|
Via Afrika Uitgewers, 'n opvoedkundige uitgewery wat
deel is van Media24/Naspers, is besig met 'n opwindende projek:
die publikasie van 'n splinternuwe handboekreeks vir alle vakke
- ook vir die vak Afrikaans Eerste Addisionele Taal. Die reeks oorspan
alle fases in grade (dus Graad 1-12) en is gerig op die voorskryfmark
vir skole landswyd. Ons nooi alle skrywers,
voorheen gepubliseer of ongepubliseer, om tekste voor te lê
vir oorweging.
As agtergrond: die Nasionale
Departement van Onderwys is tans besig om 'n nuwe kurrikulum (die
Nasionale Assessering Beleidsverklaring, NKABV of CAPS) oor 'n periode
van drie jaar in te faseer. Grade 1-3 en Graad 10 is in 2011 geproduseer
en voorgelê en boeke wat op die nasionale katalogus verskyn,
word vanaf Januarie in 2012 in skole gebruik. Volgende aan die beurt,
is die publikasie van taalhandboeke en leesboeke vir Grade 4-6,
gereed vir voorlegging teen vroeg Februarie 2012.
Via Afrika is baie trots op ons 100% suksessyfer
tydens die vorige rondtes waar al die boeke wat voorgelê is
vir die vak Afrikaans goedgekeur is. Omdat die proses genasionaliseer
word (voorheen was daar verskillende geleenthede om op provinsiale
vlak voor te lê, nou is dit slegs een geleentheid op nasionale
vlak) is die kompetisie strawwer, maar die geleenthede en beloning
groter - des te meer ons opgewondenheid oor die sukses wat behaal
is en ons strewe om voort te bou op hierdie prestasie.
Die reeks Via Afrika Afrikaans Eerste Addisionele
Taal bestaan uit Leerderboeke (handboeke
vir leerders), Onderwysersgidse (vir
die onderwyser, met opwindende hulpbronne ingesluit) en Leesboeke
waarin leerders alle soorte tekste vir genot kan lees. Anders as
die reeks vir Huistaal, word hierdie reeks gerig op
leerders wie se moedertaal nie Afrikaans is nie, maar die
vak neem as hul tweede taal en dus besig is om 'n nuwe taal aan
te leer. Dit is 'n heterogene en baie wye groep leerders: Engelstaliges,
leerders met verskeie Afrikatale as moedertaal (byvoorbeeld Sothosprekers
in die Vrystaat) en selfs immigrante (byvoorbeeld Chinese wat aan
privaatskole leer).
Tekste vir die leesboek moet
dus "maklik" wees: goeie en interessante stories
waarmee leerder in Grade 4-6 (hulle ouderdom is 10-14 jaar) kan
identifiseer, vol kleurryke karakters, met sterk spanningslyne en
vol verrassings - maar "maklik" in die sin dat dit nie
onnodig moeilike taal gebruik nie. Alhoewel ons ook leerders se
woordeskat wil verbeter, moet die taal nie so 'n groot uitdaging
wees dat dit die lekkerte van die leeservaring oorskadu nie.
Die leesboeke sal bestaan uit
verskillende soorte tekste - hoofsaaklik fiksie, maar ook
'n klein deel nie-fiksie:
- kort kortverhale (ongeveer
800 woorde, tot maksimum 1000 woorde / vier A5-bladsye) in verskeie
genres (spanningsverhale, speurverhale, rillers en grillers, avontuurverhale,
liefdesverhale, sprokies, fabels, volksverhale, wetenskapsfiksie,
grafiese verhale soos strokies en spotprente, ens.) en oor enige
onderwerp: enigiets wat sal inpas in die leefwêreld van
hierdie jong lesers;
- gedigte: kort tot langer
gedigte (maksimum lengte is een A5-bladsy) wat veral vol pret
is (dus eerder ligte as swaar temas); en gedigte wat steeds "goeie"
gedigte is (byvoorbeeld vol gevoelstaal en wat verskeie stylfigure
gebruik), maar wat maklik en toeganklik ervaar sal word deur hierdie
leerders wat Afrikaans aanleer;
- kort dramatekste / dialoog: kort
tekste wat as goeie voorbeelde kan dien van die genre drama, met
dialoog en ander teksaspekte van drama;
- nie-fiksie: tekste
oor feite en geite en vreemde en nuwe goeters wat binne die leefwêreld
van 10-14 jariges sal inpas en vir hul interessant sal wees. Dit
kan interessant aangebied word as raaisels, vrae en antwoorde,
ontdekkingsreise, ens.
Kobus Geldenhuys tree op as
samesteller van die leesboeke. Daar word drie leesboeke gemaak,
een vir elke graad: Leesboek Graad 4, Leesboek Graad 5 en Leesboek
Graad 6. Die aantal bladsye per boek is ongeveer 80 bladsye. Die
moeilikheidsgraad van die tekste sal effens (maar subtiel) toeneem
tussen Graad 4 en Graad 6.
Ons nooi alle skrywers, voorheen
gepubliseer of ongepubliseer, om tekste voor te lê vir oorweging.
Skrywers wie se materiaal gekies word, sal vergoed word by
wyse van proporsionele tantieme tot die geheel van die bundel. Hierdie
metode is die beste wyse van finansiële vergoeding op die langtermyn.
As leesboek wat die potensiaal het om nasionaal voorgeskryf te word
(wat landswyd deur skole aangekoop en gebruik kan word), hou dit
die belofte van goeie inkomste vir bydraende skrywers in.
Die leesboek sal in volkleur gepubliseer word en
tekste sal geïllustreer word deur verskeie talentvolle kunstenaars
/ illustreerders. Die formaat is A5.
Aangesien die datum vir voorlegging vinnig nader,
en die hele produksieproses (redigering, illustrasies, uitleg en
druk) nog voorlê, is die sperdatum vir bydraes belangrik en
vinnig.
Sperdatums:
- Die eerste sperdatum is Maandag 14 November 2011 - hierdie datum
is gerig op bydraes vir die Graad 4 Leesboek.
- Die tweede en finale sperdatum, gerig op bydraes vir die Graad
5 en Graad 6 Leesboeke, is Maandag 28 November 2011.
Bydraes sal onmiddellik gekeur en geplaas word waar dit die beste
inpas (tussen Grade 4 tot 6).
Merk asseblief die bydraes deur aan te dui op watter vlak (Graad
4 / 5 / 6) dit gerig is.
Bydraes kan gestuur word
aan:
Kobus Geldenhuys by gelden@iafrica.com.
Die verantwoordelike uitgewer is Dr Rudi MR Venter.
Vir navrae kan hy gekontak word by rudi.venter@viaafrika.com.
Ons sien uit om jou bydrae te ontvang.
Kobus Geldenhuys
(Samesteller: Via Afrika EAT Leesboeke Grade 4 / 5 / 6)
2011-11-07
|