|
Marita van der Vyver is die wenner van die Afrikaanse
afdeling van vanjaar se Sanlam-prys vir jeuglektuur.
Die pryse is pas op die Kanu-landgoed naby Stellenbosch oorhandig.
Van der Vyver se jeugroman Die ongelooflike avonture van Hanna
Hoekom het haar die goue prys van R8 000 besorg. Geen silwerprys
is in die Afrikaans-kategorie toegeken nie.
Die ander finaliste vir Afrikaans was Carina Diedericks-Hugo, Helena
Hugo, Anlen Marais, Jan Vermeulen en George Weideman. Vermeulen
en Weideman is vorige wenners van die prys.
Peter Slingsby het met Jedro's bane die goue prys in die
Engels-kategorie gewen en Sarah Britten met Welcome to the Martin
Tudhope show die silwer. Slingsby het die prys ook in 1996 gewen
met The joining, en dit is ook die tweede keer dat Britten
die silwerprys kry. In 2000 het sy dit ontvang vir The worst
year of my life, so far.
In die kategorieë vir Nguni- en Sotho-tale is net silwerpryse
(R4 000) toegeken. Die Nguni-wenner is Dumisani Sibiya, 'n dosent
in Afrika-letterkunde aan Wits, met sy Zoeloe-roman Kungasa ngifile
(Oor my dooie liggaam), en die Sotho-wenner is Kabelo Kgatea, kommunikasiebeampte
in Rustenburg, met Lebo seipone (Kyk in die spieël).
Kgatea, wat in Tswana skryf, het die prys ook in 2000 gewen met
Njeng manong fa sule! (Verslind my, aasvoëls, wanneer
ek dood is!). Dié boek is ook met die M-Net-boekprys bekroon.
Vanjaar is gevra vir 'n jeugverhaal wat lesers positief stem, en
109 inskrywings is ontvang: 36 in Afrikaans, 43 Engels, 17 in Sotho-tale
(8 Tswana, 5 Suid-Sotho, 4 Noord-Sotho) en 13 in Nguni-tale (7 Zoeloe,
5 Xhosa en 1 Siswati). Die inskrywings in Afrika-tale het sterk
toegeneem - in 2000 was daar net 8 in Sotho-tale en 4 in Nguni-tale.
Een van die beoordelaars in die Afrikaans-afdeling, Linda Rode,
het in haar commendatio Die ongelooflike avonture van Hanna Hanekom
bestempel as 'n boek "wat jou van die eerste bladsy af lok
met 'n tintelende belofte van nog véél meer".
Volgens Rode getuig die boek "van 'n skrywer wat midde-in
die werklikheid van die moderne lewe staan en wat die uitsonderlike
gawe besit om ook potensieel negatiewe temas met patos en balans
uit te beeld; belangriker nog, met skrywersverantwoordelikheid".
Die tema vir 2004 se Sanlamprys is ook aangekondig - dit moet verhale
wees waarin musiek 'n rol speel.

|