|
Die wenners vir 2009 is op 17 Maart 2010 by n
spoggeleentheid by die Officers Club in Century City aangekondig.
Daar is vanjaar twee goue en drie silwer pryse toegeken. Die beoordelaars
in die Engels- en Ngunitale-kategorieë was veral beïndruk
met die hoë standaard van inskrywings in hierdie kategorieë.
Die gouemedalje-wenner vir 2009 in die kategorie Nguni-tale is die
Johannesburgse skrywer en uitgewer Dumisani Sibiya, vir sy verhaal
Ngiyolibala Ngife (IsiZulu). Die keurder prof. Bheki Ntuli
het aanbeveel dat dié verhaal die hoogste Sanlam-prys ontvang.
Dit is die derde keer dat Sibiya met n Sanlam-prys bekroon
word.
In die kategorie vir Engels wen die debuutskrywer Adeline Radloff
n goue prys vir haar verhaal, Sidekick, deur die beoordelaars
beskryf as n uitstekend-beplande avontuurverhaal, geskryf
met n sekuur hand en n goeie begrip vir dialoog, met
n skerp sin vir ironie sodat die verhaal in heel donker humor
vertel word.
Die silwer wenner in die kategorie vir Engels is Alex Smith vir
haar verhaal Agency Blue, wat deur die beoordelaars beskryf
is as n anderse en gesofistikeerde verhaal met n
knap aanvoeling vir die magies-realistiese. Sowel Adeline
Radloff as Alex Smith woon in Kaapstad.
In die Afrikaanse kategorie is daar slegs een prys toegeken. Die
Pretorianer Derick van der Walt, wat in 2007 gedebuteer het met
Lien se lankstaanskoene, word weer bekroon dié
keer met n silwer prys vir Willem Poprok. Die
beoordelaars was beïndruk deur die vloeiende storie-ontwikkeling,
fyn karakterbeelding en die verrassende wendinge wat die leser se
aandag deurentyd boei. Dit is n opwindende en sterk
pluspunt dat die verhaal ook n onderlinge tema (sonder enige
opdringerigheid) dra van diversiteit tussen gender, rasse en tussen
generasies, het hulle gesê.
In die afdeling vir Sotho-tale kry Mabonchi Motimele n silwer
prys vir sy verhaal, Ke a hwa, ke a ikepela. Dié verhaal,
in Sepedi geskryf, is n debuut van hierdie skrywer van Limpopo,
en dis die eerste keer dat die Sanlam-pryse n wenner in Sepedi
oplewer.
Al dié wenboeke sal in Oktober 2010 op die boekwinkelrakke
wees.
Dis met trots dat Sanlam en Tafelberg kan getuig van die goeie
reaksie wat uit die kompetisie groei. Heelwat van die wenboeke van
die afgelope dertien jaar se kompetisies is al bekroon met ander
toekennings, onder meer die MER-prys vir jeuglektuur, die Scheepers-prys,
ATKV-pryse (wat deur jongmense self toegeken word), die CP Hoogenhout-toekenning
en ook M-Net-pryse. Van die boeke is ook al internasionaal uitgegee.
Sanlam se ontwikkeling van lesers en skrywers deur hierdie kompetisie
maak die literatuurlandskap vir jonger lesers aansienlik ryker.
In haar toespraak het Eloise Wessels, hoof uitvoerende beampte
van NB-Uitgewers (waarvan Tafelberg n druknaam is) die tema
vir die 2011 Sanlam-prys vir Jeuglektuur aangekondig. Die organiseerders
soek dié keer n verhaal waarin hoop n rol speel.
Die sluitingsdatum vir die volgende kompetisie is 30 Junie 2011.
(Persverklaring: Kabous Meiring.)
|