|
Hier
is 'n groot geleentheid vir almal wat hulleself as aspirantskrywers
beskou. Of jy nou 'n volwassene is, of 'n hoërskoolleerder
wat al lank daarna smag om iets van jouself in druk te sien, nie
minder nie as R10 000 wag om in 'n landwye skryfwedstryd van die
Bloemfonteinse Skrywersvereniging gewen te word.
Deelnemers moet een of meer oorspronklike opstelle, vertellings,
kortkortverhale, kortverhale of gedigte in Afrikaans oor voorgeskrewe,
interessante onderwerpe voor Vrydag 2 Mei 2008 indien. Die struktuur
van die wedstryd is anders as in die verlede en twee nuwe afdelings
is in die wedstryd ingesluit.
Die wedstryd het drie afdelings: twee prosa-afdelings en een poësie-afdeling.
- Afdeling
A behels prosa vir skrywers wat nog nie voorheen gepubliseer het
nie en leerders (graad 8 tot 12) en volwassenes kan hier inskryf.
- Afdeling
B is 'n ope afdeling vir skrywers wat wel al voorheen kortprosa
teen vergoeding gepubliseer het.
- Afdeling
C is 'n poësie-afdeling vir gepubliseerde en ongepubliseerde
deelnemers.
Leerders wat
aan Afdeling A deelneem, moet kortprosa van hoogstens 1 000 woorde
voorlê; volwassenes wat aan die wedstryd deelneem se kortprosa
mag hoostens 2 500 woorde lank wees, en digters word beperk tot
gedigte van hoogstens 40 versreëls lank.
Daar is aantreklike geldpryse in elke afdeling, asook 'n aanmoedigingsprys
(ook 'n geldprys) in Afdeling A vir 'n deelnemer wie se moedertaal
nie Afrikaans is nie. Boonop kan wenners van alle pryse 'n slypskool
vir ontluikende skrywers wat die Bloemfonteinse Skrywersvereniging
in Augustus aanbied, gratis bywoon.
Vier wisseltrofeë kan deur deelnemers vir hul skole gewen word.
Ook ontvang die skool wat die meeste inskrywings stuur, 'n hele
R1 000.
Al die inskrywings wat bekroon word, sal voorts in Inkvars 2008,
'n huishoudelike publikasie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging,
gepubliseer word. Die wedstryd word deur die Vrystaatse dagblad
Volksblad geborg en met die steun van die Afrikaanse Letterkundige
Museum in Bloemfontein geadministreer. Hierdie wedstryd word reeds
sedert 1989 landwyd aangebied en is die grootste in sy soort in
die land.
Inkrywings
Alle
inskrywings moet van 'n voorgeskrewe inskrywingsvorm vergesel wees.
Bel
mej. Lalien Cilliers by (051) 436 2629 (na ure) of mev. Cecilia
van der Linde by (051) 444 0115 (na ure) dadelik om die vorm, wedstrydreëls
en onderwerpe te bekom . Of kry dit by bloemsv@yahoo.com
(Mediabekendmaking
oor landwye skryfwedstryd van Bloemfonteinse Skrywersvereniging
deur voorsitter, me. Lalien Cilliers, op 17 Februarie 2008)
|