|
Ou Langoor donkie is deurmekaar. Die afgelope paar maande het hy
die eienaardigste stories gehoor by die ander diere op die plaas:
die ou koeistalle word nou verander in 'n towerplek! As klein Giggel
gansie nie uitasem kom vertel van potte verf wat afgelaai word nie,
dan is dit Bertus bok wat moes koes voor 'n lorrie vol ligte! Die
eienaardigste storie nog is Aristoteles aap wat vertel van 'n verhoog
en kartondose vol
boeke!
Langoor is deurmekaar, want hy weet wat gras en voëls en damme
is, want hy sien dit elke dag, maar wat op aarde is ligte en verf
en 'n verhoog en boeke?
Hy besluit om bietjie van naderby te gaan ondersoek instel. Hy loop
verby die plaasdammetjie, oor die sagte gras
en daar sien
hy dit: die ou koeistalle, maar daar is iets vreemds in die lug.
Hy snuif 'n paar diep snuiwe, dink 'n rukkie, en toe tref dit hom:
dis die reuk van toweragtige stories! Hy loop tot by die venster
en kyk in, en sowaar, daar in die goudgeel kamer wat eers Karel
koei se stal was, staan pienk en groen en blou meubels vol boeke!
En daar waar die koeie aandete geëet het staan 'n verhoog met
die allermooiste pers gordyne, en dit alles word verlig deur die
ongelooflikste geel, groen, rooi en blou ligte!
Net daar en dan draai Langoor om en laat spaander terug om die
ander diere te vertel van sy toweragtige ontdekking!
Ons stel bekend Kinderteater en -boekwinkel
Van 18 Oktober tot 31 Oktober speel Johan Giliam (The
Res), Lani van der Merwe (The Res), Marike Gersbach en Marhette
van Schalkwyk (7e Laan, Song vir Katryn) in Die Maniese Pie-eet
Kompetisie. Die drie Mokkefaanse helde Rex, Martie en Danie
moet die nare Boosbalie uitoorlê sodat hulle betyds by die
pie-eet kompetisie kan uitkom. Wo. -Vr. 15:00, Sa. 11:00 en 12:30.
Kinders R30, volwassenes R40.
Hier is ook dramaklasse, aangebied deur Marhette van Schalkwyk,
met die oog op deelname aan die produksies, eisteddfods of sommer
net pret. Vir die kleingoed wat eerder met hulle hande werk, is
daar kunsklasse by Henriëtte waar hulle kan leer hoe om doelgerig
te knip, plak en eksperimenteer. En vir die outjies wat so 'n bietjie
towerkrag wil saamneem huis toe, is daar kinderboeke om van te kies
en keur.
Kom word deel van ons kinderkuns
en -kultuur by Babbelbox, Kimiad-gronde, Wekkerstraat, Moreletapark.
Kontak Marhette 082 786 3966 of Henriëtte 083 626 8881

|