|
Die jaarlikse Herfsskool vir skrywers word vanjaar
weer deur die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit aangebied
en bekendes uit die skryfwêreld sal as aanbieders optree.
- DATUM: 30 Maart 2009 - 3 April 2009
- PLEK: Nooitgedacht, Potchefstroom
- KURSUSSE: Hoe skryf ek 'n rubriek, prosa, poësie, kinderliteratuur?
- KOSTE: R2 250,00, verblyf vir 4 nagte in selfsorgeenhede en
etes (behalwe ontbyt) ingesluit.
- SLUITINGSDATUM VIR INSKRYWINGS: 16 Maart 2009
- TOELATINGSVEREISTES: Net jou eie skryfstuk, soos hieronder
uiteengesit.
Herfsskoolgangers kan vanjaar dus uit vier bene tydens die Herfsskool
kies: prosa, poësie, kinderliteratuur en skryf van rubrieke.
Hierdie bene loop gelyktydig tydens die Herfsskool.
Vir vyf dae word daar intensief aan jou eie skryfwerk geskaaf deur
skrywers, uitgewers, groepleiers en werkswinkelaanbieders. Aan die
einde van die Herfsskool word 'n bywoningsertifikaat toegeken.
Die Herfsskool begin op Maandag, 30 Maart 2009 om 09:30 (jy kan
reeds van 08:30 af registreer) by die Noordwes-Universiteit se plaas,
Nooitgedacht, Potchefstroom. Die Herfsskool sal Vrydag om 12:00
afsluit sodat jy weer kan vertrek.
Die vier verskillende bene van die Herfsskool word in parallelle
sessies aangebied, hoewel die hooflesings van skrywers of uitgewers
vir al die kursusgangers gelyktydig aangebied word.
Om tot die Herfsskool toegelaat te word, word daar 'n skryfstuk
gevra wat jy saam met jou inskrywing voor die sluitingsdatum, 16
Maart 2009, moet instuur met 'ndeposito van R500,00 (nie terugbetaalbaar
nie). Hierdie skryfstuk van jou word deur die loop van die week
in kleingroepverband met jou bespreek.
Die Herfsskool bied jou nie net die geleentheid om met die skryfkuns,
skrywers, uitgewers en tydskrifmense kennis te maak nie, maar jy
ontmoet ook ander mense wat jou intense belangstelling deel en wat
met dieselfde skryfprobleme as jy worstel. Dit maak nie saak op
watter vlak jou skryfwerk is nie - of jy nog nooit gepubliseer het
nie, en of jy alreeds gepubliseer het - die Skryfskool se mense
sal jou skryfwerk help slyp.
Die bene van die Herfsskool en elkeen se skryfstukke lyk só:
PROSA
Hoe lyk 'n kortverhaal of 'n roman? Daar word aandag geskenk aan
die uitwerk van die verhaallyn die skep van karakters en ruimte
en die tyd van die storie. Om vir hierdie been in te skryf, moet
jy 'n kortverhaal, van nie meer as 10 bladsye nie, vooraf instuur.
POëSIE
Waar kry ek 'n gedig vandaan? Hoe werk metafore, klank, beweging
en vorm wanneer ek 'n gedig skryf? Moet dit rym, en wat is `'n moderne
gedig nou eintlik? Vir hierdie been moet jy een gedig met jou inskrywing
saamstuur.
KINDERLITERATUUR
Om vir kinders of vir die jeug te skryf, is dieselfde as om vir
grootmense te skryf - dit is net moeiliker! Die moets en moenies
van kinderliteratuur en die besondere eise daarvan word behandel.
Om vir hierdie been in te skryf moet jy 'n kinder- of jeugverhaal,
van nie meer as 10 bladsye nie, saam met jou inskrywingsvorm instuur.
KURSUS IN RUBRIEKE
'n Rubriek is die soort skryfstuk wat in byna elke koerant of tydskrif
gebruik word, maar min van ons is regtig opgelei om 'n rubriek te
skryf. Die hooffokus van die kursus is hoe om 'n rubriek vir 'n
tydskrif of koerant te skryf wat week na week die leser sal bly
interesseer. Daar is baie spesifieke eise wat aan die rubriekskrywer
gestel word, want dit is die soort woordkuns wat ook nog binne die
beperkinge van lengte, saktye, weeklikse verskyning en die leser
as teiken geskryf moet word. Hierdie been van die Herfsskool sal
aangebied word in samewerking met ervare rubriekskrywers.
Om tot die kursus toegelaat te word, moet jy 'n rubriek van 1 000
woorde saam met jou inskryfvorm voor die sluitingsdatum instuur.
AKKOMMODASIE
Akkommodasie is beskikbaar in netjiese, selfsorgeenhede by die
Elgro River Lodge, Nooitgedacht, Potchefstroom.
INSKRYWING
Vul net die inskrywingsvorm in en stuur dit saam met 'n deposito
van R500,00 (nie terugbetaalbaar nie) en jou skryfstuk vir die betrokke
been sodat jou inskrywing ons nie later as 16 Maart 2009 bereik
nie.
Vra 'n vorm aan of doen navrae oor die Herfsskool by die Skryfskool
word (Tel: 018 299 1783).
Ons het al baie mense gehelp om regtig aan die skryf en publiseer
te kom, ons kan jou ook help!
Stuur die voltooide inskryfvorm saam met jou getikte skryfstuk
(en tien afskrifte daarvan) voor 16 Maart 2009, aan:
Die Direkteur
ATKV-Skryfskool
Noordwes-Universiteit
Privaatsak X6001
POTCHEFSTROOM
2520
ANDER KURSUSSE
Die ATKV-Skryfskool bied ook 'n verskeidenheid ander skryfkursusse
aan vir enigiemand wat wil skryf of hul kreatiewe skryfwerk wil
verbeter.
- 2 Februarie Kanselierskursus vir jong skrywers, Prosa, Potchefstroom
- 9 Februarie Kanselierskursus vir jong skrywers, Poësie,
Potchefstroom
- 6 - 7 Maart Kanselierskursus vir jong skrywers, Oudtshoorn
- 30 Maart - 3 April Herfsskool vir skrywers, Nooitgedacht, Potchefstroom
- 9 Mei Dagkursus in Prosa en Poësie, Potchefstroom
- 15 Augustus Gemeentebladkursus, Potchefstroom
- 28 - 29 Augustus Kanselierskursus vir jong skrywers, Upington
- 3 - 5 September Lenteskool, Nooitgedacht, Potchefstroom
NAVRAE
Tel: 018 299 1783
Faks: 018 299 1784
kobie.vanaswegen@nwu.ac.za
|