|
Die bestuur van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging
(BSV) het pas die uitslae van sy jaarlikse landwye skryfwedstryd,
Skrywers 2008, bekend gemaak.
Die wedstryd is deur Volksblad geborg en met steun
van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
(Naln) geadministreer. R10 000 se pryse is vanjaar uitgeloof en
vier wisseltrofeë vir skole was op die spel. Die afdelings
is hierdie jaar effens aangepas en was as volg: skrywers wat nog
nie voorheen skeppende kortprosa teen vergoeding gepubliseer het
nie, (hoërskoolleerlinge en volwassenes); skrywers wat al voorheen
teen vergoeding gepubliseer het en laastens, 'n ope afdeling vir
poësie. Deelnemers kon opstelle, sketse, kortverhale, kortkortverhale
en gedigte oor voorgeskrewe onderwerpe indien.
Vanjaar is 755 inskrywings uit alle dele van die
land vir beoordeling soos volg voorgelê: junior afdeling 56,
senior afdeling 232, ope afdeling (voorheen ongepubliseer) 94, ope
afdeling (voorheen gepubliseer) 25 en poësie 358. Weer eens
is bewys dat hierdie lank gevestigde wedstryd met die steun van
Volksblad en Naln 'n baie belangrike bydrae lewer ter bevordering
van Afrikaans, en ook om belangstelling in skryfwerk te stimuleer
en sluimerende skryftalent te laat ontwikkel. Die wedstryd is tien
jaar eers net in die Vrystaat aangebied en daarna, sedert 1989,
landwyd. Dit het gegroei tot die grootste skryfwedstryd in sy soort
in die land.
Die junior afdeling is deur 'n Vrystater gewen: Linki
Scholtz is 'n gr 8-leerder aan die C & N Meisieskool Oranje
in Bloemfontein. Die wisseltrofee vir die skool wat die meeste inskrywings
gelewer het, is vanjaar weer deur die Hoërskool D.F. Malan
in Bellville verower. Dié skool het altesaam 231 inskrywings
ingestuur en ook twee pryse in die senior afdeling losgeslaan. 'n
Hele paar inskrywings is uit die buiteland ontvang en daar was vanjaar
weer belangstelling uit nie-Afrikaanssprekende geledere.
Al die bekroonde inskrywings sal in Inkvars 2008,
'n huishoudelike publikasie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging,
gebundel word. Die bundel sal op Saterdag 16 Augustus 2008 uitgereik
word, wanneer die geldpryse, sertifikate en trofeë op die BSV
se jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers by die Noorderbloem-aftreeoord
in Bayswater, Bloemfontein, oorhandig word. Die baie bekende skrywer,
Annelie Botes van die Oos-Kaap, lei die slypskool.
Inkvars 2008 kan teen R60 per eksemplaar (plus R5
vir posgeld) van die voorsitter van die BSV, me. Lalien Cilliers,
bestel word. Die adres is Languedocstr 25, Bayswater, Bloemfontein,
9301 (tel. (51 436-2629, na ure). Ook vorige eksemplare van Inkvars
(wat die betrokke jare se weninskrywings bevat) kan teen laer pryse
bestel word.
Verdere besonderhede oor die wedstryd en die slypskool
kan van die voorsitter, me. Lalien Cilliers, by (051) 436-2629 (na
ure), of by me. Magda Janse van Rensburg, by (051) 446-1123 (na
ure) verkry word.
Die bekroonde inskrywings in Skrywers 2008 is soos
volg:
UITSLAE: SKRYWERS 2008
JUNIOR AFDELING (GR. 8 EN GR. 9)
1ste prys (R700): Linki Scholtz, Gr. 8, C & N Sekondêre
Meisieskool Oranje, Bloemfontein
SENIOR AFDELING (GR. 10 - GR. 12)
1ste prys (R1000): Mari van Deventer, Gr 11, Hoërskool Langenhoven,
Riversdal
2de prys (R550): Janneke Gerber, Gr 10, Hoërskool D.F. Malan,
Bellville
3de prys (R350): Adriaan Odendaal, Gr. 12, Hoërskool D.F. Malan,
Bellville
Eervol vermeld: Mari van Deventer, Gr. 11, Hoërskool Langenhoven,
Riversdal
Eervol vermeld: Alida Nel, Gr. 11, Hoërskool Durbanville, Durbanville
Aanmoedigingsprys vir nie-Afrikaanssprekende (R250):
Siobhán Rickerts, Gr. 12 (Engelssprekend), Hoërskool
De Kuilen, Kuilsriver
OPE AFDELING A (Nog nie voorheen gepubliseer teen vergoeding nie)
1ste prys (R1100): Mev. Antoinette Diedericks, Montagu
2de prys (R650): Mev. Ansie Botha, Christiana
3de prys (R450): Mnr. Riaan Raath, Senekal
Eervol vermeld: Mev. Gertruida du Buisson, Bloemfontein
Eervol vermeld: Mev. Jacolet van den Berg, Weltevredenpark
OPE AFDELING B (Voorheen gepubliseer teen vergoeding)
1ste prys (R1100): Mev. Elsa Engelbrecht, Bergbron
2de prys (R400): Mev. Magda van der Merwe, Klerksdorp
Eervol vermeld: Mev. Elsa Engelbrecht, Bergbron
Eervol vermeld: Mnr. Eben Germishuys, Magalieskruin
OPE AFDELING C - POËSIE
1ste prys (R1100): Mev. Magda van der Merwe, Klerksdorp
2de prys (R650): Mnr. Dave Lubbe, Bloemfontein
Eervol vermeld: Mev. Stefnie Muller, Bloemfontein
Eervol vermeld: Mev. Magda van der Merwe, Klerksdorp
TROFEë
HAUM-Literêr-trofee vir skool van wenner in Junior Afdeling:
C & N Sekondêre Meisieskool Oranje, Bloemfontein
Olivier-wisseltrofee vir skool van wenner in Senior Afdeling: Hoërskool
Langenhoven, Riversdal
Gerhard Beukes-wisseltrofee vir skool van algehele skolewenner:
Hoërskool Langenhoven, Riversdal
Vrystaat-wisseltrofee vir skool met meeste inskrywings (plus R1
000): Hoërskool D.F. Malan, Bellville.
MEDIAVRYSTELLING DEUR BESTUURSLID,
MEV. YOLANDé VAN HEERDEN, OP 17 JUNIE 2008
|