|
Die PUK-Kanselierstrust het in sy bestaan sedert
1994 al heelwat lofwaardige projekte aangepak. Enkele van hierdie
projekte word hiermee kortliks aangestip. Dis moontlik om hier 'n
onderskeid te tref tussen bemagtigingsprojekte, onder-steuningsprojekte
en hoërfunksieprojekte.
1. Bemagtigingsprojekte
Hierdie projekte het ten doel die bemagtiging van persone om deur
middel van Afrikaans aan die aktiwiteite van die SA gemeenskap deel
te neem. Die volgende kan hier uitgesonder word:
- Geletterdheidsprogramme is in samewerking met die Sentrum vir
Afrikaanse Geletterdheid (SAG) van die Universiteit van Pretoria
en die Stigting vir Afrikaans aangepak. Onder leiding van prof.
Maritha Snyman van UP was SAG betrokke by geletterdheidsopleiding
in die Eersterust-gemeenskap net buite Pretoria. Aan die een kant
is broodnodige kursusmateriaal (leesboekies) aan die leerders
verskaf terwyl daar aan die ander kant konstant aandag gegee word
aan die opleiding van geletterdheidsfasiliteerders, d.w.s. die
mense wat betrokke is by die aanbieding van die klasse self. Die
feit dat die nuwe leerders deur middel van Afrikaans toegang gekry
het tot geletterdheid is belangrik vir die uitbreiding van die
potensiaal van Afrikaans.
- Bemagtigingsprogramme is finansieel gesteun deur die Trust.
- Een so 'n projek is aangepak by die Sendinggemeente in Hotazel
waar dr. Sarel van der Merwe en sy eggenote, dr. Belia van
der Merwe, hard gewerk het om onder die vaandel van die College
ya Mojadi kursusse in Afrikaans aan te bied.
- Waarskynlik die suksesvolste Kanselierstrustprojek is die
een wat aangepak is op Potchefstroom (dit staan bekend as
die skolebemagtigingsprojek op Potchefstroom). Hierdie projek
het sy ontstaan gehad toe die hoof van die Hoër Tegniese
Skool op Potchefstroom by die plaaslike universiteit (die
PU vir CHO) se Departement Afrikaans en Nederlands kom aanklop
het om hulp vir 'n aantal swart leerlinge wat Afrikaans nie
so goed magtig is nie en probleme ervaar het om Afrikaans
in die klasse te volg. Die projek is mettertyd uitgebrei om
nog hoërskole en selfs laerskole in te sluit. Vreemdetaalsprekers
van Afrikaans het hierdeur die kans gekry om onder die leiding
van 'n bekwame fasiliteerder, mev. Quinta Banghart, hulle
vaardighede in Afrikaans as kommunikasietaal te slyp en selfvertroue
op te bou t.o.v. Afrikaans as onderrigmedium. Die afgelope
drie jaar het mev. Banghart 'n ondersteunende rol vir sowel
leerlinge as onderwysers in die skole in die Ikageng- en Promosagebiede
gelewer en hierdeur kon sy uiters waardevolle werk doen om
Afrikaans as taal onder die sekondêre taalgemeenskap
van Afrikaans te bevorder.
- Die Trust ondersteun jaarliks skryfkursusse vir skoliere as
deel van 'n bemagtigingspoging om skryfwerk onder die jeug aan
te wakker. Die ATKV-Skryfskool van die PU vir CHO onder leiding
van prof. Hans du Plessis bied tans onderskeidelik op Calvinia,
Montagu en Oudsthoorn naweekkursusse aan vir skoliere wat wil
leer prosa skryf. In die verlede is soortgelyke kursusse ook op
Potchefstroom en Springbok aangebied. Die koste vir die leerders
is minimaal weens Die PUK-Kanselierstrust se bydrae. Die doel
van die kursusse is juis om die kundigheid oor skryf na die jongmense
te neem. Hierdie Kanselierskursusse is dieselfde soort kursus
as wat die Skryfskool jaarliks in Oudtshoorn aanbied, en die kursusse
het al gepubliseerde en bekroonde jong skrywers vir Afrikaans
opgelewer.
2. Ondersteuningsprojekte
Hierdie projekte het ten doel om as steun te dien vir die uitbrei
van die potensiaal van Afrikaans op verskillende vlakke. Voorbeelde
hiervan is:
- Talle kursusse vir onderwysers is al met die hulp van Die PUK-Kanselierstrust
aangebied. Die doel met hierdie kursusse - hoofsaaklik onder die
leiding van prof. Marlene Verhoef van die Skool vir Tale van die
Vaaldriehoekse kampus van die PU vir CHO op Vanderbijlpark - is
om onderwysers opnuut toe te rus vir die uitdagings wat die onderrig
van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika verg. Die afgelope paar
kursusse het bv. sterk klem gelê op die uitdagings wat vreemdetaalonderwysers
van Afrikaans in die gesig staar en hoe hierdie probleme in die
klaskamer opgelos kan word.
- Afrikaanse ondersteuningsprogramme (sg. Saterdagskole) is in
die verlede met die steun van die Trust wyd in die Noordwes-Provinsie
en die Vaal-driehoek aan skoliere aangebied ten einde hulle beter
toe te rus vir hulle skoolkursusse.
3. Hoërfunksieprojekte
Die projekte wat hier ter sprake is, fokus op die uitbou van Afrikaans
se hoë funksies. Van die projekte wat reeds aangepak is, is
o.m.:
- Die vestiging in 1998 van 'n Afrikaanse poësieversameling
in die Poëzie-centrum in Gent, België, is moontlik gemaak
met die hulp van die Trust se finansiële ondersteuning. Die
Afrikaanse digter Ernst van Heerden se volle-dige versameling
Afrikaanse poësie is deur die erfgenaam daarvan, dr. Lukas
Malan, oorgemaak aan die Poëziecentrum. In hierdie Centrum
is daar reeds volledige versamelings Nederlandse en Vlaamse poësie
en die byvoeg van die Afrikaanse versameling daar maak dat 'n
sinvolle nuwe navorsingsterrein vir vergelykende studie oopgaan.
Hierdie versameling word jaarliks aangevul met nuwe publikasies
- daar is sedert die amptelike tostandkoming van die versameling
al meer as 70 bykomende publikasies aangestuur as aanvulling.
'n Belangrike byvoordeel van hierdie versameling is die gereelde
verskyn van berigte oor die Afrikaanse poësie in die bekende
poësietydskrif, Poëziekrant. Hierdie versameling word
tans ook op die internet via die Poëziecentrum wyer bekend
gestel. Hiermee het 'n belangrike deur vir Afrikaans in die Lae
Lande oopgegaan.
- Die PUK-Kanselierstrustprys vir Afrikaanse komposisie word
sedert 1999 toegeken in die belang van die bevordering van oorspronklike
Afrikaanse musiek. Die Inligtingsentrum vir Suider-Afrikaanse
Musiek (ISAM) aan die PU vir CHO administreer hierdie kompetisie.
Die kompetisie as sodanig bied 'n unieke geleentheid vir die skep
van nuwe Afrikaanse komposisies en die verwagting is dat dit op
die lang termyn 'n baken in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse
musiekwêreld sal word.
- Die Kanselierstrust het al versoeke ontvang om betrokke te
raak by die publi-kasie van Afrikaanse vakwoordeboeke - voorbeelde
in hierdie verband is die werk wat met die finansiële steun
van die Trust tans aan 'n Afrikaanse Biologiewoordeboek asook
'n Afrikaanse Statistiekwoordeboek gedoen word.
- Die Trust borg vir die volgende paar jaar die tweejaarlikse
Poort-prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hierdie
prys beloon jong skrywers van Afrikaans vir hulle letterkundige
produkte (prosa en poësie).
- Die Trust het fondse bewillig om in samewerking met die Nasionale
Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in
Bloemfon-tein asook die Bibliografie van de Nederlandse Taal-
en Literatuurwetenschap (BNTL) in Den Haag, Nederland bibliografiese
besonderhede oor publikasies oor die Afrikaanse taal- en letterkundige
terrein via die internet wêreldwyd beskikbaar te stel. Ook
hiermee gaan internasionaal 'n belangrike deur vir Afrikaans oop.
- Die Trust raak vanaf 2002 aktief betrokke by die uitdra van
Afrikaans in Europa deur op te tree as een van die hoofborge vir
die jaarlikse Afrikaanse seminare wat oor die Afrikaanse taal-
en letterkunde in Diepenbeek, België aangebied word. Hierdeur
word studente en dosente in verskeie Europese lande (selfs Amerika)
wat belang het by die Afrikaanse taal- en letterkunde die geleentheid
gebied om hulle kennis van Afrikaans verder te slyp. Die waarde
van hierdie seminare lê in die uitkringeffek wat dit het.
- Die Trust was by geleentheid betrokke by die toeken van 'n
prys vir vertaalde werk in Afrikaans. Hierdie projek is bestuur
deur die SA Vertalersinstituut.
- Die Trust was in die verlede al betrokke by die publikasie
van belangrike Afrikaanse vakbronne. So het die Trust deur borgskappe
gehelp om Taalreis (1999), 'n boek deur dosente van Vista-Universiteit
en gemik op die vreemde-taalmark, gepubliseer te kry. In 2002
sal 'n standaardnaslaanwerk oor die Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur,
getiteld Die ABC van die Afrikaanse kinderliteratuur, met die
steun van die Kanselierstrust op die mark kom.
Hiermee is enkele van die projekte van Die PUK-Kanselierstrust
bekend gestel. Hierdeur kry lede van die Raad van die Universiteit
asook ander belangstellendes die geleentheid om kennis te neem van
die aktiewe wyse waarop die Trust meewerk om Afrikaans as taal te
bevorder - nasionaal sowel as internasionaal.
Prof. WAM Carstens
Direkteur
Skool vir Tale
PU vir CHO
Prof. HGW du Plessis
Direkteur
ATKV-Skryfskool
PU vir CHO
11/09/2001
|