|
Tafelberg-Uitgewers en Sanlam het onlangs die name
van die finaliste bekend wat om die tweejaarlikse Sanlam-prys vir
Jeuglektuur meeding.
Hierdie kompetisie het al oor die jare verskeie jong
skrywers se loopbane 'n hupstoot gegee en ook 'n belangrike rol
in die ontwikkeling van 'n inheemse jeugliteratuur gespeel. Dit
is die tiende keer dat dit plaasvind, en daar is vier kategorieë:
Afrikaans, Engels, Nguni-tale en Sotho-tale.
Vir hierdie jaar se wedstryd is skrywers gevra om
'n jeugverhaal te skryf wat die leser positief stem. 'n Totaal van
109 inskrywings is van oor die hele land ontvang, en 'n paar selfs
vanuit die buiteland. In die kategorie vir Afrikaanse jeuglektuur
was daar 36 inskrywings.
Die finaliste is: Carina Diedericks-Hugo, Helena
Hugo, Anlen Marais, Marita van der Vyver, Jan Vermeulen en George
Weideman. Die finaliste in die ander kategorieë is: Engels
- Sarah Britten, Pat Hopkins, Peter Slingsby, Gail Smith, Sue Taylor
en Jackie van Stryp. Nguni-tale - Mqhubi Given Mdliva, Dumisani
Sibiya en Zibele Sisusa. Sotho-tale - Kabelo Kgatea, OM Ntshabele
en Simon Seabelo.
Die name van die wenners sal by 'n glansgeleentheid
op die aand van Donderdag 31 Oktober 2002 bekend gemaak word.
In elke kategorie word R8 000 toegeken vir die eerste
plek (Goud) en R4 000 vir die tweede plek (Silwer). Die wenboeke
word by dieselfde geleentheid deur Tafelberg vrygestel.
Die vorige keer was die wenners in die Afrikaanse
kategorie Jan Vermeulen (Goud) met Geraamtes dra nie klere nie en
Rena Schüler (Silwer) met Die somervakansie wat te lank was.
Eersgenoemde boek het sedertdien ook die MER-prys vir Jeuglektuur,
die ATKV-kinderboektoekenning en die Scheepers-prys vir Jeuglektuur
verower.

|