|
Die voorsitter van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging,
Corlietha Swart, nooi voornemende skrywers om R12 000 los te skryf
in die jaarlikse landwye skryfwedstryd van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging.
Vanjaar word die prysgeld geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe
van die Universiteit van die Vrystaat. Vorige wenners van die groot
BSV-skryfwedstryd is deesdae bekroonde skrywers, soos Piet Steyn,
Carina Stander, Carina Diedericks-Hugo, Fanie Viljoen en Jaco Jacobs!
Die sluitingsdatum is Vrydag, 7 Mei 2010.
Die wedstryd word spesiaal gereël vir volwassenes en hoërskoolleerlinge
wat nog nie voorheen kortprosa teen vergoeding gepubliseer het nie,
sowel as diegene wat wel al voorheen teen vergoeding gepubliseer
het. Deelnemers moet een of meer oorspronklike opstelle, vertellings,
kortkortverhale, kortverhale of gedigte in Afrikaans oor voorgeskrewe,
interessante onderwerpe indien. Inskrywings word anoniem beoordeel.
Benewens aantreklike geldpryse is daar ook vier wisseltrofeë
vir skole op die spel. Boonop wen die skool wat die meeste inskrywings
instuur, R1 000! Daar is vier afdelings: drie prosa-afdelings en
een poësie-afdeling. Afdeling A is vir leerders (Juniors: graad
8 tot 9) en (Seniors: graad 10 tot 12), Afdeling B behels prosa
vir volwasse skrywers wat nog nie voorheen gepubliseer het nie.
Afdeling C is 'n ope afdeling vir skrywers wat wel al voorheen kortprosa
teen vergoeding gepubliseer het. Afdeling D is 'n poësie-afdeling
vir gepubliseerde en ongepubliseerde deelnemers.
Leerders wat aan Afdeling A deelneem, moet kortprosa van hoogstens
1 000 woorde voorlê; volwassenes wat aan die wedstryd deelneem
se kortprosa mag hoogstens 2 500 woorde lank wees, en digters word
beperk tot gedigte van hoogstens 40 versreëls lank.
Daar is aantreklike geldpryse in elke afdeling, asook 'n aanmoedigingsprys
(ook n geldprys) in Afdeling A vir 'n deelnemer wie se moedertaal
nie Afrikaans is nie.
Boonop kan wenners van alle pryse 'n slypskool vir ontluikende
skrywers, wat die Bloemfonteinse Skrywersvereniging in Augustus
2010 aanbied, gratis bywoon. Vanjaar se slypskool word deur die
gewilde dr. P.G. du Plessis aangebied - 'n geleentheid wat potensiële
skrywers nie mag mis nie! Al die bekroonde inskrywings sal in Inkvars
2010, 'n huishoudelike publikasie van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging,
gepubliseer word.
Die wedstryd word met die steun van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige
Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein geadministreer. Die wedstryd
word sedert 1989 landwyd aangebied en het sedertdien gegroei tot
die grootste in sy soort in die land. Alle inskrywings moet van
'n voorgeskrewe inskrywingsvorm vergesel wees.
Die wedstryd word aangebied deur die BSV in samewerking met NALN
en word vanjaar geborg deur die Fakulteit Geesteswetenskappe van
die Universiteit van die Vrystaat.
Inskrywings:
Bel dadelik vir mev. Christa Jordaan by 051-5229155 in werksure,
of mej. Lelani Fourie by 0733883377 om die vorm, wedstrydreëls
en onderwerpe te bekom. Of vra dit elektronies aan by bloemsv@yahoo.com
Mediabekendmaking oor landwye skryfwedstryd
van Bloemfonteinse Skrywersvereniging deur die voorsitter, me. Corlietha
Swart, op 8 Maart 2010
|