|
In Junie 1984 is die Storieman-reeks van 30 boeke
en 30 oudio-kasette op 'n kleuter- en kinderpartytjie in Leinster
Hall, Leon Rousseau se 19de-eeuse huis in Weltevredenstraat, Tuine,
Kaapstad, bekend gestel. Leinster Hall huisves vandag die Cape Town
Club, asook die Leinster Hall Restaurant.
Iets meer as 24 jaar later, op 12 Oktober 2008, verskyn al 30 klankbane
in die reeks vir die eerste maar ook vir die laaste keer op CD.
Net 1000 stelle CD's is pas gepers, wat die reeks 'n versamelaarsitem
maak.
Dié gaste by die party van 1984 wat nog in Kaapstad of omgewing
is, is genooi na 'n klein vonkelwyn-ontbyt in Leinster Hall op 12
Oktober 2008.
Die buitelandse kopiereghouers van baie van die stof in Storieman
(kantoor is in Londen, met beheer uit Singapoer) wil om onbekende
redes nie meer publikasieregte verkoop nie. Leon Rousseau raai dat
dit miskien verband hou met hul eie kopieregprobleme, aangesien
honderde kopieregte vir die reeks byeengebring moes word.
Hy wonder ook of Storieman in die Afrikaanse boekewêreld
nie dalk een van die top-verkopers ooit was nie. Die eerste druk
van boek 1 (met oudiokasset) was destyds 35 000 eksemplare, en dit
is minstens ses keer herdruk. Ook die 29 ander boeke in die reeks
het baie goed gevaar en is dikwels herdruk.
Daar is geen vooruitsig dat Storieman ooit weer in sy huidige vorm
sal verskyn nie.
Die prys per CD is R59, of R1770 vir al 30. Slegs volledige stelle
word verkoop. Storieman-boeke wat nog beskikbaar is (van die 30
boeke is uit druk) word as pasella saam met die CD's gelewer. Aangesien
van heelparty boeke minder as 1 000 eksemplare oor is, staan kopers
wat gou bestel, die beste kans om die grootste deel van die boeke
saam met die volledige stel CD's te bekom.
Die
volledige Storieman-reeks

Bestel by:
Kontakersoon: Elsa Smit
Tel. 012 807 6279 (huis)
012 348 2480 (werk)
082 674 2782 (sel)
faks: 086 621 1248
e-pos: storieman@mweb.co.za
Posbus 74096, Lynnwoodrif 0040.
(Bankbesonderhede sal op versoek verskaf word).

Die
volledige Storieman-reeks

Byskrif: Leon Rousseau, uitgewer van Storieman, saam met die
jeugdige nasate van tien beroemde Storiemense op die trappe van
sy huis, Leinster Hall, in die Tuine toe die Storeman-reeks in Junie
1984 bekend gestel is. Voor sit (van links) Willemien Brümmer,
agterkleinkind van C.J. Langenhoven; Madeleine Gonin, kleindogter
van D.J. Opperman; Deirdre Duminy, agterkleinkind van E.B. Grosskopf,
Anna-Helise Collins, kleindogter van Etienne Leroux; Willem de Vries,
seun van Braam de Vries, en Marié-Louise, Leon Rousseau se
dogter. Agter staan (van links) Tyrone Bowman, kleinseun van Ingrid
Jonker; Maria Human, kleindogter van N.P. van Wyk Louw; Rosa Louw,
kleindogter van W.E.G. Louw, en Jesse Kramer, David Kramer se dogter.
Vier en twintig jaar later:
Van die tien by die partytjie van 1984 het ses al in die buiteland
gewoon of gewerk. Vier is op die oomblik daar. Die ses wat in in
Suid-Afrika is, woon almal in die Kaap en het almal die uitnodiging
aanvaar. Hulle is Willemien Brümmer, redaksie BY, Willem de
Vries, kunsredaksie Die Burger, Jesse Kramer pas terug uit Taiwan,
Deirdre Pringle (geb. Duminy), finale jaar medies, Rosa Louw, Zoom
Advertising, Marié-Louise Rousseau, nagredaksie, Die Burger.
|