal sal wees.
Hoezit! is 'n maandelikse publikasie wat tans op intekenaarsbasis
versprei word. Elke maand het 'n ander tema en temas waarna uitgesien
kan word is tegnologie, geskiedenis, kuns en kultuur, musiek en
nog vele meer! Een uitgawe kos R15,95.
Vir meer inligting, skakel Renette
Espach by 011 919 9063 of stuur 'n e-pos na hoezit@atkv.org.za.
Besoek gerus ook die webwerf by www.atkv.org.za.
|