|
Die voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging
(BSV), Corlietha Swart, het pas die uitslae van die jaarlikse nasionale
skryfwedstryd, Skrywers 2009, bekend gemaak. Die wedstryd is met
steun van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
(Naln) geadministreer en die reklameborg was Passi Glanstydskrif.
Deelnemers kon opstelle, sketse, kortverhale, kortkortverhale en
gedigte oor voorgeskrewe onderwerpe indien.
Vanjaar is 'n rekordtal van 1054 inskrywings uit alle dele van
die land en van oorsee van so ver as Saudi-Arabië, Namibië,
Engeland en Nederland vir beoordeling voorgelê. Weer eens
is bewys dat hierdie gevestigde, nasionale skryfwedstryd 'n baie
belangrike bydrae lewer ter bevordering van Afrikaans en om 'n belangstelling
in skryfwerk te stimuleer en sluimerende skryftalent te laat ontwikkel.
Die 30-jaar oue wedstryd is tien jaar eers net in die Vrystaat aangebied
en die afgelope 20 jaar, sedert 1989, landswyd. Dit het gegroei
tot die grootste skryfwedstryd in sy soort in die land. 'n Hele
paar inskrywings is uit die buiteland ontvang en daar was vanjaar
weer belangstelling uit nie-Afrikaanssprekende geledere. Altesaam
R12 000 se pryse is vanjaar uitgeloof en vier wisseltrofeë
vir skole was op die spel - Hoërskool D.F. Malan het vanjaar
skoonskip gemaak deur al vier trofeë, asook die prys vir die
skool met die meeste inskrywings, in te palm.
Al die bekroonde inskrywings sal in Inkvars 2009 gebundel word
en in Passi-glanstydskrif gepubliseer word. Inkvars 2009 sal op
15 Augustus 2009 uitgereik word wanneer die pryse op die BSV se
jaarlikse Slypskool vir Ontluikende Skrywers by die Noorderbloem-aftree-oord
in Bloemfontein oorhandig word. Buiten vir die prysgeld en trofeë,
sal wenners die slypskool, as deel van hul prys, gratis bywoon.
Die bekende skrywer en slypskoolaanbieder, prof. Hans du Plessis,
sal die slypskool lei.
Inkvars 2009 kan teen R65 per eksemplaar (plus R5 vir posgeld)
by Die Ondervoorsitter (Cecilia van der Linde), (tel. 051-4440115
n.u.), Die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, Posbus 28155, Danhof,
9310, of by bloemsv@yahoo.com bestel word.
Wenners van "Skrywers 2009" is:
SKOLE-AFDELING (A):
JUNIOR AFDELING (gr. 8 en 9)
1ste (R800) en trofee: Darius Botha, gr. 8, Hoërskool D.F.
Malan, Bellville.
2de (R600): Gerné Bothma, gr. 8, Hoërskool D.F. Malan,
Bellville.
3de (R400): Madelein Koekemoer, gr. 9, C & N Sek. Meisieskool
Oranje, Bloemfontein.
Eervol vermeld: Dané Erasmus, gr. 8, Hoërskool Linden
Aanmoedigingsprys (vir niemoedertaalspreker): Geen toekenning.
SENIOR AFDELING (gr. 10 - 12)
1ste (R1 000) en trofee: Reino Barkema, gr. 11, Hoërskool D.F.
Malan, Bellville.
2de (R700): Lize Zeeman, gr. 12, Hoërskool D.F. Malan, Bellville.
3de (R500): Elené Botha, gr. 12, C & N Sek. Meisieskool
Oranje, Bloemfontein.
Eervol vermeld: Yaël Malgas, gr. 12, Hoërskool D.F. Malan,
Bellville.
Aanmoedigingsprys vir nie-Afrikaanssprekende (R250): Ivan Jacobs,
gr. 10, (Engelssprekend), Hoërskool Hangklip, Queenstown.
ALGEHELE SKOLEWENNER: Reino Barkema, gr. 11, Hoërskool D.F.
Malan, Bellville.
OPE AFDELING B (Nog nie voorheen gepubliseer teen vergoeding
nie):
1ste (R1000): Mev. Antoinette Diedericks, Montagu.
2 de (R800): Mev. Gisela Ulyatt, Heuwelsig, Bloemfontein.
3 de (R600): Mev. Elize Zeeman Olivier, 'sGravenzande, Nederland.
Eervol vermeld: Mnr. Bennie Olivier, Bloemfontein.
OPE AFDELING C (Voorheen gepubliseer teen vergoeding):
1ste (R1 000): Mev. Marianne Venter, Hatfield.
2de (R800): Mnr. Rudie van Rensburg, Bellville.
Eervol vermeld: Mnr. Dirk Winterbach, Gordonsbaai.
OPE AFDELING D (Poësie):
1ste (R1 000): Me. Hilda A. Smits, Londen, Groot-Brittanje.
2de (R800): Mev. Lisa Deysel, Pellissier, Bloemfontein.
3de (R500): Me. Francilié Hoek, Bryanston, Johannesburg.
Eervol vermeld: Mev. Ronelle Ceronio, Universitas, Bloemfontein.
Me. Elmarie Viljoen, Langenhovenpark, Bloemfontein.
TROFEË:
HAUM-Literêr-trofee vir skool van wenner in Junior Afdeling:
Hoërskool D.F. Malan, Bellville.
Olivier-wisseltrofee vir skool van wenner in Senior Afdeling: Hoërskool
D.F. Malan, Bellville.
Gerhard Beukes-wisseltrofee vir skool van algehele skolewenner:
Hoërskool D.F. Malan, Bellville.
Vrystaat-wisseltrofee vir skool met meeste inskrywings (plus R1
000): Hoërskool D.F. Malan, Bellville.
|