Werfjoernaal
 
2017-11

werfjoernaal
argief



Sanlampryse vier 2017 se beste plaaslike jeugboeke

Sanlam en Tafelberg, ’n druknaam van NB-Uitgewers, kondig met trots die wenners van die 2017-Sanlampryse vir Jeuglektuur aan. Die wenboeke, wat die ryke verskeidenheid en talent in plaaslike jeugliteratuur bevestig, is gisteraand, 7 November 2017, in Johannesburg bekroon.

Die Sanlampryse word tweejaarliks toegeken vir nuwe manuskripte. Vir vanjaar se kompetisie is ’n rekordgetal van 134 inskrywings ontvang in die drie kategoriee – Afrikaans (33 inskrywings), Engels (55 inskrywings), Afrikatale (46 inskrywings in agt tale). Twee wenners (goud en silwer) is in elke kategorie aangewys. Prysgeld van altesaam R90 000 is toegeken nadat Sanlam die prysgeld tot R20 000 vir goud en R10 000 vir silwer in elke kategorie verhoog het.

Die ses wentitels sluit verhale in oor mishandeling, kuberboelies, die disintegrasie van gesinne, oorlewing in ’n post-apokaliptiese Suid-Afrika en verbode liefde, en weerspieël uitdagings waarmee jong mense van vandag worstel en kan identifiseer. Die 2017-wenners is:

Afrikaans

  • Carin Krahtz, skrywer van die gewilde Elton April-jeugverhale, wen goud vir Blou is nie ’n kleur nie, ’n storie oor die disintegrasie van ’n disfunksionele voorstedelike gesin in Pretoria, gesien uit die oogpunt van die 16-jarige Vicky. Die beoordelaars het Blou is nie ’n kleur nie beskryf as ’n universele verhaal “wat jou op die krop van jou maag slaan”, maar wat getemper word met skerpsinnige dialoog en humor. Carin woon in Centurion.
  • Jan Vermeulen kry silwer for Soen, ’n speurverhaal “wat die leser deurgaans op die punt van sy stoel hou”. Dit gaan oor ’n gewilde en begaafde hoofseun wie se ongesonde obsessie met ’n jong onderwyseres hom amper sy lewe kos. Vermeulen het in 2002 goud gewen vir Geraamtes dra nie klere nie. Jan woon in Dispatch.

Engels

  • Lesley Beake wen goud vir Hap, wat deur die keurders beskryf is as “’n goed gestruktureerde, pragtige grootwordroman”. Dit vertel die verhaal van ’n probleemtiener wat van New York na Suid-Afrika kom om tyd deur te bring saam met haar pa, wat besig is met argeologiese opgrawings aan die Kaapse weskus. Hier identifiseer sy met die fossiel van ’n jong vrou wat sy Hap noem. Lesley woon in Stanford.

  • Jayne Bauling wen silwer vir New Keepers, wat volgens die keurders “die gevoel gee van ’n Lauren Beukes-roman gekruis met Hunger Games”. Dit speel af in ’n post-apokaliptiese toekoms en volg die wel en wee van ’n seun wat ’n reis na die Wildlands adverteer vir diegene wat avontuur soek. Bauling het in 2013 goud gewen vir Dreaming of Light. Jayne woon in Witrivier.

Afrikatale

  • Goud is toegeken aan die Zoeloeskrywer Dumisani Hlatswayo vir Imibala Yothando (“die kleure van liefde”), wat deur die keurders beskryf is as “’n onneersitbare verhaal van liefde, verraad, jaloesie en grootword in die sosialemedia-era”. Die hoofkarakter, Sinenhlanhla, word na ’n nuwe skool in Soweto gestuur waar sy deur ’n kuberboelie geteister word. Dumisani woon in Somerset-Oos.
  • ’n Debuutskrywer, Lebohang Pheko, wen silwer vir Mamello (Sesotho). Mamello is ’n jong meisie wie se ouers haar verbied om skool toe te gaan, maar wat daarvan droom om ’n menseregteprokureur te word. Dié boek is deur die keurders beskryf as “’n perfekte verhaal van hoe ’n mens teëspoed in die lewe te bowe kan kom”, met die krag van onderwys en vergifnis as hooftemas. Lebohang woon in Virginia.

Die wenmanuskripte is deur Tafelberg ontwikkel en uitgegee, in sowel gedrukte as e-boekformaat. Manuskripte is anoniem gekeur sodat debuutskrywers op ’n gelyke voet met gevestigde skrywers kan meeding.

250 woorde per dag

Om die kompetisie meer toeganklik te maak vir jong en opkomende skrywers, en hulle te motiveer om hul manuskripte van 25 000 woorde betyds te voltooi, kon aspirantskrywers deelneem aan Sanlam se “250 woorde per dag”-veldtog op Facebook. Hier is hulle aangemoedig om 250 woorde per dag te skryf, waarna hulle terugvoering ontvang het van bekende skrywers wat as mentors opgetree het.

“Die veldtog het die kompetisie nie net meer interaktief gemaak en ons ’n wyer gehoor laat bereik nie, maar ook daartoe bygedra dat ons 60 inskrywings meer as vir die vorige kompetisie ontvang het,” sê Michelle Cooper, uitgewer van kinder-en-jeugboeke by Tafelberg. “’n Ongelooflike 48 inskrywings is van debuutskrywers ontvang, wat die sukses van die Facebook-veldtog onderstreep.”

Sedert die Sanlampryse in 1980 die eerste keer toegeken is, is nagenoeg 80 inskrywings vir skole voorgeskryf. “Dit bevestig die waarde van die kompetisie vir die ontwikkeling van plaaslike jeuglektuur van gehalte,” sê Cooper. Op die lang lys van voorgeskrewe wentitels is onder meer Praise Song deur Jenny Robson, Kungasa Ngifile deur E.D.M. Sibaya, Leba Seipone deur Kabelo Duncan Kgatea, SuperZero deur Darrel Bristow-Bovey en Hoopvol deur Derick van der Walt. Rolprente is ook van sommige titels gemaak, soos Lien se lankstaanskoene deur Derick van der Walt en Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom deur Marita van der Vyver.

Die pryse is oorhandig deur Lebogang Monyatsi, hoof van groepmarkontwikkeling en belanghebbende-betrekkinge by Sanlam, en Eloise Wessels, besturende direkteur van Media24 Boeke, waarvan NB-Uitgewers en Tafelberg deel uitmaak.

“Ons is bevoorreg en trots om deel te wees van hierdie wonderlike inisiatief van Sanlam om nuwe skryftalent te ontwikkel en letterkunde van gehalte vir jeuglesers in al ons amptelike tale te skep,” sê Eloise Wessels. “Min dinge is so die moeite werd as om dit vir jong mense moontlik te maak om boeke oor hul eie werklikhede in hul eie taal te kan lees. Daarby speel dit ook ’n groot rol in die bevordering van geletterdheid en ’n liefde vir boeke, wat lewenslank vrugte dra.”

Die prysfunksie, wat by Exclusive Books in Hyde Park, Johannesburg, gehou is, was ook gemik op jong mense. Uittreksels uit die wentitels is deur leerders van St Mary’s School, Waverley voorgelees, en die Amazwi-koor van die St Stithians Girls’ College het opgetree. Ook teenwoordig was hoofde van Sanlam se Blue Ladder-skole, wat elk eksemplare van die wentitels ontvang het.

Inskrywings ingewag
Inskrywings word nou ingewag vir die 2019-Sanlampryse vir Jeuglektuur. Inskrywingsvorms is beskikbaar by www.nb.co.za en die sluitingsdatum is 5 Oktober 2019.

Medianavrae:
Hevette le Grange
Reklamekoördineerder: Woordeboeke en kinder- en jeugboeke
021 406 3414 / 083 234 5774
hevette.legrange@nb.co.za

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016