Werfjoernaal
 
2002-04-01

werfjoernaal
argief



ATKV-kinderboektoekennings vir 2002

Die wenners van die ATKV-kinderboektoekennings word jaarliks deur kinders self aangewys en maak hierdie toekenning uniek.

In die Kategorie ses tot sewe jaar is twee toekennings gemaak naamlik aan Martie Preller vir Die Balkieboek (Human en Rousseau), en vir Rina Coetzee vir haar illustrasies in Die mossie met die spiere (LAPA Uitgewers). In die Kategorie agt tot nege jaar ontvang Ewald van Rensburg 'n toekenning vir sy boek Nog 30 stories vir jong-ore (Lux Verbi BM). Die Kategorie vir tien tot twaalfjariges palm Hannes Smit die toekenning in vir Ans se geheim (Maskew Miller Longman). Jan Vermeulen ontvang die ATKV-Kinderboektoekenning vir sy boek Geraamtes dra nie klere nie (Tafelberg) in die Kategorie vir dertien tot vyftienjariges.

'n Totaal van twintig boeke, soos verskaf deur vyf uitgewers, het vanjaar meegeding.

Die ATKV-Kinderboektoekenning word reeds twaalf jaar lank toegeken en sowat 1000 kinders en twintig openbare biblioteke het landwyd in hierdie projek gedeel.

Die ATKV-Prosaprys van R22 000 is vanjaar toegeken aan Erika Murray-Theron vir haar roman, Sê Maria, wat verlede jaar by Tafelberg verskyn het. Dit is die verhaal van ses geslagte se lief en leed, wat vertel word nadat Maria 'n koerantberig oor 'n hooggeplaaste swart vrou gelees het.

Hierdie prys word jaarliks toegeken aan die beste en gewildste Afrikaanse prosawerk wat in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Die ATKV-Prosaprys word reeds sedert 1984 toegeken en skrywers soos Dalene Matthee, Etienne van Heerden, Jan van Tonder, Riana Scheepers, Marita van der Vyver, Corlia Fourie en Deon Meyer is van die vorige wenners.

 

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.
Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2005