|
Die groot skryfwedstryd met groot prysgeld en publikasiemoontlikhede
in Passi-tydskrif.
Voornemende skrywers sal moet opskud om R12 000 los te skryf in
die jaarlikse landwye skryfwedstryd van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging.
Vorige wenners van die groot BSV-skryfwedstryd is deesdae bekroonde
skrywers, soos Carina Diedericks-Hugo, Fanie Viljoen en Jaco Jacobs.
Die sluitingsdatum is Vrydag 15 Mei 2009.
Die wedstryd word spesiaal gereël vir volwassenes en hoërskoolleerlinge
wat nog nie voorheen kortprosa teen vergoeding gepubliseer het nie,
sowel as diegene wat wel al voorheen teen vergoeding gepubliseer
het. Deelnemers moet een of meer oorspronklike opstelle, vertellings,
kortkortverhale, kortverhale of gedigte in Afrikaans oor voorgeskrewe,
interessante onderwerpe indien. Inskrywings word anoniem beoordeel.
Benewens aantreklike geldpryse is daar ook vier wisseltrofeë
vir skole op die spel. Boonop wen die skool wat die meeste inskrywings
instuur, R1 000. Daar is vier afdelings: drie prosa-afdelings en
een poësie-afdeling. Afdeling A is vir leerders (Juniors: graad
8 tot 9) en (Seniors: graad 10 tot 12), Afdeling B behels prosa
vir volwasse skrywers wat nog nie voorheen gepubliseer het nie.
Afdeling C is 'n ope afdeling vir skrywers wat wel al voorheen kortprosa
teen vergoeding gepubliseer het. Afdeling D is 'n poësie-afdeling
vir gepubliseerde en ongepubliseerde deelnemers.
Leerders wat aan Afdeling A deelneem, moet kortprosa van hoogstens
1 000 woorde voorlê; volwassenes wat aan die wedstryd deelneem
se kortprosa mag hoogstens 2 500 woorde lank wees, en digters word
beperk tot gedigte van hoogstens 40 versreëls lank.
Daar is aantreklike geldpryse in elke afdeling, asook 'n aanmoedigingsprys
(ook 'n geldprys) in Afdeling A vir 'n deelnemer wie se moedertaal
nie Afrikaans is nie.
Boonop kan wenners van alle pryse 'n slypskool vir ontluikende
skrywers wat die Bloemfonteinse Skrywersvereniging in Augustus aanbied,
gratis bywoon. Al die bekroonde inskrywings sal in Inkvars 2009,
'n huishoudelike publikasie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging,
gepubliseer word. Daar is ook publikasiemoontlikhede vir wenverhale
in die glanstydskrif, Passi.
Die wedstryd word met die steun van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige
Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein geadministreer. Die wedstryd
word sedert 1989 landwyd aangebied en het sedertdien gegroei tot
die grootste in sy soort in die land.
Alle inskrywings moet van 'n voorgeskrewe inskrywingsvorm vergesel
wees.
Bel dadelik vir mev. Christa Jordaan by
051-5229155, of mnr. Kassie Joubert by 0822004340 om die vorm, wedstrydreëls
en onderwerpe te bekom. Of kry dit by bloemsv@yahoo.com .
Mediabekendmaking oor landwye skryfwedstryd van Bloemfonteinse
Skrywersvereniging deur die voorsitter, me. Corlietha Swart, op
15 Maart 2009
|