|
Die sewende Klein Karoo Nasionale Kunstefees is vanjaar
bevoorreg om Piet Grobler, een van die land se veelsydigte en gewildste
kunstenaars, as amptelike feeskunstenaar te hê.
Sedert 1996 vereer die KKNK jaarliks 'n kunstenaar
op hierdie wyse. Die eer het al kunstenaars soos Jan Vermeieren,
Hardy Botha, Eric Laubscher, Willie Bester en Wendy Malan te beurt
geval.
Piet Grobler het sedert hy in 1996 voltyds 'n kunstenaar
geword het, diep in die harte bekruip van mense wat sy illustrasies
geniet en bewonder in tydskrifte soos Insig, De Kat, Sarie en Sunday
Times. Hy het ook al vele jong lesers met sy kinderboekillustrasies
betower.
Grobler se bydrae tot die KKNK-fees is 'n voortsetting
van 'n idee waarmee hy in Augustus 2000 met groot sukses gewerk
het tydens 'n uitstalling in die kunsgalery van die Universiteit
van Stellenbosh.
Hy wil 'n week voor die fees saam met kinders van
die Oudtshoorn-omgewing aan 'n installasie van 'n "driedimensionele
illustrasie" begin werk. Die meelewing van die plaaslike gemeenskap
kom ooreen met die KKNK-feesdireksie se missie van gemeenskapsbetrokkeneheid
en -ontwikkeling.
Die inspirasie vir Grobler se projek is erg kosmopolisites:
'n Kinderboek deur 'n Italiaanse skrywer van 'n Chinese sprokie
wat Grobler onlangs vir 'n Nederlandse uitgewer geïllustreer
het.
"Die doel is om boeke lewendig te maak vir kinders,"
sê Grobler. "'n Bonus is dat kinders wat nie gewoonlik
aan die fees deelneem nie, aan 'n kreatiewe proses meedoen."
Die kleinspan sal in 'n slypskoolopset Grobler help
om reusefantasieplante en -diere te skep en te versier. Wanneer
die fees op 7 April begin, sal 'n installasie in verskillende mediums
besokers begroet - 'n ruimte vol kleurryke driedimensionele plante
wat oud en jonk op 'n verbeeldingsvlug soos min sal neem.
Grobler voel sterk daaroor dat kinders van jongs af
aan kuns blootgestel moet word. "Mense kla oor die skrale belangstelling
in die kunste, maar daar word bitter min gedoen om die gehoor van
môre voor te berei.
"'n Goeie prenteboek is die eerste kunsgalery
waardeur 'n kind stap," beskryf Grobler die belang van sy werk
as kinderboekillustreerder.
Besoekers sal ook van Grobler se jongste kunswerke
kan besigtig.
Grobler het al reg oor die land uitstallings gehou
en ook verskeie pryse vir sy illustrasies by internasionale uitstallings
gewen.
Ter plaatse het hy die Akademie vir Wetenskap en Kuns
se Tienie Holloway-prys in 1997 ontvang vir sy bydrae tot kinderboeke
sowel as 'n Mondi Paper-prys vir die gewilde strokiesprent wat hy
saam met Philip de Vos doen.
Grobler is vaardig in verskeie mediums - van water-,
akriel- en olieverf tot rekenaargrafika, syskerm- en etswerk.

(Berig
het oorspronklik verskyn in die KKNK se bylae tot Nasionale Koerante
Februarie 2001)
Piet Grobler is die skepper van Storiewerf
se woordvrate.

|